JEREMIA 51:54-64

JEREMIA 51:54-64 AFR83

Daar word om hulp geroep uit Babel, daar klink harde smartkrete uit Galdeërland, want die Here verwoes Babel en maak 'n einde aan sy geraas. Soos groot waters sal die golwe van sy vyande teen hom aangedreun kom en sal hulle krygsgeskreeu weerklink. Ja, daar trek 'n verwoester op teen hom, teen Babel, en sy soldate word gevange geneem, hulle boë stukkend gebreek, want die Here is 'n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf. Ek sal sy amptenare, sy raadgewers, sy goewerneurs, sy offisiere, sy soldate dronk laat word, en hulle sal vir altyd aan die slaap raak sonder om wakker te word, sê die Koning. Sy Naam is die Here die Almagtige. So sê die Here die Almagtige: Die dik vestingmuur van Babel sal gesloop word, sy hoë poorte sal afgebrand word: mense het geswoeg vir niks, nasies het hulle afgesloof vir iets wat vir die vuur bestem is. Die opdrag wat die profeet Jeremia aan Seraja seun van Nerija, seun van Magseja, gegee het toe hy saam met koning Sedekia van Juda in sy vierde regeringsjaar na Babel toe vertrek het; Seraja was kwartiermeester, en Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, alles wat oor Babel neergeskryf was, in een boekrol opgeskryf en vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles hardop lees en sê: ‘Here, U het van hierdie plek gesê dat U hom so sal verwoes dat geen mens of dier weer in hom sal woon nie en dat hy altyd verlate sal wees.’ “Wanneer jy hierdie boekrol klaar hardop gelees het, moet jy 'n klip aan hom vasbind en hom in die Eufraat gooi en sê: So sal Babel wegsink en nie opkom nie as gevolg van die onheil wat Ek oor hom bring; sy inwoners het hulle afgesloof vir niks, sê die Here.” Tot sover die woorde van Jeremia.