JEREMIA 51:1-53

JEREMIA 51:1-53 AFR83

So sê die Here: Ek laat 'n verwoestende wind oor Babel waai en oor die inwoners van Leb-Kamai . Ek stuur mense om Babel uit te skud, hulle sal sy land leegstroop wanneer hulle hom van alle kante af bestorm die dag as die ramp losbreek. Moenie die boogskutters van Babel kans gee om hulle boë te span of hulle harnasse aan te trek nie! Moenie jammer wees vir sy jongmanne nie, roei sy hele leër uit! Galdeërland sal vol dooies lê, sy strate vol gesneuweldes. Israel en Juda is nie alleen nie, nie sonder sy God, nie sonder die Here die Almagtige nie. Galdeërland het hom vergryp teen die Heilige van Israel. Vlug uit Babel uit, red julleself, moenie deur sy sonde omkom nie! Die tyd is daar dat die Here Hom wreek, dat Hy Babel sy verdiende loon laat kry. Babel was 'n goue beker in die hand van die Here, 'n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword. Babel kom skielik tot 'n val, hy stort ineen! Huil oor hom, gaan haal balsem vir sy wonde, miskien word hy gesond! Ons het Babel gedokter, maar hy het nie gesond geword nie. Gee pad uit hom, kom ons gaan elkeen na sy land toe, want die straf wat hom tref, strek tot aan die hemel, reik tot by die wolke. Die Here het vir ons redding gebring; kom ons gaan vertel in Sion wat die Here ons God gedoen het. Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die Here het die konings van Medië in beweging gebring, want Hy het besluit dat Babel verwoes moet word. Die Here gaan Hom wreek oor wat met sy tempel gebeur het. Steek 'n vaandel op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, stel hinderlae op, want die Here gaan sy besluit uitvoer, Hy gaan met die inwoners van Babel doen wat Hy gesê het. Jy wat langs die baie waters woon, met jou baie skatte, jou einde het gekom, jou lewensdraad word geknip. Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê by Homself: Ek laat die vyande soos sprinkane op jou toesak, en hulle sal met 'n geskreeu die oorwinning oor jou vier. Dit is die Here wat met sy krag die aarde gemaak het, wat met sy wysheid die wêreld gevestig het en met insig die hemel oopgesprei het. Wanneer Hy sy stem laat hoor, druis die water in die hemel; Hy laat die mis opstyg van die eindes van die aarde af, Hy laat die weerlig slaan wanneer dit reën, Hy laat die wind uit sy voorraadskure uitkom. Dan sien elke mens hoe dom, hoe sonder kennis hy is; dan staan elke goudsmid verleë met sy afgodsbeeld, want sy beeld is bedrog, daar is geen lewe in nie. Hulle is nikswerd gode, voorwerpe van spot, hulle vergaan as die tyd van afrekening kom. Die God van Jakob is nie soos hulle nie, Hy is die Skepper van alles en almal. Daar is 'n volk wat aan Hom behoort. Die Here die Almagtige is sy Naam. Jy was my hamer, Babel, my oorlogswapen; Ek het nasies met jou verslaan, Ek het koninkryke met jou vernietig; Ek het perde en ruiters met jou verslaan, Ek het strydwaens en bemannings met jou verslaan, Ek het mans en vrouens met jou verslaan, oumense en jongmense, jongmanne en jongmeisies, herders en kuddes, boere en trekdiere, goewerneurs en gesagdraers. Maar Ek sal Babel en al die inwoners van Galdeërland laat boet vir al die kwaad wat hulle voor julle oë in Sion aangerig het, sê die Here. Ek gaan teen jou optree, verwoestersberg, sê die Here, jy wat die hele aarde verwoes het; Ek gaan my hand teen jou uitsteek en jou van die rotse afrol; Ek maak jou 'n uitgebrande berg. Mense sal nie uit jou 'n hoekklip kom vat of 'n fondamentklip nie; jy sal altyd verlate lê, sê die Here. Hou 'n vaandel op oor die aarde, blaas die ramshoring onder die nasies, maak hulle gereed om Babel aan te val, roep koninkryke teen hom op: Ararat, Minni en Askenas; benoem 'n bevelvoerder vir die aanslag, bring perde soos sprinkaanswerms! Maak die nasies gereed om Babel aan te val, maak gereed die konings van Medië, sy goewerneurs, sy hoë amptenare, en al sy onderhorige lande. Die land skud en bewe, want wat die Here teen Babel besluit het, staan vas: om die gebied van Babel 'n verlate plek te maak, sonder inwoners. Babel se soldate het opgehou veg, hulle sit in die vestings, hulle krag is weg, hulle is soos vrouens; sy woonhuise word afgebrand, sy sluitbalke word gebreek. Die een hardloper na die ander hardloop, die een boodskapper na die ander, om vir die koning van Babel te sê dat sy stad heeltemal ingeneem is, dat die brûe beset is, dat die riete langs die rivier brand en dat die soldate paniekbevange is. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Babel is soos 'n dorsvloer, en die tyd is daar dat hy vasgestamp moet word; nog net 'n rukkie, dan is die tyd daar dat die graan op hom uitgedors word. Koning Nebukadnesar van Babel het ons opgevreet, ons verteer, ons 'n leë kruik gemaak; soos 'n monster het hy ons ingesluk en hom dik gevreet, hy het ons leeggedrink en weggestoot. Dié wat in Sion woon, sê: “Babel moet gestraf word vir die geweld wat ons aangedoen is, vir die verminking.” Jerusalem sê: “Die inwoners van Galdeërland moet gestraf word vir ons bloed wat vergiet is.” So sê die Here: Ek sal vir julle reg opkom, Ek sal Babel straf vir wat jou aangedoen is: Ek sal sy baie water laat opdroog, ook die plek waar die water vandaan kom. Babel sal 'n puinhoop word, 'n blyplek vir jakkalse, 'n verlate plek waaroor mense fluit van verbasing, 'n plek sonder inwoners. Sy inwoners brul nou almal soos leeus, hulle knor soos leeuwelpies, maar terwyl hulle so humeurig is, sit Ek vir hulle 'n feesmaal voor en maak Ek hulle so dronk dat hulle eers jolig raak en dan vir altyd aan die slaap raak sonder om wakker te word, sê die Here. Soos lammers, soos skaapramme en bokramme vat Ek hulle na die slagplek toe. Sesak , so beroemd oor die hele aarde, is verower, is ingeneem! Babel het 'n verlate plek geword in die volkerewêreld! Die waters het oor Babel gestroom, hy is bedek deur bruisende golwe. Sy stede lê verlate, sy land is 'n dor, droë vlakte; daar woon geen mens nie en niemand gaan daar langs nie. Ek gaan vir Bel straf in Babel, Ek sal hom laat opbring wat hy ingesluk het, en nasies sal nie meer na hom toe stroom as ballinge nie. Babel se mure sal val; kom uit hom uit, my volk, red julleself voordat my gloeiende toorn teen hom losbreek. Moenie moed verloor en bang word wanneer daar gerugte rondgaan in die land nie: daar kom jaar vir jaar gerugte. Daar sal geweld in die land losbreek, regeerders sal mekaar beveg, maar die tyd kom dat Ek afreken met Babel se afgode, dat sy hele land verslaan sal wees, sy dooies oral in hom rondlê. Hemel en aarde en alles in hulle sal juig oor Babel se val, want dié wat hom sal verwoes, is aan die kom uit die noorde, sê die Here. Deur Babel se toedoen het mense oor die hele aarde gesneuwel, en so sal hý sneuwel oor dié wat van Israel gesneuwel het. Julle wat aan die swaard ontkom het, gee pad, moenie staan nie! Dink daar uit die verte aan die Here, hou Jerusalem in gedagte. Ons is verneder en beledig, daar het skande oor ons gekom, want vreemdes het ingestap in die gewyde gebied van die huis van die Here. Daarom kom die tyd, sê die Here, dat Ek met Babel se afgode sal afreken: die gewondes sal kerm dwarsoor sy land. Al word Babel hemelhoog, al versterk hy sy hoë vestings ook hoe, Ek stuur verwoesters na hom toe, sê die Here.