Die HERE sê:
“Ek sal ’n verwoester aanhits
teen Babel
en die inwoners
van Babel.
Ek stuur vreemdelinge na Babel
wat hulle sal verstrooi.
Op die noodlottige dag
sal hulle Babel van alle kante af
aanval,
en hulle sal die land kaal steel.
Moenie die boogskutters
kans gee om hulle boë te span
of hulle gevegsklere
aan te trek nie.
Moenie die jongmense spaar nie.
Nee, roei die hele leër uit!
Hulle sal dood neerval in Babel
of dodelik gewond
in die strate lê.
Want Ek het Israel en Juda
nie in die steek gelaat nie.
Al is hulle land vol oortredings
teen die Heilige van Israel,
is Ek steeds hulle God,
die HERE, die Almagtige.”
Vlug uit Babel!
Red julleself!
Moenie dat Babel se sonde
julle vernietig nie!
Dit is die tyd
van die HERE se wraak,
Hy gaan die stad
nou terugbetaal.
Babel is ’n goue beker
in die HERE se hande.
Die hele wêreld drink daaruit
en word dronk.
Die nasies drink van die wyn
en verloor hulle verstand.
Skielik het Babel nou ook geval
en is verwoes.
Huil oor die stad!
Gee vir haar medisyne,
miskien is daar genesing.
Ons sou die stad help
as ons kon,
maar niks kan Babel
nou meer genees nie.
Vergeet van die stad!
Laat elkeen na sy eie land
teruggaan!
Die oordeel oor die stad
reik tot by die hemel,
styg tot by die wolke.
Die HERE het
ons onskuld bewys.
Kom ons vertel in Jerusalem
wat die HERE ons God
gedoen het.
Maak julle pyle skerp!
Neem julle skilde op!
Want die HERE het die gedagte
by die koning
van die Mediërs
laat posvat
om op te trek
teen die Babiloniërs
en hulle te vernietig.
Dit is hoe die HERE wraak neem,
Hom wreek oor sy tempel.
Lig die vlag
om die mure van Babel
aan te val.
Versterk die wagposte!
Plaas wagte oral uit!
Stel hinderlae op!
Die HERE het ’n plan
met die Babiloniërs,
Hy voer dit uit!
Julle woon langs baie water.
Julle is skatryk.
Maar julle einde het aangebreek,
julle lewensdraadjie is geknip!
Die HERE, die Almagtige,
sweer by Homself:
“Julle vyande sal oor julle spoel
soos ’n swerm sprinkane
in ’n koringland.
Hulle sal die oorwinning oor julle
uitskreeu.”
HERE
Deur sy krag het Hy
die aarde gemaak,
deur sy wysheid
die wêreld tot stand gebring.
Deur sy insig het Hy
die hemel uitgestrek.
As Hy praat, is daar
donderweer in die hemel.
Hy laat die wolke opstyg
oor die aarde.
Hy laat die weerlig blits
as dit reën.
Hy laat die wind
uit sy stoorkamers kom.
In vergelyking met Hom
is elke mens ’n dwaas,
sonder enige kennis!
Goudsmede maak afgodsbeelde,
maar hulle kom in die skande.
Hierdie beelde is ’n leuen,
want hulle haal nie asem nie.
Afgode is eintlik nutteloos,
’n bedrogspul!
As die tyd van afrekening kom,
sal hulle vernietig word.
Maar die God van Israel
is nie so ’n afgod nie.
Hy het alles wat bestaan,
gemaak,
ook sy eie volk,
sy besonderse besitting.
Hy is die HERE, die Almagtige!
“Jy is my hamer,
my oorlogswapen.
Ek gebruik jou
om nasies mee te verpletter
en koninkryke te verwoes.
Ek gebruik jou om perde
en ruiters mee te tref,
ook strydwaens
met hulle bemanning.
Met jou hulp
sal Ek mans en vroue uitwis,
ook oumense en kinders,
jong seuns en meisies.
Ek het jou gebruik om herders
en hulle vee uit te roei,
so ook plaaswerkers
en hulle osse.
Ek sal jou gebruik
om regeerders en amptenare
te vernietig.”
Die HERE sê ook:
“Voor julle oë sal Ek
Babel en die Babiloniërs
terugbetaal
vir al die kwaad
wat hulle aangerig het
in Jerusalem.
Julle sal dit sien gebeur.
Dit kan jy maar weet,
vernietiger van die aarde,
verwoester van die wêreld,
Ek is jou vyand,”
sê die HERE.
“Ek sal teen jou optree,
Ek gooi jou teen die berghange af.
Ek maak jou
’n verskroeide berg.
Jy sal vir altyd verwoes lê.
Niemand sal uit jou rommel
’n klip kan gebruik
vir ’n hoeksteen of ’n steen
vir die fondasie nie,”
sê die HERE.
Hou ’n vaandel op oor die land,
blaas op die ramshoring
onder die nasies.
Berei die nasies voor vir oorlog
teen Babel.
Roep die koninkryke van Ararat,
Minni en Askenas op
teen Babel.
Stel dan ’n bevelvoerder aan
en kom met soveel perde
soos ’n swerm sprinkane.
Bring die leërs
van die konings van Medië,
hulle leiers en die amptenare
en al die lande waaroor hulle
regeer teen hulle.
Die land bewe en krul,
want die plan van die HERE
staan vas teen Babel:
Hy maak Babel ’n verlate plek –
niemand sal daar bly nie.
Die soldate van Babel
veg nie meer nie.
Hulle sit nie ’n voet
uit hulle
versterkte skuilings nie.
Hulle moed is gebreek,
hulle is so bang soos vroue.
Hulle huise is aan die brand,
die stadshekke afgebreek.
Van oral kom
boodskappers aangehardloop
met nuus
vir die koning van Babel:
Die stad is van alle kante af
ingeval!
Al die ontsnaproetes is afgesny,
die versterkings
is aan die brand gesteek,
en die soldate is lam van angs!
Die HERE, die Almagtige,
die God van Israel, sê:
“Babel is soos ’n dorsvloer
waar hulle koring trap.
Binnekort sal Babel se oestyd
aanbreek.”
“Koning Nebukadnesar
van Babel
het ons verteer, verpletter
en al ons kragte getap.
Hy het ons
soos ’n groot monster
ingesluk.
Hy het sy maag vol gemaak
met ons skatte.
Hy het ons uit ons eie land
gegooi.”
Die mense van Jerusalem sê:
“Mag al die geweld
wat ons moes deurgaan,
na Babel terugkom.”
Jerusalem sê:
“Mag die Babiloniërs
die skuld vir ons bloed betaal!”
HERE
Die HERE sê vir Juda:
“Ek sal julle saak behartig
en namens julle wraak neem.
Ek sal Babel se waters
en fonteine laat opdroog.
Babel sal verander
in ’n bouval,
’n lêplek vir jakkalse,
’n plek wat mense
met afgryse en veragting
vervul.
Niemand sal meer
daar woon nie.
Hulle brul saam soos leeus,
grom soos leeuwelpies.
Terwyl hulle nog dronk is
van die wyn,
berei Ek vir hulle ’n ander fees.
Ek sal hulle dronk maak
sodat hulle vrolik kan raak.
Hulle sal aan die slaap raak
en nooit weer
wakker word nie,”
sê die HERE.
“Ek sal hulle
na die slagpale bring
soos lammers, ramme en bokke.
Hoe verskriklik
is die val van Babel,
vroeër geprys deur die wêreld!
Nou sal Babel afstootlik wees
onder die nasies.
Die see het opgestoot
en oor Babel gespoel.
Die stad lê toe onder die golwe.
Babel se stede lê in puin,
’n droë land, ’n woestynland.
Niemand woon meer daar,
of gaan selfs naby verby nie.
Ek sal Bel in Babel straf.
Ek sal hom laat uitspoeg
wat hy ingesluk het.
Die nasies sal hom nie
langer aanbid nie.
Ja, Babel se mure het geval.”
“My volk, maak dat julle
uit Babel wegkom!
Vlug vir julle lewens,
want die HERE se woede gloei!
Moenie angstig raak
as julle in die land
die nuus hoor
van magte wat optrek nie.
Elke jaar is daar sulke stories
in omloop van leiers
wat teen mekaar veg.
Kyk, die tyd kom
dat Ek Babel se afgode
gaan straf.
Die hele land
sal in die skande kom
en lyke sal oral rondlê.
Die hemel en die aarde
en alles daarin
sal sing van blydskap oor Babel,”
sê die HERE.
“Want die leërs
van die verwoestende vyand
sal uit die noorde
teen Babel optrek.
“Babel het baie mense
van Israel
doodgemaak.
Hulle het ook baie ander mense
in die wêreld
doodgemaak.
Nou is dit hulle beurt
om te sterf!
Julle wat die dood
vrygespring het, vlug!
Moenie staan en talm nie!
Al gaan julle na veraf lande,
dink aan die HERE
en aan Jerusalem.”
Julle sê: “Ons is verneder.
Ons is beledig en skaam.
Want vreemdelinge het
die HERE se tempel ontwy.”
Die HERE het geantwoord:
“Die tyd kom
dat Ek Babel se afgode straf.
Gewonde mense sal oral
deur die land kreun.
Al reik Babel tot aan die hemel,
en al is die torings versterk,
nogtans sal die vernietigers
teen die stad optrek,”
sê die HERE.