Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou.
Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here.
Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda. Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê:
Trouelose Israel, kom terug, sê die Here.
Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie,
want Ek is getrou, sê die Here,
Ek bly nie vir altyd kwaad nie.
Erken net jou skuld,
dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het
deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien
en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here.
Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit 'n stad en twee uit 'n familie, en julle na Sion toe bring. Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei. Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal 'n nuwe maak nie. In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie. In daardie dae sal Juda by Israel aansluit en hulle sal saam uit die noordelike landstreek kom na die land wat Ek as besitting aan hulle voorvaders gegee het.
Ek het gesê:
Hoe graag wil Ek jou 'n seun van My maak
en aan jou 'n lieflike land gee,
'n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het.
Ek het gesê: Noem My “Vader”,
en moet nooit weer van My af wegdraai nie.
Maar soos 'n vrou wat ontrou is aan haar man,
so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here.
Hoor hoe smeek en huil die Israeliete op die heuweltoppe,
want hulle het die verkeerde pad geloop,
hulle het die Here hulle God vergeet.
Kom terug, kinders wat afgedwaal het,
Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling.
Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God!
Die lawaai op die heuwels, op die berge,
lewer niks op nie.
Die redding van Israel kom net van die Here ons God af.
Van vroeg af al het die skandegod Baäl die vrug van ons
voorvaders se arbeid verteer, hulle kleinvee en hulle grootvee,
ook hulle seuns en hulle dogters.
Ons wil in die aarde insink oor die skande,
ons wil wegkruip van skaamte,
want ons het teen die Here ons God gesondig,
ons en ons voorvaders,
van ons jeug af tot vandag toe.
Ons was ongehoorsaam aan die Here ons God.