JEREMIA 3:6-25
JEREMIA 3:6-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou. Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here. Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda. Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Trouelose Israel, kom terug, sê die Here. Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie, want Ek is getrou, sê die Here, Ek bly nie vir altyd kwaad nie. Erken net jou skuld, dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here. Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit 'n stad en twee uit 'n familie, en julle na Sion toe bring. Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei. Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal 'n nuwe maak nie. In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie. In daardie dae sal Juda by Israel aansluit en hulle sal saam uit die noordelike landstreek kom na die land wat Ek as besitting aan hulle voorvaders gegee het. Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou 'n seun van My maak en aan jou 'n lieflike land gee, 'n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het. Ek het gesê: Noem My “Vader”, en moet nooit weer van My af wegdraai nie. Maar soos 'n vrou wat ontrou is aan haar man, so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here. Hoor hoe smeek en huil die Israeliete op die heuweltoppe, want hulle het die verkeerde pad geloop, hulle het die Here hulle God vergeet. Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil 'n einde maak aan julle afdwaling. Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God! Die lawaai op die heuwels, op die berge, lewer niks op nie. Die redding van Israel kom net van die Here ons God af. Van vroeg af al het die skandegod Baäl die vrug van ons voorvaders se arbeid verteer, hulle kleinvee en hulle grootvee, ook hulle seuns en hulle dogters. Ons wil in die aarde insink oor die skande, ons wil wegkruip van skaamte, want ons het teen die Here ons God gesondig, ons en ons voorvaders, van ons jeug af tot vandag toe. Ons was ongehoorsaam aan die Here ons God.
JEREMIA 3:6-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die dae van koning Josia het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat die afvallige, Israel, gedoen het? Sy gaan na elke hoë heuwel, en gaan onder elke skaduryke boom in, en daar hoereer sy. Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My terugkeer. Maar sy het nie teruggekeer nie. En die verraderlike, haar suster Juda, het dit gesien. Sy het gesien dat Ek haar suster, die afvallige, Israel, weggestuur het omdat sy egbreuk gepleeg het. Ek het haar skeibrief vir haar gegee. Maar die verraderlike, haar suster Juda, is nie daardeur afgeskrik nie. Ook sy het gegaan en gehoereer. En omdat haar hoerery so ligtelik opgeneem is, het sy die land besoedel. Sy het met klip en hout egbreuk gepleeg. Selfs nieteenstaande dit alles het die verraderlike, haar suster Juda, nie met haar hele hart na My teruggekeer nie, maar met 'n geveins,” is die uitspraak van die HERE. Die HERE het verder vir my gesê: “Die afvallige, Israel, het haarself regverdiger gedra as die verraderlike, Juda. Gaan skreeu hierdie woorde uit na die noorde en sê, ‘Keer terug, afvallige, Israel!’ ” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal nie met 'n stroewe gelaat na julle kyk nie, want Ek is vol troue liefde,” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal nie vir altyd toornig wees nie. Erken net jou sondeskuld, want teen die HERE jou God het jy oortree. Jy het jou paaie in alle rigtings laat loop na vreemdes onder elke skaduryke boom. Na my stem het julle nie geluister nie,” is die uitspraak van die HERE. “Keer terug, afvallige kinders!” is die uitspraak van die HERE, “want dit is Ek wat heer is oor julle. Ek sal julle terugneem, een uit 'n stad en twee uit 'n familiegroep; en Ek sal julle na Sion bring. Ek sal herders na my hart vir julle gee. Hulle sal met kennis en insig aan julle weiding verskaf. En wanneer julle vermeerder en vrugbaar is in die land in daardie dae,” is die uitspraak van die HERE, “sal hulle nie meer sê, ‘Die ark van die HERE se verbond!’ nie. Dit sal trouens nie eers in hulle gedagte opkom nie. Hulle sal nie daaraan dink of dit mis nie. Dit sal ook nie weer gemaak word nie. In daardie tyd sal hulle Jerusalem “die troon van die HERE” noem. By haar sal al die nasies byeenkom ter wille van die Naam van die HERE, ter wille van Jerusalem. Hulle sal nie langer die verstoktheid van hulle bose harte volg nie. In daardie dae sal die huis van Juda by die huis van Israel aansluit, en saam sal hulle uit 'n land in die noorde aankom in die land wat Ek vir hulle voorouers as erfenis gegee het. “ En Ek, Ek het gedink: Hoe kan Ek jou tussen die seuns opneem, vir jou 'n begeerlike land gee – as erfenis die heel beste van die sierade van nasies. Ek het gedink: My Vader sal julle my noem, en van My nie wegdraai nie. Maar soos 'n vrou verraderlik haar minnaar verlaat, so was julle verraderlik teenoor My, huis van Israel,” is die uitspraak van die HERE. 'n Stem klink op langs die woestynpaaie: die gehuil, die smeekbedes van die Israeliete, want hulle het die pad byster geraak, hulle het die HERE hulle God vergeet. “Keer terug, afvallige kinders! Ek sal julle afvalligheid genees.” “Hier is ons, ons kom na U toe; want U is die HERE ons God. Waarlik, die geluide van die heuwels af, die gedreun by die berge, is sinsbedrog. Waarlik, by die HERE ons God lê die verlossing van Israel. Die skande het, van ons jeug af, verteer wat ons voorouers met moeite verwerf het: hulle kleinvee en beeste, hulle seuns en dogters. In ons skaamte wil ons gaan lê; ons vernedering moet ons bedek, want teen die HERE ons God het ons gesondig – ons en ons voorouers – van ons jeug af tot vandag toe. Ons het nie geluister na die stem van die HERE ons God nie.
JEREMIA 3:6-25 Bybel vir almal (ABA)
Dit was die tyd toe Josia koning was. Die Here het vir my gesê: “Het jy gesien wat die mense van Israel gedoen het? Hulle het My verraai. Hulle het afgode gaan dien op elke hoë berg en onder elke groen boom. Ek het gedink hulle sal na My toe terugkom nadat hulle al hierdie dinge gedoen het, maar hulle het nie teruggekom nie. Die ontrou mense van Juda het dit gesien, en hulle het ook afgode gaan dien. Ek het die mense van Israel wat My verraai het, weggejaag soos 'n man vir sy vrou 'n skeibrief gee en haar wegjaag wanneer sy egbreuk gepleeg het. Maar Ek het gesien die ontrou mense van Juda word nie bang nie. Hulle het ook afgode gaan dien. Dit was vir die mense van Israel maklik om afgode te dien. Hulle het die land ontwy en hulle het My gelos om afgode van hout en klip te dien. Toe Ek die mense van Israel weggejaag het, het die ontrou mense van Juda gesê hulle kom terug na My toe, maar hulle het dit nie regtig gedoen nie.” Dit het die Here gesê. Die Here het ook vir my gesê: “Maar die mense van Israel wat My verraai het, was minder skuldig as die ontrou mense van Juda. Jy moet na die noorde kyk en jy moet sê: Die Here sê: Kom terug, mense van Israel wat My verraai het. Ek is nie meer kwaad vir julle nie, Ek wil doen wat Ek belowe het toe Ek 'n verbond gemaak het met julle. Ek sal nie altyd kwaad bly nie. Maar een ding moet julle weet: Julle het sonde gedoen, julle was opstandig teen julle God die Here, julle het gode van ander volke gedien, oral onder elke groen boom, julle was nie gehoorsaam aan My nie.” Dit het die Here gesê. Die Here sê: “Kinders wat My verraai het, julle moet terugkom, julle behoort aan My. Ek sal uit elke stad een van julle neem, en uit elke familie twee, en Ek sal julle na Sion bring. Ek sal vir julle leiers gee, mense wat is soos Ek graag wil hê hulle moet wees. Hulle sal My ken en hulle sal regeer soos Ek wil hê. Wanneer julle in daardie tyd meer word in die land en baie kinders kry, dan sal niemand meer praat oor die verbondskis van die Here nie. Niemand sal daaraan dink nie, niemand sal vra waar dit is nie, niemand sal 'n ander kis wil maak nie. In daardie tyd sal die mense Jerusalem noem ‘Die troon van die Here,’ en al die volke sal bymekaarkom daar waar die Here is, in Jerusalem. Hulle sal nie meer hardkoppig wees nie, hulle sal nie doen wat hulle sondige harte vir hulle sê nie. In daardie tyd sal die volk Juda saam met die volk Israel kom uit die land ver in die noorde. Hulle sal kom na die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het.” Die Here sê: “Ek wou julle aanneem en julle my kinders maak. Ek wou vir julle 'n pragtige land gee wat mooier is as die mooiste lande van ander volke. Ek het gedink julle sal vir My sê: ‘U is ons Vader,’ Ek het gedink julle sal nie weggaan van My nie. Maar, nageslag van Israel, julle was ontrou aan My soos 'n vrou wat ontrou is aan haar man.” Dit het die Here gesê. Hy het gesê: “Ek het gehoor hoe die mense van Israel gehuil het op die heuwels waar nie bome is nie. Hulle het gebid en gevra dat Ek moet luister, want hulle het verkeerd gedoen, hulle het hulle God die Here vergeet. Kinders wat My verraai het, julle moet terugkom. Ek sal julle gesond maak sodat julle My nie weer verraai nie.” Die mense van Israel sê: “Hier is ons, ons kom na U toe, want U is ons God die Here! Ons was baie besig om afgode te dien op die berge, maar dit het ons niks gehelp nie. Nee, dit is net ons God die Here wat vir Israel kan red. Baäl, die god wat nie kan help nie, het van die begin af ons voorvaders se koring-oeste gevat, en ook hulle skape en bokke, hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters. Ons is baie skaam, elke dag en nag, want ons het sonde gedoen teen ons God die Here, ons en ons voorvaders, van die begin af tot nou toe. Ons was nie gehoorsaam aan ons God die Here nie.”
JEREMIA 3:6-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer. En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien. En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het. En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout. Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die HERE. Toe het die HERE vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die HERE. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die HERE; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE. Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit 'n stad en twee uit 'n geslag en sal julle in Sion bring. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand. En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die HERE, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie. In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie. In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het. Ék het wel gedink: O Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee 'n kosbare land, 'n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie. Maar soos 'n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die HERE. 'n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het. Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God. Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die HERE onse God is Israel se heil. Maar die Skandegod het die goed van ons vaders opgeëet van ons jeug af, hulle kleinvee en hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters. Ons wil neerlê in ons skande, en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die HERE onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van die HERE onse God nie.
JEREMIA 3:6-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE het ook vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige Israel gedoen het? sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom geklim, en daar het gehoereer. En ek het gesê nadat sy al hierdie dinge gedoen het: Bekeer u na my. Maar sy het nie teruggekeer nie. En haar verraderlike suster Juda het dit gesien. En ek het gesien toe Ek vanweë al die oorsake waardeur die afkerige Israel owerspel gepleeg het, haar verstoot en haar 'n skeibrief gegee het; maar haar verraderlike suster Juda was nie bang nie, maar het gegaan en ook gehoereer. En dit het gebeur deur die ligtheid van haar hoerery, dat sy die land verontreinig het en egbreuk gepleeg het met klippe en met stokke. Maar oor dit alles het haar verraderlike suster Juda haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar bedrieglik, spreek die HERE. En die HERE het vir my gesê: Die afvallige Israel het haarself meer geregverdig as die ontroue Juda. Gaan roep hierdie woorde uit na die noorde en sê: Keer terug, jy afkerige Israel, spreek die HERE; en Ek sal my toorn oor julle nie laat val nie; want Ek is barmhartig, spreek die HERE, en Ek sal die toorn nie vir ewig bewaar nie. Beken net jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë na die vreemdes verstrooi het onder elke groen boom, en julle het na my stem nie geluister nie, spreek die HERE. Draai om, o afkerige kinders, spreek die HERE; want Ek is met jou getroud, en Ek sal vir jou een uit 'n stad neem en twee uit 'n familie, en Ek sal jou na Sion bring. En Ek sal julle herders gee na my hart, wat julle sal voed met kennis en insig. En as julle vermenigvuldig en vermeerder word in die land, in dié dae, spreek die HERE, sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie; en dit sal nie in hul gedagtes opkom nie; onthou dit; en hulle mag dit nie besoek nie; en dit sal nie meer gedoen word nie. In dié tyd sal hulle Jerusalem die troon van die HERE noem; en al die nasies sal daarby versamel word vir die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel in die versinsels van hul bose hart nie. In dié dae sal die huis van Juda saam met die huis van Israel wandel, en hulle sal saamtrek uit die land van die noorde na die land wat Ek aan julle vaders as erfdeel gegee het. Maar Ek het gesê: Hoe sal Ek jou onder die kinders stel en jou 'n lieflike land gee, 'n pragtige erfdeel van die leërskare van die nasies? en ek het gesê: Jy moet my my vader noem; en sal van my nie afwyk nie. Waarlik, soos 'n vrou troueloos van haar man afwyk, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die HERE. 'n Stem is op die hoogtes gehoor, geween en smekinge van die kinders van Israel, want hulle het hul weg verdraai en die HERE hulle God vergeet. Keer terug, julle afkerige kinders, en Ek sal julle afkerighede genees. Kyk, ons kom na jou toe; want U is die HERE onse God. Waarlik, tevergeefs word gehoop op verlossing van die heuwels en van die menigte van berge; waarlik, in die HERE onse God is die verlossing van Israel. Want skaamte het die arbeid van ons vaders verteer van ons jeug af; hulle kleinvee en hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters. Ons gaan lê in ons skaamte, en ons skande bedek ons; want ons het gesondig teen die HERE onse God, ons en ons vaders, van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie na die stem van die HERE onse God geluister nie.
JEREMIA 3:6-25 Die Boodskap (DB)
In die tyd toe Josia koning in Juda was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat die noordelike koninkryk, Israel, gedoen het? Soos ’n persoon wat ontrou is aan sy huweliksmaat het Israel ander gode begin dien. Op elke hoogte en onder elke groen boom het hulle eer aan hierdie gode gebring. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer aan My lojaal sou wees. Dit het nie gebeur nie. Israel se ontroue suster Juda het alles gesien wat gebeur het. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, ’n skeibrief gegee en haar weggestuur het. Maar dit het geen indruk op Juda gemaak nie. Sy het ook in haar ontrou ander gode begin dien. Israel het niks ernstig opgeneem nie. Dit het haar nie gepla dat haar ontrouheid die land ’n slegte naam gegee het nie. Sy het doodgewoon haar eie kop gevolg en voor vreemde gode neergebuig. Die ergste is dat dit gode was wat met die hand uit hout gesny en uit klip gekap is. Maar na alles wat met Israel gebeur het, het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy was vals en het net gemaak of sy jammer is,” sê die Here. Toe het die Here vir my gesê: “Israel was baie dislojaal aan My, maar wat Juda gedoen het, is baie erger. Maar gaan uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: Israel, sê die Here, jy was dislojaal, maar kom terug na My toe. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Ek hou by my beloftes aan jou. Al wat Ek van jou verwag, is om te erken dat jy verkeerd gedoen het. Jy het teen My, wat die Here jou God is, gerebelleer. Jy het jou onder elke liewe koelteboom voor die gode neergebuig. Jy sal moet erken dat jy nie na My wou luister nie. Dit is wat Ek, die Here, wil hê julle moet hoor. Julle het koers verloor,” sê die Here, “maar kom terug na My toe. Julle behoort aan My. Wat Ek sal doen, is om hier een mens uit ’n stad en daar twee uit ’n familie te vat en julle na Jerusalem toe terug te bring. Ek sal vir julle nuwe leiers gee van wie Ek hou. Omdat hulle verstandig sal wees, sal hulle julle goed kan lei.” Die Here sê wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer uitroep: “O, daar is die ark wat wys dat daar ’n ooreenkoms tussen die Here en ons is” nie. Om die waarheid te sê, niemand sal eens daaraan dink, daaroor praat of dit eens mis nie. Wat nog ’n nuwe een maak! Dit sal die tyd wees wanneer mense na Jerusalem sal kyk en sê: “Dit is die stoel waarop die Here as koning sit.” Al die nasies sal hierheen kom om aan die Here eer te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense hulle eie kop volg nie. In hierdie selfde tyd sal die mense van Juda en Israel by een plek saamkom. Hulle sal dan saam uit die noorde terugkom na die land wat die Here vir hulle voorouers gegee het. Hy het gesê die land is vir altyd hulle s’n. “Ek het by Myself gedink: Ek sal daarvan hou om julle soos my eie kinders te behandel. Ek sou graag hierdie mooi land vir julle wou gee. Nie een van die nasies se grondgebied is naastenby so mooi soos hierdie land nie. Verder wou Ek baie graag hê dat julle vir My ‘Vader’ moes sê en nooit weer die rug vir My sou draai nie. Maar soos dit soms met getroude mense in ’n huwelik gaan waar een van hulle die ander een kul, so het julle ook met My gemaak, Israel,” sê die Here. Op die heuweltoppe hoor ’n mens uitroepe. Dit is die gehuil en gesoebat van Israel se mense. Hulle huil, want hulle besef dat hulle op ’n verkeerde koers is. Hulle het van die Here vergeet. Die Here sê: “My kinders, julle het My in die steek gelaat. Maar kom terug na My toe en Ek sal julle van julle skandelike optrede gesond maak.” Hierop het hulle geantwoord: “Ja, Here, ons wil terugkom, want U is die Here, ons God! Die lawaaierige manier waarop die gode op die heuwels en die berge vereer word, is ’n groot klugspul. Dit is net die Here ons God wat Israel kan help en vry maak. Van ons kinderjare af al het die skandelike afgod Baäl alles laat misluk waarvoor ons voorouers gewerk het. Dit sluit in hulle beeste, skape en selfs ook hulle kinders. Ons wil in die aarde sink van skaamte. Ons wil wegkruip van skaamte. Ons en ons voorouers het oor die jare verkeerde dinge gedoen waarvan die Here ons God nie hou nie. Die waarheid is dat ons ongehoorsaam aan die Here was.”
JEREMIA 3:6-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die tyd toe Josia koning was, het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie. “Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien. Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien. Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die HERE. Toe sê die HERE vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda! Gaan maar uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: “O, Israel, sê die HERE, julle was ontrou, maar kom terug na My toe. Ek sal nie vir altyd kwaad bly nie, want Ek is genadig, sê die HERE. Erken net dat julle skuldig is. Erken dat julle teen die HERE julle God in opstand gekom het. Julle was ontrou aan Hom deur onder elke groen boom afgode te aanbid. Bely dat julle My nie gehoorsaam het nie, sê die HERE! “Kom terug na My toe, ontroue kinders, want Ek is julle man. Ek sal hier een uit ’n stad en daar twee uit ’n familie vat en na Sion toe terugbring. Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.” Die HERE sê: “Wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer oor die verbondsark van die HERE praat nie. Trouens, dit sal nie eers in hulle gedagtes opkom nie. Hulle sal dit nie eers onthou of mis nie, wat nog te sê ’n nuwe een maak! In dié tyd sal Jerusalem bekend staan as die troon van die HERE. Al die nasies sal hierheen kom om eer aan die HERE te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense slegte dinge doen nie. In hierdie tyd sal die mense van Juda en Israel by mekaar aansluit. Hulle sal saam uit die noorde terugkom na die land wat die HERE vir hulle voorouers as erfenis gegee het. “Ek het by Myself gedink: ‘Ek sou julle graag soos my eie kinders wou behandel! En Ek sou graag hierdie mooi land vir julle wou gee. Nie een van die nasies se grondgebied is naastenby so mooi nie.’ Ek het gedink julle sou My ‘Vader’ noem en nooit weer julle rug op My draai nie. Maar Israel het soos ’n ontroue vrou wat haar man verlaat, My verraai,” sê die HERE. “Op die heuweltoppe hoor ’n mens uitroepe. Dit is die gehuil en gesoebat van Israel se mense. Hulle het afgedwaal en van die HERE hulle God vergeet.” Die HERE sê: “Ontroue kinders, kom terug na My toe. Ek sal julle van julle ontrouheid genees.” Hulle het geantwoord: “Ja, ons wil terugkom, want U is die HERE ons God! Ons aanbidding van gode op die heuwels is heeltemal vals. Dit is net die HERE ons God wat Israel kan red. Van ons kinderjare af het ons die skande gesien, hoe alles verteer word waarvoor ons voorouers gewerk het: hulle beeste, skape en selfs ook hulle kinders. Van skaamte sink ons weg in die aarde, oordek met skande. Ons en ons voorouers het oor die jare heen teen die HERE ons God gesondig. Ons was van jongs af nie gehoorsaam aan die HERE ons God nie.”