Jeremia 3:6-25

Jeremia 3:6-25 AFR20

In die dae van koning Josia het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat die afvallige, Israel, gedoen het? Sy gaan na elke hoë heuwel, en gaan onder elke skaduryke boom in, en daar hoereer sy. Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My terugkeer. Maar sy het nie teruggekeer nie. En die verraderlike, haar suster Juda, het dit gesien. Sy het gesien dat Ek haar suster, die afvallige, Israel, weggestuur het omdat sy egbreuk gepleeg het. Ek het haar skeibrief vir haar gegee. Maar die verraderlike, haar suster Juda, is nie daardeur afgeskrik nie. Ook sy het gegaan en gehoereer. En omdat haar hoerery so ligtelik opgeneem is, het sy die land besoedel. Sy het met klip en hout egbreuk gepleeg. Selfs nieteenstaande dit alles het die verraderlike, haar suster Juda, nie met haar hele hart na My teruggekeer nie, maar met 'n geveins,” is die uitspraak van die HERE. Die HERE het verder vir my gesê: “Die afvallige, Israel, het haarself regverdiger gedra as die verraderlike, Juda. Gaan skreeu hierdie woorde uit na die noorde en sê, ‘Keer terug, afvallige, Israel!’ ” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal nie met 'n stroewe gelaat na julle kyk nie, want Ek is vol troue liefde,” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal nie vir altyd toornig wees nie. Erken net jou sondeskuld, want teen die HERE jou God het jy oortree. Jy het jou paaie in alle rigtings laat loop na vreemdes onder elke skaduryke boom. Na my stem het julle nie geluister nie,” is die uitspraak van die HERE. “Keer terug, afvallige kinders!” is die uitspraak van die HERE, “want dit is Ek wat heer is oor julle. Ek sal julle terugneem, een uit 'n stad en twee uit 'n familiegroep; en Ek sal julle na Sion bring. Ek sal herders na my hart vir julle gee. Hulle sal met kennis en insig aan julle weiding verskaf. En wanneer julle vermeerder en vrugbaar is in die land in daardie dae,” is die uitspraak van die HERE, “sal hulle nie meer sê, ‘Die ark van die HERE se verbond!’ nie. Dit sal trouens nie eers in hulle gedagte opkom nie. Hulle sal nie daaraan dink of dit mis nie. Dit sal ook nie weer gemaak word nie. In daardie tyd sal hulle Jerusalem “die troon van die HERE” noem. By haar sal al die nasies byeenkom ter wille van die Naam van die HERE, ter wille van Jerusalem. Hulle sal nie langer die verstoktheid van hulle bose harte volg nie. In daardie dae sal die huis van Juda by die huis van Israel aansluit, en saam sal hulle uit 'n land in die noorde aankom in die land wat Ek vir hulle voorouers as erfenis gegee het. “ En Ek, Ek het gedink: Hoe kan Ek jou tussen die seuns opneem, vir jou 'n begeerlike land gee – as erfenis die heel beste van die sierade van nasies. Ek het gedink: My Vader sal julle my noem, en van My nie wegdraai nie. Maar soos 'n vrou verraderlik haar minnaar verlaat, so was julle verraderlik teenoor My, huis van Israel,” is die uitspraak van die HERE. 'n Stem klink op langs die woestynpaaie: die gehuil, die smeekbedes van die Israeliete, want hulle het die pad byster geraak, hulle het die HERE hulle God vergeet. “Keer terug, afvallige kinders! Ek sal julle afvalligheid genees.” “Hier is ons, ons kom na U toe; want U is die HERE ons God. Waarlik, die geluide van die heuwels af, die gedreun by die berge, is sinsbedrog. Waarlik, by die HERE ons God lê die verlossing van Israel. Die skande het, van ons jeug af, verteer wat ons voorouers met moeite verwerf het: hulle kleinvee en beeste, hulle seuns en dogters. In ons skaamte wil ons gaan lê; ons vernedering moet ons bedek, want teen die HERE ons God het ons gesondig – ons en ons voorouers – van ons jeug af tot vandag toe. Ons het nie geluister na die stem van die HERE ons God nie.