JEREMIA 2:1-25

JEREMIA 2:1-25 AFR83

Die woord van die Here het tot my gekom: Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in 'n wêreld waar niks geplant word nie. Israel was toe aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes. Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie, rampe het hom getref, sê die Here. Hoor die woord van die Here, mense van Jakob, al julle stamme van Israel! So sê die Here: Waarin het Ek gefaal dat julle voorvaders van My af weggedraai het, dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het? Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur 'n droë wêreld vol slote, deur 'n dor land vol doodsgevaar, deur 'n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie. Ek het julle in 'n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel. Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie, dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie. Die regeerders het hulle teen My verset, die profete het in die naam van Baäl opgetree en gode gedien wat nie kan help nie. Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here, en ook jou nakomelinge kla Ek aan. Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk 'n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na: Het daar al ooit so iets gebeur, dat 'n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here. My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. Het Israel 'n slaaf geword of is hy 'n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak? Waarom brul en grom die leeus so teen hom? Waarom is sy land verwoes en lê sy stede in puin, sonder inwoners? Die manne van Memfis en Tagpanges sal jou kop inmekaarslaan. Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het toe Ek jou op jou pad gelei het. Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan en water uit die Eufraat te gaan drink? Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word; omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige. Jy het my gesag lankal verwerp, jou van My losgemaak, geweier om My te dien; jy het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem en so die afgode gedien. Toe Ek jou geplant het, was jy 'n goeie wingerdstok, opreg gekweek, maar hoe het jy nie verander in onkruid, in 'n wilde wingerdstok nie! Al sou jy jou was met loog of met hoe baie seep, Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien, sê die Here my God. Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie, ek het nie die Baäls gedien nie”? Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal. Besef tog wat jy gedoen het! Jy was soos 'n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop, soos 'n wildedonkie wat tuis is in die woestyn. Jy was soos 'n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif, wat onkeerbaar is in haar hittigheid. Die bulle wat haar soek, hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie; wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik. Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie! Maar jy sê: “Ek sal nie daarmee ophou nie! Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid