JEREMIA 2:1-25

JEREMIA 2:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan praat met die mense van Jerusalem. Hulle moet goed hoor wat jy sê. Jy moet vir hulle sê Ek sê: “Jerusalem, jy was vir My soos 'n bruid. So onthou Ek jou. Jy was lief vir My toe jy jonk was, toe jy my bruid was. Jy het saam met My geloop in die woestyn, die plek waar mense nie koring saai nie. Israel is net Myne, hulle is soos die eerste koring-are, en Ek sal almal swaar straf wat van hierdie koring-are eet.” Dit het die Here gesê. Nageslag van Jakob, al die families van Israel, julle moet luister na wat die Here sê. Die Here vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen teen julle voorvaders? Hoekom het hulle weggegaan van My? Hoekom het hulle saam met afgode geloop, afgode wat niks beteken nie? So het julle voorvaders self niks geword. “Hulle het nie gevra: “ ‘Waar is die Here wat vir ons uit Egipte gebring het, die Here wat ons deur die woestyn gebring het?’ nie. Dit is 'n droë plek waar dit baie gevaarlik is, 'n plek waar daar nie water is nie en waar dit donker is, 'n plek waar niemand kom nie en waar niemand woon nie. Ek het julle gebring in 'n land vol vrugtebome waar julle lekker kon eet van alles, maar toe het julle my land onrein gemaak. Julle het die land wat aan My behoort, vuil gemaak met julle sonde. Die priesters moes vir die mense sê wat Ek wil hê, maar hulle het nie gevra waar Ek is nie, hulle het My nie geken nie. Die mense wat oor my volk moes regeer, was téén My. Die profete het boodskappe van Baäl gebring, en hulle het afgode gedien wat niks beteken nie. Daarom beskuldig Ek julle weer, julle en julle nageslag. Ek sê vir julle: Gaan kyk tot in die verste lande, in die Kittiër-eilande en in Kedar, gaan vra of so iets al daar gebeur het. Het 'n volk sy gode gelos en ander gode gekies, goed wat nie regtig gode is nie? Nee. Maar my volk het My, die ware God, gelos en afgode gekies wat niks beteken nie. Hieroor moet almal in die hemel so groot skrik dat hulle hare regop staan, hulle moet bang wees en bewe. Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen. Ek wou vir hulle die water gee wat hulle sal laat lewe, maar hulle het My nie meer gedien nie en hulle het vir hulleself watergate uitgekap, gate wat nie water kon hou nie. Is die mense van Israel slawe? Is hulle slawe se kinders? Hoekom het mense hulle weggevat uit hulle stad? Die vyande van die Israeliete was soos leeus wat brul. Hulle het die mense weggevat uit die land, hulle het die stede verwoes, daar het niemand oorgebly nie. Mense van Juda, die soldate uit die stede Nof en Tagpanges in Egipte sal ook alles wegvat uit julle land. Dit sal gebeur, want julle het verkeerd gedoen. Julle God die Here het julle gelei op julle pad, maar julle het Hom gelos. Julle wil nou in Egipte gaan water drink uit die Sigor-rivier of in Assirië uit die Eufraat-rivier, julle wil vra dat daardie mense julle moet help, maar hulle sal julle nie help nie. Julle het verkeerd gedoen, julle was opstandig teen My, daarom sal Ek julle straf. Julle sal weet en sien hoe sleg en bitter dit is nadat julle My, julle God die Here, gelos het en My nie meer respekteer en dien nie.” Dit het die Here gesê, die Here wat oor alles regeer. Hy sê: “Ja, julle was nog altyd soos beeste wat hulle jukke breek en hulle stroppe stukkend ruk en sê: ‘Ons wil nie vir ons eienaar werk nie.’ Julle het afgode gedien op elke hoë heuwel en onder elke groen boom. Ek het julle self geplant, julle was goeie wingerdstokke. Maar kyk nou hoe het julle verander! Julle het wilde wingerdstokke geword wat slegte druiwe dra. Julle kan julle was met die sterkste seep, met baie seep, maar Ek sal nog altyd sien dat julle sonde julle vuil gemaak het.” Dit sê die Here, Hy wat Here is. “Julle sê julle het julleself nie onrein gemaak nie, julle sê julle het nie met die Baäls saamgegaan nie. Maar kyk wat het julle gedoen in die Hinnom-vallei. Julle het gemaak soos 'n jong kameel-koei wat by 'n bul wil kom. Sy loop heen en weer, sy hardloop in die woestyn in en ruik waar 'n bul is, niemand kan haar keer nie. 'n Bul wat haar soek, kry haar maklik wanneer dit vir haar die regte tyd is om by 'n bul te kom. Julle loop ver om die afgode te soek, julle loop totdat julle skoene stukkend is. Julle word dors op die pad na hulle toe, maar julle sê: ‘Dit maak nie saak nie, ons is lief vir die gode van ander volke en ons sal saam met hulle gaan.’

JEREMIA 2:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die woord van die HERE het tot my gekom en gesê: Gaan en roep uit voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die HERE: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in 'n onbesaaide land. Israel was vir die HERE 'n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal skuld op hulle laai, onheil sal oor hulle kom, spreek die HERE. Hoor die woord van die HERE, huis van Jakob, en alle geslagte van die huis van Israel! So sê die HERE: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het? En hulle het nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in 'n land van wildernis en kuile, in 'n land van droogte en doodskaduwee, in 'n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie? En Ek het julle gebring in 'n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis 'n gruwel gemaak. Die priesters het nie gesê: Waar is die HERE nie? En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; en die vorste het teen My oortree, en die profete het geprofeteer deur Baäl en agter dinge aan geloop wat geen voordeel bring nie. Daarom sal Ek nog met julle twis, spreek die HERE; en met julle kindskinders sal Ek twis. Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het: of 'n nasie sy gode verruil — wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie. Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die HERE. Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie. Is Israel 'n dienskneg? Of is hy 'n bediende wat in die huis gebore is? Waarom het hy dan 'n buit geword? Die jong leeus het oor hom gebrul, hulle het hul stem laat hoor en van sy land 'n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoner. Ook skeer die kinders van Nof en Tagpánhes jou die hoofskedel kaal. Het jou verlating van die HERE jou God in die tyd toe Hy jou op die pad gelei het, jou dit nie berokken nie? Wat het jy dan nou te doen met die pad na Egipte, om die water van die Nyl te drink? En wat het jy te doen met die pad na Assur, om die waters van die Eufraat te drink? Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare. Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer. Nogtans het Ek jou geplant as 'n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van 'n vreemde wingerdstok! Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid 'n vlek voor my aangesig, spreek die Here HERE. Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop! 'n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe — haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry. Hou jou voet terug, dat dit sy skoen nie verloor nie; en jou keel, dat dit nie dors word nie. Maar jy sê: Dit is tevergeefs, nee; want ek het vreemdes lief en sal agter hulle aan loop.

JEREMIA 2:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot my gekom: Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in 'n wêreld waar niks geplant word nie. Israel was toe aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes. Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie, rampe het hom getref, sê die Here. Hoor die woord van die Here, mense van Jakob, al julle stamme van Israel! So sê die Here: Waarin het Ek gefaal dat julle voorvaders van My af weggedraai het, dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het? Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur 'n droë wêreld vol slote, deur 'n dor land vol doodsgevaar, deur 'n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie. Ek het julle in 'n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel. Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie, dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie. Die regeerders het hulle teen My verset, die profete het in die naam van Baäl opgetree en gode gedien wat nie kan help nie. Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here, en ook jou nakomelinge kla Ek aan. Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk 'n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na: Het daar al ooit so iets gebeur, dat 'n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here. My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. Het Israel 'n slaaf geword of is hy 'n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak? Waarom brul en grom die leeus so teen hom? Waarom is sy land verwoes en lê sy stede in puin, sonder inwoners? Die manne van Memfis en Tagpanges sal jou kop inmekaarslaan. Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het toe Ek jou op jou pad gelei het. Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan en water uit die Eufraat te gaan drink? Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word; omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige. Jy het my gesag lankal verwerp, jou van My losgemaak, geweier om My te dien; jy het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem en so die afgode gedien. Toe Ek jou geplant het, was jy 'n goeie wingerdstok, opreg gekweek, maar hoe het jy nie verander in onkruid, in 'n wilde wingerdstok nie! Al sou jy jou was met loog of met hoe baie seep, Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien, sê die Here my God. Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie, ek het nie die Baäls gedien nie”? Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal. Besef tog wat jy gedoen het! Jy was soos 'n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop, soos 'n wildedonkie wat tuis is in die woestyn. Jy was soos 'n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif, wat onkeerbaar is in haar hittigheid. Die bulle wat haar soek, hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie; wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik. Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie! Maar jy sê: “Ek sal nie daarmee ophou nie! Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.”

JEREMIA 2:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Gaan roep uit ten aanhore van Jerusalem, ‘So sê die HERE: “Ek onthou jou – die trou van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, hoe jy my gevolg het in die woestyn, in 'n land waar nie gesaai word nie. Israel was heilig vir die HERE, die eerste vrugte van sy opbrengs. Almal wat daarvan sou eet, sou skuldig wees – onheil sou hulle oorval,” ’ ” is die uitspraak van die HERE. Hoor die woord van die HERE, huis van Jakob, en al die familiegroepe van die huis van Israel! So sê die HERE: “Watter onreg het julle voorouers by My gevind, dat hulle hulle aan My onttrek het, nuttelose afgode gevolg en self nutteloos geword het? Hulle het nie gevra nie, ‘Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons in die woestyn gelei het – in 'n land van woestynvlaktes en afgronde, 'n land van droogte en diepe duisternis, 'n land waardeur niemand trek nie, en waar geen mens woon nie?’ Ek het julle gebring na 'n land met boorde, om die vrugte en die goeie daarvan te geniet. Maar julle het ingekom en my land verontreinig; van my eiendom het julle iets afstootliks gemaak. Die priesters het nie gevra, ‘Waar is die HERE?’ nie; hulle wat die onderrig hanteer, ken My nie. Die herders het teen My oortree; die profete profeteer vir Baäl, en hulle volg dié wat geen voordeel bied nie. Daarom kla Ek julle steeds aan,” is die uitspraak van die HERE, “en ook julle kleinkinders sal Ek aankla. Ja, gaan maar oor na die eilande van die Kittiërs en kyk self! Stuur maar na Kedar 'n afvaardiging, en let goed op – kyk of so iets al gebeur het! Het 'n nasie sy gode al verruil? En dit is nie eers gode nie! Maar my volk het sy Majesteit verruil vir hulle wat geen voordeel bied nie. Staan verslae daaroor, hemele! Sidder en beef onbedaarlik!” is die uitspraak van die HERE. “Want twee wandade het my volk gepleeg: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap – gebarste opgaarputte wat nie water hou nie. “Is Israel 'n dienskneg? Of is hy van geboorte af 'n slaaf? Waarom het hy dan buit geword? “Die jong leeus brul teen hom; hulle brul hard. Hulle het sy land 'n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoners. Ook die mense van Nof en Tagpanhes sal jou skedel verpletter. Het jy, Israel, dit nie aan jouself gedoen, deurdat jy die HERE jou God verlaat het toe Hy jou op die pad gelei het nie? Daarom, wat wil jy bereik deur na Egipte te gaan? Is dit om die Sigor se water te drink? Wat wil jy bereik deur na Assirië te gaan? Is dit om die Rivier se water te drink? Jou boosheid vermaan jou; jou afvalligheid wys jou tereg. Erken dan en sien in dat dit sleg en bitter is wanneer jy die HERE jou God verlaat, en daar by jou geen vrees vir My is nie,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, Heerser oor alle magte. “Ja, lank gelede het jy jou juk gebreek, jou stroppe stukkend geruk en gesê, ‘Ek weier om te dien!’ Maar op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom het jy gaan lê en hoereer. Ek self het jou geplant as 'n keurdruif, 'n egte, edel wortelstok. Hoe kon jy dan verander in wilde druiwe, in 'n vreemde wingerdstok! Ja, al was jy jou af met soda, en gebruik baie loog; jou sondeskuld bly 'n vlek voor My,” is die uitspraak van my Heer, die HERE. “Hoe kan jy sê, ‘Ek het my nie verontreinig nie; die Baäls het ek nie gevolg nie’? Kyk net na jou pad in die dal! Besef wat jy gedoen het! Jy is 'n vinnige jong kameelkoei wat heen en weer rondhardloop, soos 'n wilde donkie gewoond aan die woestyn. In haar heftige drang snuif sy die wind. Haar bronstigheid – wie kan dit beteuel? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie. In haar bronstyd sal hulle haar vind. Weerhou jou voete van kaalvoet loop, en jou keel van dors! Maar jy sê, ‘Tevergeefs! Nee, want ek het vreemdes lief; hulle sal ek volg.’

JEREMIA 2:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Gaan roep voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die HERE; Ek dink aan jou, die goedertierenheid van jou jeug, die liefde vir jou huwelik, toe jy agter my aan gegaan het in die woestyn, in 'n land wat nie besaai is nie. Israel was heilig vir die HERE en die eersteling van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal aanstoot gee; onheil sal oor hulle kom, spreek die HERE. Hoor die woord van die HERE, o huis van Jakob, en al die geslagte van die huis van Israel! So sê die HERE: Watter ongeregtigheid het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My af weggegaan het en agter nietigheid aan gewandel en nietig geword het? Hulle het ook nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, wat ons deur die woestyn gelei het, deur 'n land van woestyn en van kuile, deur 'n land van droogte en doodskaduwee, deur 'n land waar niemand deurgegaan het en waar niemand gewoon het nie? En Ek het julle in 'n land van oorvloed gebring, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle ingegaan het, het julle my land verontreinig en my erfdeel 'n gruwel gemaak. Die priesters het nie gesê: Waar is die HERE nie? en die wat die wet hanteer, het My nie geken nie; Daarom sal Ek nog met julle spreek, spreek die HERE, en met julle kindskinders sal Ek die stryd voer. Want trek deur die eilande Kittim en kyk; en stuur na Kedar en let goed op en kyk of daar so iets is. Het 'n nasie sy gode verander, wat nog geen gode is nie? maar my volk het hulle eer verander vir wat niks baat nie. Wees verstom, o hemele, hieroor, en wees verskriklik bevrees, word baie woes, spreek die HERE. Want my volk het twee euwels gedoen; hulle het My, die fontein van lewende water, verlaat en vir hulle putte uitgekap, gebreekte waterbakke wat geen water hou nie. Is Israel 'n dienaar? is hy 'n tuisgebore slaaf? hoekom is hy bederf? Die jong leeus het oor hom gebrul en geskreeu, en hulle het sy land 'n puinhoop gemaak; sy stede is verbrand sonder dat daar bewoners is. Ook die kinders van Nof en Tahapanes het die kroon van jou hoof gebreek. Het jy dit nie vir jou bewerk nie, deurdat jy die HERE jou God verlaat het toe Hy jou op die pad gelei het? En nou, wat het jy te doen in die weg van Egipte, om die water van Sihor te drink? of wat het jy te doen in die weg van Assirië, om die water van die rivier te drink? Jou eie boosheid sal jou teregwys, en jou afkerighede sal jou teregwys; weet dan en sien dat dit 'n kwaad en bitter ding is dat jy die HERE jou God verlaat het en dat my vrees nie in jou is nie, spreek die HERE HERE van gasHERE. Want van ouds af het Ek jou juk verbreek en jou bande verbreek; en jy het gesê: Ek sal nie oortree nie; wanneer jy op elke hoë heuwel en onder elke groen boom ronddwaal terwyl jy hoereer. Maar Ek het vir jou 'n edele wingerdstok geplant, geheel en al 'n regte saad; hoe het jy dan vir My verander in die verdorwe plant van 'n vreemde wingerdstok? Want al was jy jou met salpeter en neem vir jou baie seep, tog is jou ongeregtigheid voor my aangesig, spreek die HERE HERE. Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie, ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? sien jou weg in die dal, weet wat jy gedoen het; jy is 'n vinnige dromedaris wat sy weë bewandel; 'n Wildesel wat in die woestyn gewoond is, wat die wind opsnuif na sy welbehae; in haar geleentheid wie kan haar wegwys? almal wat haar soek, sal hulle nie moeg maak nie; in haar maand sal hulle haar vind. Weerhou jou voet dat jy nie geskoen is nie en jou keel van dors; maar jy het gesê: Daar is geen hoop nie want ek het vreemdelinge liefgehad, en agter hulle aan gaan.

JEREMIA 2:1-25 Die Boodskap (DB)

Die Here het nog iets vir my gegee wat ek vir hulle moes sê. Hy het gesê: “Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal dit kan hoor. Die Here sê: Ek onthou nog lank gelede toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Toe wou julle My so graag tevrede stel. Julle was selfs bereid om My deur die dorre woestyn te volg waar daar geen landerye vir kos was nie. In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Ek het oor hulle gevoel soos ’n mens voel oor die eerste deel van die oes wat van die landerye af kom. Niemand mag dit waag om aan hulle te vat nie. Ek sou enigiemand wat hulle wou seermaak, se lewe ellendig maak.” Luister na wat die Here sê, mense van Israel! Al die families van Israel, julle ook! Die Here sê: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers nie meer in My belanggestel het nie? Hulle het sommer agter nikswerd afgode begin aanloop. Deur dit te doen het hulle self nikswerd mense geword. Julle voorouers het nie eens gedink om te vra: ‘Waar is die Here wat ons uit Egipte gebring het, wat ons deur die woestyn gelei het?’ nie. Die land was woes en baie moeilik om deur te trek. Daar was ook nie water nie. Niemand het eens kans gesien om hier te probeer lewe of deur te ry of te loop nie, want dit was ’n verskriklik gevaarlike stuk land. En tog het Ek, die Here, hulle veilig hierdeur gevat!” Die Here sê verder: “Ek het julle na ’n land gebring waar alles baie goed groei. Ek wou hê dat julle die vrugte en die goeie dinge wat die land gee, geniet. Maar wat het julle gedoen? Julle het in my land ingekom en dit met julle afgode bemors. Julle het die land wat julle van My sou erf iets gemaak om te haat. Die priesters het hulle geensins aan die Here gesteur nie. Die regsgeleerdes het nie eens twee keer aan Hom gedink nie. Die leiers van die land het teen die Here in opstand gekom. Die profete het nou gesê die god Baäl het vir hulle die boodskappe gegee, nie die Here nie. Op dié manier het hulle hulle tyd eintlik op niks gemors. Om dié rede,” sê die Here, “maak Ek ’n saak teen julle. Maar dit hou nie hier op nie, Ek kla ook julle kinders en hulle kinders aan oor die verkeerde dinge wat gedoen is. Gaan in ’n westelike rigting tot by Siprus en oos tot by Kedar. Kyk ’n bietjie mooi wat daar aangaan. Het iets so vreemds al ooit gebeur dat ’n volk hulle gode omgeruil het vir ander gode selfs al was hulle nie eintlik regtig gode nie? Ek is tog nie ’n gewone god nie, en tog het my eie mense My vir gode verruil wat niks werd is nie! Die hemele kyk geskok neer op wat hier aan die gang is en bewe van verbasing,” sê die Here. “My volk het twee slegte dinge gedoen: Ek is soos ’n fontein wat lewe gee vir mense wat die water drink. Wat doen hulle? Hulle het van My af weggegaan. Hulle het ook vir hulle bakke gaan uitkap om water in op te vang. Die probleem is dat hierdie bakke gekraak is en nie water kan hou nie.” “Het Israel ’n slaaf geword? Hulle is mos nie as slawe gebore nie. Hoekom word hulle dan nou soos ’n prooi wat gejag word? Waarom dreig die vyand Israel dan nou soos leeus wat brul om die prooi te storm? Hulle het die land verwoes en die stede is nou net ’n hoop klippe wat daar lê. Daar is nie meer mense wat daar bly nie. Die Egiptenaars uit Memfis en Tagpanges het Israel se mag gebreek en hulle verneder. Julle het die moeilikheid oor julleself gebring. Ek wou vir julle rigting en leiding gee, maar julle het julle eie koers ingeslaan en julle nie aan My gesteur nie. Wat gaan dit julle help om by Egipte of selfs by Assirië hulp te gaan soek? Julle sal die gevolge dra van die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Julle gaan swaarkry omdat julle julle nie aan My gesteur het nie. Julle sal nog agterkom hoe ’n slegte ding dit is wat julle gedoen het om My in die steek te laat. Wat julle doen, wys dat julle geen respek meer vir My het nie,” sê die Here wat sterker en magtiger as alles en almal is. “Dit is nou al lank terug dat Ek gesorg het dat julle nie meer ander mense se slawe is nie. Nogtans sê julle dat julle nie aan My gehoorsaam sal wees nie. Julle is net soos mense wat rondslaap. Op elke heuweltjie en onder al wat ’n koelteboom is, buig julle voor ander gode neer. Ek verstaan nie hoe dit kon gebeur nie. Toe Ek julle geplant het, was julle soos uitsoekdruiweplante. Die beste soort wat ’n mens kan kry! Hoe is dit dan moontlik dat julle so kon verander dat julle nou soos wilde druiweplante is? Al was julle julle ook met baie seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Al die verkeerde en slegte dinge wat julle gedoen het, is soos vuil vlekke op klere. Niks kan dit uitwas nie,” sê die Here. Niemand het soveel mag soos Hy nie! “Hoe kan julle sê: ‘Dit is nie waar nie! Ons het nie ons knie gebuig voor die beelde wat van die god Baäl gemaak is nie.’ Gaan kyk gerus maar wat julle in die valleie aangevang het. Neem ’n bietjie verantwoordelikheid vir julle doen en late! Julle tree nes ’n kameelkoei op wat rondhardloop op soek na ’n bul. Julle maak soos ’n wildedonkie wat aan die woestyn gewoond is. As dit paartyd is, snuif sy in die lug op soek na ’n hings. Sy word gedryf deur haar drange na die hings. Die hingste hoef nie eens na die merrie te soek nie, sy hardloop agter hulle aan. Julle maak net so in julle gehardloop agter die gode aan. Israel, waarom loop julle agter die gode aan totdat julle skoene deurgeloop is en julle keel brand van die dors? Maar julle sê: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons het lief geword vir hierdie vreemde gode. Ons sal nie ophou om voor hulle neer te buig nie!’”

JEREMIA 2:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir my nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na Jerusalem toe en skreeu dit uit sodat almal kan hoor: So sê die HERE: “Ek onthou nog die toewyding van jou jeug, toe julle soos ’n jong bruid was wat My liefgehad het. Julle was toe bereid om My deur die dorre woestyn te volg, deur ’n dorre woestyn. In daardie tyd het Israel net aan My behoort. Hy was vir My die belangrikste van my kinders. Almal wat my volk te na gekom het, was skuldig. Rampe het oor hulle gekom, sê die HERE.” Luister na die boodskap van die HERE, huis van Jakob, luister, al die families van Israel! Die HERE vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen dat julle voorouers so ver weggedwaal het van My af? Hulle het afgode gedien wat nikswerd is. Deur dit te doen, het hulle self waardeloos geword. Hulle het nie eers gedink om te vra nie: ‘Waar is die HERE wat ons veilig uit Egipte gebring het en ons deur die woestyn gelei het? Die land was droog en vol slote, dor met donker skaduwees. Niemand trek daardeur nie. Geen mense woon daar nie.’ Ek het julle gebring na ’n vrugbare land sodat julle die vrugte en die goeie dinge van die land moes geniet. Maar toe julle in my land kom, het julle dit besoedel. Julle het wat Ek vir julle laat erf het, veragtelik gemaak. Die priesters vra nie: ‘Waar is die HERE?’ nie. Die regsgeleerdes het nie eers twee keer aan My gedink nie. Die leiers van die land was in opstand teen My. En die profete het namens Baäl geprofeteer. So mors hulle hulle tyd op niks. Om dié rede,” sê die HERE, “maak Ek ’n saak teen julle. Ek sal ook julle kinders en hulle kinders in die toekoms aankla. Gaan wes tot by Siprus, en oos tot by Kedar. Kyk mooi wat daar aangaan. Het so iets al ooit gebeur? Het ’n volk ooit hulle gode vir ander gode verruil al is hulle nie regtig gode nie? Tog het my mense My verruil vir gode wat niks werd is nie! Wees geskok, o hemele! Krimp ineen van afgryse,” sê die HERE. “My volk het twee bose dinge gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee. En hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie.” “Is Israel ’n slaaf? Hulle is mos nie gebore as slawe nie! Hoekom is hulle nou soos ’n prooi? Leeus het hard en dreigend teen Israel gebrul. Hulle het die land verwoes, die dorpe is nou puinhope. Niemand bly meer daar nie. Die mense uit Egipte, Memfis en Tagpanges het Israel se mag verbreek en hulle verneder. Julle het die probleme oor julleself gebring deur teen die HERE te rebelleer toe Hy julle op die regte pad wou lei! Wat het dit julle gehelp om by Egipte, of selfs by Assirië te gaan hulp soek? Kon die waters van die Nyl of die Eufraat julle dors les? Julle eie sonde sal julle straf. Julle sal sien hoe bitter dit is om ontrou aan My te lewe, om die HERE julle God nie te eer nie. Dit is Ek, die oppermagtige HERE, die Almagtige, wat praat! “Lank gelede het Ek die juk gebreek waarmee jy moes ploeg. Ek het die kettings van slawerny van jou afgehaal, maar jy het gesê: ‘Ek sal Hom nie dien nie.’ Op elke heuwel en onder elke groen boom het jy jou soos ’n prostituut gedra en voor die afgode gebuig. “Ek het jou geplant as ’n uitgesoekte wingerdstok, opreg gekweek! Hoe het julle dan verander in ’n wilde druiwestok? Al was julle julleself ook met groot hoeveelhede seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Vir My sal al julle skuld soos vuil vlekke bly,” sê die oppermagtige HERE! “Hoe kan julle sê: ‘Dit is nie waar nie! Ons het nie beelde van Baäl aanbid nie’? Gaan kyk gerus wat julle in al julle valleie doen. Neem verantwoordelikheid vir julle doen en late! Julle tree op net soos ’n onrustige kameelkoei wat rondhardloop op soek na ’n bul. Julle tree net soos ’n wildedonkie op. As dit paartyd is, snuif sy in die wind. Wie kan haar drange beheer? Die hingste hoef nie eers na haar te soek nie. Sy hardloop agter hulle aan! Waarom loop julle agter die gode aan totdat julle skoene deurgeloop is en julle kele brand van dors? Maar julle sê: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons is lief vir hierdie vreemde gode. Ons sal nie ophou om hulle te aanbid nie!’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid