Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam gesing:
“Julle moet die Here prys,
want leiers het opgetree in Israel,
die volk het hulle aangemeld vir die oorlog.
Luister, konings,
gee aandag, regeerders!
Ek sing tot eer van die Here,
ek prys die Here die God van Israel met my lied:
Toe U uit Seïr gekom het, Here,
toe U uit die veld van Edom opgetrek het,
het die aarde gebewe,
het die hemel reën gegee:
die wolke het strome water gegee.
Die berge het weggesmelt voor die Here,
voor Hom uit Sinai,
voor die Here die God van Israel.
“In die dae van Samgar seun van Anat,
in die dae van Jael was die hoofpaaie stil,
reisigers het ompaaie gebruik.
Die lewe buite die stede het in Israel gekwyn
en agteruitgegaan
totdat ek, Debora, na vore gekom het,
totdat 'n moeder in Israel na vore gekom het.
Toe die volk nuwe gode vir hulle gekies het,
het daar oorlog gekom,
maar nie een uit Israel se duisende soldate
het die wapen opgeneem nie.
“Ek staan by die leiers van Israel,
by dié wat hulle vrywillig aangemeld het.
Julle moet die Here prys,
julle wat op bruin donkies ry,
julle wat op mooi saalkleedjies sit,
julle wat op reis is,
julle moet dit alles vertel!
“Tussen die drinkbakke praat hulle daaroor,
besing hulle die oorwinning wat die Here behaal het,
sy oorwinning vir die boere van Israel.
“Die volk van die Here kom bymekaar by die stadspoorte,
hulle sing:
‘Kom, Debora, kom,
kom, kom sing 'n lied!
Maak klaar, Barak seun van Abinoam,
kom maak vir jou krygsgevangenes!’