Rigters 5:1-12

Rigters 5:1-12 AFR20

Op daardie dag het Debora en Barak, seun van Abinoam, gesing: “Wanneer hare onversorg is in Israel, wanneer manskappe vrywillig aanmeld – prys die HERE! Luister, konings; gee aandag, regeerders! Ek, vir die HERE wil ek sing; ek wil die HERE, die God van Israel besing. HERE, toe U uitgetrek het uit Seïr, toe U vooruit gestap het uit die gebied van Edom, het die aarde gebewe; selfs die hemel het gegiet, ja, die wolke het water gegiet. Berge het gevloei voor die HERE, die Een van Sinai, voor die HERE, die God van Israel. “In die tyd van Samgar, seun van Anat, in die tyd van Jael, was die paaie verlate, het dié wat op reis gaan die kronkelpaaie gevolg. Krygers het ontbreek; in Israel het hulle ontbreek, totdat jy, Debora, opgestaan het, totdat jy, 'n moeder in Israel, opgestaan het. Nuwe gode is gekies! Was daar toe vegters in die poorte? Was skild of steekspies te sien by veertigduisend in Israel? My hart is by die bevelvoerders van Israel, die vrywilligers onder die volk. Prys die HERE! “Julle wat op wit eselinne ry, wat op saalkleedjies sit, ook julle wat langs die pad loop – basuin dit uit, nog harder as die stemme van hulle wat troppe skei tussen die drinkbakke! Daar moet hulle die reddingsdade van die HERE oorvertel, die reddingsdade van sy krygers in Israel. Dan kom die manskappe van die HERE af na die poorte. “ ‘Ontwaak, ontwaak, Debora! Ontwaak, ontwaak, sing 'n lied! Staan op, Barak; voer jou gevangenes weg, seun van Abinoam! ’