JESAJA 65:17-23

JESAJA 65:17-23 AFR83

Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan 'n Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê. Ek sal jubel oor Jerusalem, Ek sal bly wees oor my volk. Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word wat huil of om hulp roep nie. Daar sal geen kind sterf wat maar 'n paar dae oud is nie en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie. As iemand op honderdjarige leeftyd sterf, sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het; as hy nie honderd word nie, sal hy beskou word as iemand wat vervloek is. Dan sal mense huise bou en self daarin woon, hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet. Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie, hulle sal nie wingerde plant waarvan ander die druiwe sal eet nie. My volk sal so oud word soos 'n boom. Dié wat Ek uitverkies het, sal self die vrug van hulle handewerk geniet. Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie, hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie, want hulle sal 'n volk wees wat deur die Here geseën word, hulle en hulle afstammelinge.