JESAJA 33:17-24

JESAJA 33:17-24 AFR83

Jou eie oë sal 'n koning sien in al sy prag en 'n land wat wyd lê. Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het: “Waar is die een wat ons goed moes opskryf, waar is die een wat dit moes afweeg, waar is die een wat moes opskryf watter torings afgebreek moes word?” Jy sal daardie vermetele mense nie weer sien nie, daardie volk met sy onverstaanbare, moeilike taal wat jy nie begryp nie. Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier: jou eie oë sal Jerusalem sien, 'n veilige woonplek waar jou tent nie versit hoef te word nie, sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie, sy toue nooit meer breek nie. Daar sal die Here vir ons die magtige God wees, daar waar die strome, die riviere, breed sal vloei sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar, die oorlogskepe daar verbykom. Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red. Die toue van die vyand se skepe hang slap, hulle hou nie die maste regop nie, en die seile kan nie gespan word nie. Daar word buit in oorvloed verdeel, selfs lammes vat wat hulle wil. Niemand in die stad sal meer sê: “Ek is siek” nie; die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.