JESAJA 33:17-24

JESAJA 33:17-24 NLV

Daar kom ’n tyd dat jy self die koning sal sien in al sy glorie. Jy sal ’n land sien wat strek tot in die verte. Jy sal dan terugdink aan die tyd van angs: “Waar is die een wat ons getel het? Waar is die een wat buit moes weeg? Waar is die een wat ons torings moes opskryf?” Hierdie gewelddadige mense sal skielik weg wees, daardie mense met ’n vreemde, onverstaanbare taal. Jerusalem sal die plek van aanbidding en feeste wees. Jerusalem sal ’n veilige plek wees waar jou tent nie verskuif sal word en sy tentpenne nie uitgetrek sal word of enige van sy toue sal breek nie. Daar sal die HERE jou magtige Beskermer wees. Hy sal soos ’n wye rivier wees waarop geen vyand kan oorvaar teen jou nie. Want die HERE is ons Regter. Die HERE is ons Regeerder. Die HERE is ons Koning. Hy is die een wat ons sal red. Die vyand se skeepstoue hang slap. Die maste staan nie regop nie. Die seile is nie gespan nie. God se volk verdeel die oorvloedige buit. Selfs mense wat verlam is, kry genoeg. Die mense van Israel sal nooit weer sê: “Ek is hulpeloos en siek” nie, want die sonde van mense is vergewe.