Jesaja 33:17-24

Jesaja 33:17-24 AFR20

Jou eie oë sal 'n koning in sy skoonheid sien, sal uitkyk oor 'n wyd uitgestrekte land. Jou hart sal die verskrikking oordink: Waar is hy wat neerskryf, waar hy wat weeg? Waar is hy wat die getal van die torings neerskryf? Dié aanmatigende volk sal jy nie weer sien nie, die volk met spraak wat te moeilik is om te volg, met 'n gestamel van tong wat onverstaanbaar is. Kyk na Sion, die stad van ons feestelike byeenkomste! Jou oë sal Jerusalem sien – 'n ongestoorde tuiste, 'n tent wat nie afgeslaan sal word, waarvan die tentpenne nooit uitgetrek, en die tentlyne nooit losgeruk sal word nie; want daar sal 'n magtige, die HERE, by ons wees, by 'n plek van riviere, met breë strome aan alle kante. 'n Boot met spane sal nie daarop vaar nie, 'n magtige skip sal dit nie oorsteek nie. Ja, die HERE is ons Regter, die HERE is ons Regeerder, die HERE is ons Koning – Hy sal ons verlos. Al hang jou takelwerk nou slap, al hou dit nie die mas se voetstuk stewig nie, al span dit nie die banier oop nie, dan sal daar buit in oorvloed verdeel word; selfs lammes sal wat te roof is, plunder. Geen inwoner sal sê, “Ek is siek” nie. Die volk wat in Jerusalem woon, se sondeskuld is vergewe.