JESAJA 26:1-19

JESAJA 26:1-19 AFR83

Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het 'n sterk stad, God beskerm ons met mure, met 'n vesting. Maak oop die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God gehoorsaam is en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug. Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe, Hy gooi hulle hoë stadsmure om, Hy maak dit gelyk met die grond en laat lê dit in die stof. Hulle sal onder die voete vertrap word, onder die voete van onderdruktes; die armes sal op hulle trap. Die pad van die regverdige is reguit, U maak sy pad gelyk. Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U. Ons wil u Naam eer en U aanroep. In die nag smag ek na U, in die môre vra ek na u wil. Wanneer U die aarde straf, leer sy inwoners wat geregtigheid is. Daar word goed gedoen aan die goddeloses, maar hulle leer nie wat geregtigheid is nie, hulle verdraai die reg en erken nie die mag van die Here nie. U staan gereed om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Laat hulle ondervind dat U vir u volk opkom: laat die pogings van hierdie teëstanders van U misluk, laat vuur hulle verteer. U regeer in vrede oor ons, Here, U doen alles vir ons. Behalwe U, Here ons God, het ander konings oor ons geregeer, maar ons wil net ú Naam onthou. Hulle is nou dood en sal nie weer lewe nie, hulle gees sal nie weer opstaan nie. U het hulle gestraf en uitgewis, U maak dat niemand meer aan hulle dink nie. Here, U het u volk meer laat word, U het hulle meer laat word en hulle landsgrense uitgebrei. So het U u mag getoon. Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem, toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep. Soos 'n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy 'n kind in die wêreld wil bring, so, Here, is ons in u teenwoordigheid. Ons was swanger, ons het inmekaar gekrimp van pyn, maar ons het niks in die wêreld gebring nie: ons het nie 'n redder vir die land gegee nie, en daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie. Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.

Video for JESAJA 26:1-19

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 26:1-19