JESAJA 26:1-19
JESAJA 26:1-19 Die Boodskap (DB)
In daardie tyd sal hulle hierdie lied in Juda sing: Ons stad is sterk! God self beskerm ons mure. Maak die hekke wyd oop sodat die volk wat verlos is, kan inkom en dié wat getrou gebly het aan die Here, mag deurstap. U, Here, gee u vrede en voorspoed vir dié wat op U vertrou en volhard in die geloof. Vertrou altyd op die Here, want Hy sal ons beskerm. Hy het dié wat vol van hulleself is, verneder en hulle stad se mure met die grond gelyk gemaak. Die armes en die mense wat voorheen deur hulle verneder is, loop nou daaroor en vertrap dit tot stof. Vir ’n gelowige mens is die pad nie moeilik nie, want U maak dit vir hom gelyk. Here, ons sal U volg en ons hoop in U stel. Om U te loof en prys is ons diepste hartsverlange. Selfs in die nag verlang ek na U. Ek kan nie wag vir die môre om te kom nie. As die wêreld na U luister, leer hulle wat regverdigheid beteken. As ’n mens net goed is vir iemand wat kwaad doen, leer hy nooit wat reg of verkeerd is nie. Ten spyte van ander mense se eerlikheid bly hulle oneerlik, want hulle erken nie die gesag van die Here nie. U staan reg om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Verneder hulle, Here, laat hulle voel hoe dit voel as U met al u mag op hulle afkom; dan sal hulle agterkom hoe lief U vir u volk is. Ons is ryk, Here, maar alles wat ons bereik het, is as gevolg van wat U vir ons gedoen het. Here ons God, ons het al konings gehad wat oor ons regeer het, maar vir U, Here, aanbid ons. Hulle is dood en vergete, hulle tyd is vir altyd verby. U het hulle gestraf en hulle uitgeroei. Niemand kan hulle eens meer onthou nie. Ons loof U, Here, want U het ons ’n magtige nasie gemaak en ons grense na alle kante toe vergroot. Toe ons in die nood was, het ons na U toe gevlug, Here. Toe ons swaargekry het omdat U ons gestraf het oor ons sonde, het ons by U hulp gaan soek. Voor U het ons soos ’n swanger vrou wat op die punt is om geboorte te skenk, gekerm en gekrul van die pyn. Maar ten spyte van die geboortepyne het ons nie geboorte geskenk nie. Ons het niks vir ons land gedoen of iets noemenswaardigs bereik nie. Maar ons het darem hierdie troos: dié wat aan die Here behoort, sal opstaan en weer lewe. Die dooies sal opgewek word en van vreugde oor U jubel. Net soos die dou elke oggend nuwe lewe aan die aarde gee, so sal die Here dié wat lank reeds dood is, nuwe lewe gee.
JESAJA 26:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daardie dag sal almal in die land van Juda hierdie lied sing: “Ons stad is nou sterk! Ons is omring deur die mure van God se redding. Maak oop die poorte vir almal wat regverdig is. Laat die getroues binnekom. U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. Vertrou deurgaans op die HERE, want die HERE God is vir altyd ’n veilige toevlug. Hy verneder die trotses, en die arrogante stad gooi Hy in die stof neer. Hy gooi die mure om! Die arm en verdrukte mense vertrap dit onder hulle voete. “Die pad van die regverdige is reguit. Regverdige Een, U maak die pad van die regverdige gelyk. HERE, ons doen graag wat U van ons vra. Ons enigste begeerte is om u Naam te eer. Heelnag lank soek ek na U, in die môre smag ek na U. Eers wanneer U kom om die aarde te oordeel, sal mense leer om te doen wat reg is. Uit die goedheid wat U aan die bose mense bewys, leer hulle nie wat reg is nie. Selfs waar daar reg geskied, doen hulle nog die verkeerde en steur hulle nie aan die mag van die HERE nie. O HERE, hulle luister nie wanneer U hulle dreig nie. Wys hulle dat U gretig is om u volk te beskerm. Miskien kry hulle dan skaam. Laat u vuur u vyande verteer. “HERE, U sal ons vrede gee. Alles wat ons bereik het, het U vir ons gedoen. HERE ons God, ander het oor ons regeer, maar ons aanbid U alleen. Dié wat ons gedien het, is nou dood en weg. Hulle sal nooit weer terugkom nie! U het hulle gestraf en hulle vernietig, en hulle is lankal vergete. Ons prys U, HERE! U het ons volk groot gemaak. U het ons landsgrense uitgebrei! So het U u mag getoon. “HERE, in ons nood het ons U gesoek. Ons het na U geroep toe U ons gestraf het. Ons is soos ’n swanger vrou wat inmekaarkrimp van pyn. Só, HERE, was ons in u teenwoordigheid. Ons was swanger, en het inmekaargekrimp van pyn, maar ons het geboorte gegee aan wind. Ons kon nie die wêreld red nie. Daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie. “Tog het ons dié versekering: Dié wat aan God behoort, sal lewe. Hulle liggame sal weer opstaan! Dié wat in die aarde slaap, staan op en sing van vreugde! Soos die dou lewe gee, so gee U krag tot lewe. Die aarde sal hulle wat gesterf het weer lewend teruggee.”
JESAJA 26:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Eendag sal die mense van Juda hierdie lied sing in hulle land. Hulle sal sê: “Ons het 'n sterk stad. Die Here het die sterk mure gebou om ons te beskerm. Julle moet die poorte oopmaak sodat die volk kan ingaan, die volk wat doen wat die Here wil hê, die volk wat gehoorsaam is aan Hom. Hierdie volk weet dat die Here hulle sal help. U sal hulle laat rus en vrede vir hulle gee, want hulle glo in U. Julle moet altyd in die Here glo, want as julle by Hom is, dan is julle by 'n rots wat altyd vas staan. Die Here het ons vyande laat afval van hulle hoë mure. Hy het hulle stad en die hoë mure afgebreek tot op die grond. Die mense wat hulleself nie kon help nie en wat arm was, trap nou op daardie stad.” Die mense wat reg doen, se pad is gelyk. Here, U maak dit vir hulle maklik om te lewe. Ons glo altyd in U, ook wanneer U die Regter is. Ons wil altyd u Naam noem en U eer. Ek verlang na U met my hele hart, ook in die nag, en ek soek na U. Wanneer U die Regter is en U straf die mense, dan leer U vir hulle om reg te lewe op die aarde. Maar wanneer U goed is vir die mense wat verkeerd doen, dan leer hulle nie om reg te lewe nie. Hulle hou aan om verkeerd te doen en hulle sien nie dat die Here die Koning is nie. U het u hand opgelig om hulle te straf, maar hulle sien dit nie. Here, wys vir hulle dat U lief is vir u volk. Laat u vyande in die vuur brand wanneer U kwaad word, sodat hulle sal weet hulle kan self niks doen nie. Here, U sal oor ons regeer en vir ons vrede gee, want dit is U wat alles gedoen het wat ons gedoen het. Here, ons God, ander konings het oor ons regeer, maar ons wil net ú Naam onthou. Die ander konings is dood en hulle sal nie weer lewe nie. U het hulle gestraf en U het hulle laat sterf, en niemand dink nou nog aan hulle nie. Here, U het u volk baie laat word, U het hulle baie laat word, U het hulle land groter gemaak, U het gewys U is die Koning. Here, U het u volk gestraf, en toe hulle swaarkry, het hulle na U toe gekom, hulle het gebid en gevra U moet hulle help. Ons was soos 'n vrou wat 'n baba kry, dit was seer, ons het baie pyn gehad. Ons het gebid en gevra U moet ons kom help. Ons liggaam het krom gebuig soos 'n vrou wat 'n baba kry, maar daar het nie 'n baba uit ons gekom nie, daar het niks uitgekom nie. Daar het nie 'n redder uit ons gekom nie, en ook nie mense wat op die aarde kan woon nie. Maar die mense wat aan U behoort en wat gesterf het, sal weer lewe. Ja, julle wat nou dood is, wat in die stof van die aarde lê, julle wat daar in die doderyk is, julle moet wakker word en juig, want soos die dou uit die lug die plante laat groei, so sal die aarde die mense wat gesterf het, weer laat lewe.
JESAJA 26:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: 'n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar! U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U. Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is 'n ewige rots. Want Hy het die bewoners van die hoogte neergewerp, die steil vesting; Hy het dit afgegooi, afgegooi tot by die grond, dit laat kom tot in die stof. Die voet vertrap dit, die voete van die ellendige, die voetstappe van die armes. Die pad van die regverdige is gelyk; U maak die spoor van die regverdige gelyk. Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit. Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid. Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in 'n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie. HERE, is u hand opgehef, hulle sien dit nie; maar hulle sal dit sien en beskaamd staan; die ywer vir die volk, ook die vuur teen u teëstanders sal hulle verteer. HERE, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons volbring. HERE, onse God, ander here buiten U het oor ons geheers, maar deur U alleen prys ons ú Naam. Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan. U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei. HERE, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het. Soos 'n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp, skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o HERE! Ons was swanger, het weë gehad — dit was asof ons wind gebaar het; ons het die land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewoners gebore nie. U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.
JESAJA 26:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het 'n sterk stad, God beskerm ons met mure, met 'n vesting. Maak oop die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God gehoorsaam is en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug. Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe, Hy gooi hulle hoë stadsmure om, Hy maak dit gelyk met die grond en laat lê dit in die stof. Hulle sal onder die voete vertrap word, onder die voete van onderdruktes; die armes sal op hulle trap. Die pad van die regverdige is reguit, U maak sy pad gelyk. Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U. Ons wil u Naam eer en U aanroep. In die nag smag ek na U, in die môre vra ek na u wil. Wanneer U die aarde straf, leer sy inwoners wat geregtigheid is. Daar word goed gedoen aan die goddeloses, maar hulle leer nie wat geregtigheid is nie, hulle verdraai die reg en erken nie die mag van die Here nie. U staan gereed om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Laat hulle ondervind dat U vir u volk opkom: laat die pogings van hierdie teëstanders van U misluk, laat vuur hulle verteer. U regeer in vrede oor ons, Here, U doen alles vir ons. Behalwe U, Here ons God, het ander konings oor ons geregeer, maar ons wil net ú Naam onthou. Hulle is nou dood en sal nie weer lewe nie, hulle gees sal nie weer opstaan nie. U het hulle gestraf en uitgewis, U maak dat niemand meer aan hulle dink nie. Here, U het u volk meer laat word, U het hulle meer laat word en hulle landsgrense uitgebrei. So het U u mag getoon. Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem, toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep. Soos 'n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy 'n kind in die wêreld wil bring, so, Here, is ons in u teenwoordigheid. Ons was swanger, ons het inmekaar gekrimp van pyn, maar ons het niks in die wêreld gebring nie: ons het nie 'n redder vir die land gegee nie, en daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie. Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.
JESAJA 26:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op daardie dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: “Ons het 'n sterk stad; God se redding is die stadsmure en verdedigingswal. Maak oop die poorte, sodat 'n regverdige nasie kan ingaan, hulle wat getrou bly! 'n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word. Vertrou te alle tye op die HERE, want die HERE, die HERE is 'n ewige rots. Ja, dié wat hoog woon, die ontoeganklike stad, laat Hy tuimel. Hy haal haar neer, Hy haal haar tot die grond toe neer – Hy gooi haar neer tot in die stof. Voete vertrap haar, die voete van magteloses, die treë van armes.” Die paaie van regverdiges is gelyk; reguit is die weë van regverdiges wat U vir hulle skoonmaak. Selfs op die pad van u oordele, HERE, het ons op U gewag. U Naam, u gevierde Naam, was ons hartsverlange. Met my hele wese smag ek na U in die nag, ja, my gees in my binneste soek na U. Want wanneer u oordele die aarde tref, leer die bewoners van die wêreld wat reg is. Wanneer genade aan goddeloses bewys word, leer hulle nie wat reg is nie. In 'n land waar opregtheid heers, pleeg hulle onreg; die verhewenheid van die HERE sien hulle nie raak nie. HERE, dat u hand opgehef is, merk hulle nie op nie. Die ywer vir u volk – laat hulle dit opmerk en beskaamd staan. Laat ook die vuur, bestem vir u vyande, hulle verteer. HERE, U beskik vir ons vrede; ja, ook alles wat ons vermag het, het U vir ons bewerk. HERE, ons God, ander here as U het oor ons regeer. Alleen deur u toedoen bely ons u Naam. Dooies kan nie leef nie, skimme kan nie opstaan nie; daarom het U rekenskap geëis, hulle uitgedelg. Alle herinnering aan hulle het U uitgewis. U het die nasie vermeerder, HERE, U het die nasie vermeerder, U het Uself verheerlik. U het alle grense van die land uitgebrei. HERE, in nood het hulle U opgesoek; hulle was benoud vanweë die fluistering dat u tugtiging vir hulle bedoel is. Soos 'n swanger vrou wat op die punt is om geboorte te gee, ineenkrimp en uitroep in haar geboortepyne, so was ons vanweë u teenwoordigheid, HERE. Ons was swanger, het ineengekrimp, maar dit was asof ons aan wind geboorte geskenk het. Redding kon ons nie vir die land bewerk nie, die bewoners van die wêreld het nie geval nie. Jou dooies sal leef, Israel; hulle lyke sal opstaan. Word wakker en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n hemelse dou, en die aarde sal aan skimme geboorte gee.
JESAJA 26:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land van Juda; Ons het 'n sterk stad; redding sal God aanstel vir mure en skanse. Maak die poorte oop, sodat die regverdige nasie wat die waarheid bewaar, kan ingaan. U sal hom wie se gedagtes op u vertoef, in volkome vrede bewaar, omdat hy op u vertrou. Vertrou vir ewig op die HERE, want in die HERE HERE is ewige sterkte. Want Hy laat die wat in die hoogte woon, neerwerp; die verhewe stad, Hy lê dit neer; hy lê dit neer, tot op die grond; hy bring dit tot in die stof. Die voet sal dit vertrap, die voete van die armes en die voetstappe van die behoeftige. Die weg van die regverdige is opregtheid; U, die mees opregte, weeg die pad van die regverdige. Ja, in die weg van u oordele, HERE, het ons op U gewag; die begeerte van ons siel is tot u Naam en tot u gedagtenis. Met my siel het ek U begeer in die nag; ja, met my gees in my sal ek U vroeg soek, want as u oordele op die aarde is, sal die bewoners van die wêreld geregtigheid leer. Laat guns aan die goddelose bewys word, maar hy sal geregtigheid nie leer nie; in die land van opregtheid sal hy onreg doen en die majesteit van die HERE nie aanskou nie. HERE, as u hand opgehef is, sal hulle dit nie sien nie; ja, die vuur van u vyande sal hulle verteer. HERE, U sal vrede vir ons bepaal, want U het ook al ons werke in ons gedoen. O HERE onse God, ander HERE naas U het oor ons geheers; maar deur U alleen sal ons u Naam noem. Hulle is dood, hulle sal nie lewe nie; hulle het gesterf, hulle sal nie opstaan nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en hulle hele nagedagtenis laat vergaan. U het die nasie vermeerder, HERE, U het die nasie vermeerder; U is verheerlik; U het dit ver verskuif tot al die eindes van die aarde. HERE, in benoudheid het hulle U besoek, hulle het 'n gebed uitgestort toe u tugtiging oor hulle was. Soos 'n swanger vrou wat die tyd van haar bevalling nader kom, pyn het en roep in haar weë; so was ons voor u oë, HERE. Ons was swanger, ons het pyn gehad, ons het as 't ware wind voortgebring; ons het geen verlossing op die aarde bewerk nie; ook het die bewoners van die wêreld nie geval nie. Jou dooies sal lewe, saam met my dooie liggaam sal hulle opstaan. Ontwaak en sing, julle wat in die stof woon, want julle dou is soos die dou van kruie, en die aarde sal die dooies uitdryf.