JESAJA 26:1-19

JESAJA 26:1-19 NLV

Daardie dag sal almal in die land van Juda hierdie lied sing: “Ons stad is nou sterk! Ons is omring deur die mure van God se redding. Maak oop die poorte vir almal wat regverdig is. Laat die getroues binnekom. U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is. Vertrou deurgaans op die HERE, want die HERE God is vir altyd ’n veilige toevlug. Hy verneder die trotses, en die arrogante stad gooi Hy in die stof neer. Hy gooi die mure om! Die arm en verdrukte mense vertrap dit onder hulle voete. “Die pad van die regverdige is reguit. Regverdige Een, U maak die pad van die regverdige gelyk. HERE, ons doen graag wat U van ons vra. Ons enigste begeerte is om u Naam te eer. Heelnag lank soek ek na U, in die môre smag ek na U. Eers wanneer U kom om die aarde te oordeel, sal mense leer om te doen wat reg is. Uit die goedheid wat U aan die bose mense bewys, leer hulle nie wat reg is nie. Selfs waar daar reg geskied, doen hulle nog die verkeerde en steur hulle nie aan die mag van die HERE nie. O HERE, hulle luister nie wanneer U hulle dreig nie. Wys hulle dat U gretig is om u volk te beskerm. Miskien kry hulle dan skaam. Laat u vuur u vyande verteer. “HERE, U sal ons vrede gee. Alles wat ons bereik het, het U vir ons gedoen. HERE ons God, ander het oor ons regeer, maar ons aanbid U alleen. Dié wat ons gedien het, is nou dood en weg. Hulle sal nooit weer terugkom nie! U het hulle gestraf en hulle vernietig, en hulle is lankal vergete. Ons prys U, HERE! U het ons volk groot gemaak. U het ons landsgrense uitgebrei! So het U u mag getoon. “HERE, in ons nood het ons U gesoek. Ons het na U geroep toe U ons gestraf het. Ons is soos ’n swanger vrou wat inmekaarkrimp van pyn. Só, HERE, was ons in u teenwoordigheid. Ons was swanger, en het inmekaargekrimp van pyn, maar ons het geboorte gegee aan wind. Ons kon nie die wêreld red nie. Daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie. “Tog het ons dié versekering: Dié wat aan God behoort, sal lewe. Hulle liggame sal weer opstaan! Dié wat in die aarde slaap, staan op en sing van vreugde! Soos die dou lewe gee, so gee U krag tot lewe. Die aarde sal hulle wat gesterf het weer lewend teruggee.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor JESAJA 26:1-19