HOSEA 2:13-22

HOSEA 2:13-22 AFR83

Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê. Wanneer ons daar is, sal Ek weer vir haar wingerde gee, Ek sal die Akorlaagte 'n poort na 'n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het. Dié dag, sê die Here, sal jy vir My sê: “My man,” en My nie meer as 'n Baäl beskou nie. Ek sal sorg dat jy die name van die Baäls nie weer noem nie en dat jy hulle nooit weer aanroep nie. Dié dag sal Ek vir Israel 'n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip. Ek sal die wapens vernietig en 'n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees. Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees. Dié dag sal Ek antwoord, sê die Here. Ek sal die lug antwoord en dié sal die grond antwoord. En die grond sal antwoord met koring, wyn en olie vir Jisreël. Ek sal my ontferm oor Sonder-ontferming en haar vrugbaar maak in die land. Ek sal vir Nie-my-volk-nie sê: “Jy is my volk,” en hy sal vir My sê: “My God.”