HEBREËRS 3:7-19

HEBREËRS 3:7-19 AFR83

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het. Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het. Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’ Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog 'n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.” Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? En van wie het God veertig jaar lank 'n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy 'n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid