HEBREËRS 3:7-19

HEBREËRS 3:7-19 Bybel vir almal (ABA)

Daarom, die Heilige Gees sê: Vandag, wanneer julle luister na wat God sê, dan moet julle nie hardkoppig wees nie, soos toe julle opstandig was teen God op die dag toe julle vir Hom in die woestyn getoets het. Julle voorvaders het daar 40 jaar lank gesien wat Ek gedoen het, maar hulle het My getoets, hulle wou kyk of Ek hulle sal straf. Daarom was Ek kwaad vir daardie geslag en Ek het gesê: “Hulle is mense wat nooit weet wat hulle doen nie, hulle wil nie lewe soos Ek wil hê nie.” Ek was kwaad en Ek het gesê: “So seker soos Ek lewe, hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie.” My vriende, daarom moet julle oppas dat nie een van julle so sleg en opstandig word dat julle ophou om te glo in die God wat lewe nie. Maar julle moet mekaar help om reg te lewe, sodat niemand van julle hardkoppig word omdat die sonde hom verlei nie. Julle moet dit doen elke dag wat julle lewe, elke dag wanneer julle kan sê dit is nog “ vandag.” Want ons is Christus se vriende en ons werk saam met Hom as ons tot aan die einde aanhou om vas te hou aan die dinge wat ons in die begin geglo het. Dit is soos die Ou Testament sê: Vandag, wanneer julle luister na wat God sê, dan moet julle nie so hardkoppig wees soos toe julle opstandig was teen God nie. Wie is daardie mense wat gehoor het wat God gesê het, maar wat opstandig was? Dit is al die mense wat saam met Moses uit die land Egipte getrek het, dit is seker. Vir wie was God 40 jaar lank kwaad? Hy was kwaad vir die mense wat sonde gedoen het, daardie mense se dooie liggame het in die woestyn gelê. God het gesê: “ So seker soos Ek lewe, hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie.” Vir wie het God dit gesê? Hy het dit gesê vir die mense wat nie geluister het na Hom nie. Daarom sien ons dat hulle nie kon ingaan in die land nie omdat hulle nie in God geglo het nie.

HEBREËRS 3:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het. Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het. Daarom het Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’ Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog 'n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.” Wie was dit dan wat gehoor het en tog in opstand gekom het? Was dit nie hulle almal wat onder leiding van Moses uit Egipte getrek het nie? En van wie het God veertig jaar lank 'n afkeer gehad? Was dit nie van hulle wat gesondig het en wie se dooie liggame in die woestyn agtergebly het nie? Oor wie anders as dié wat ongehoorsaam was, het Hy 'n eed afgelê dat hulle nie in sy rus sou ingaan nie? Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie.

HEBREËRS 3:7-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, soos die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand die dag van versoeking in die woestyn, toe julle voorouers My versoek en beproef het nie, al het hulle my dade gesien – veertig jaar lank. Daarom het my toorn ontvlam teenoor hierdie geslag, en het Ek gesê, ‘In hulle harte is hulle altyd op 'n dwaalspoor, en my paaie wou hulle nie leer ken nie.’ So het Ek in my toorn gesweer, ‘Hulle sal beslis nie in my rus ingaan nie!’ ” Broers, waak daarteen dat nie een van julle ooit 'n bose hart vol ongeloof kry deur van die lewende God afvallig te word nie. Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van “vandag” sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Ons het inderdaad deelgenote van •Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue – soos gesê word: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand nie.” Wie was dit wat gehoor het, maar nietemin in opstand gekom het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte uitgetrek het nie? Op wie was Hy veertig jaar lank toornig? Was dit nie op hulle wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn gelê het nie? Vir wie, behalwe hulle wat ongehoorsaam was, het Hy gesweer dat hulle beslis nie in sy rus sal ingaan nie? Ons sien dus dat hulle vanweë ongeloof nie in staat was om in sy rus in te gaan nie.

HEBREËRS 3:7-19 Die Boodskap (DB)

Luister na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle nie ignoreer wat Hy sê nie. Julle voorvaders het presies dit in die woestyn gedoen - hulle het teen My gedraai en gekyk hoe ver hulle met My kan gaan voor Ek my geduld verloor. Julle moet beslis nie hulle voorbeeld volg nie. In die woestyn het Ek 40 jaar lank vir hulle so baie gedoen en hulle het dit geweet; nogtans het hulle my geduld tot die uiterste op die proef gestel. Uiteindelik het my geduld opgeraak en Ek het gesê: ‘Hulle wil nie regtig by My wees nie, maar is heeltyd op soek na iets anders, hulle stel nie regtig belang om te gaan waar Ek gaan nie.’ Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.” Wees daarom wakker, my broers en susters. Maak seker dat daar nie iemand onder julle is wat so in die sonde baljaar dat hy die pad na die lewende God byster raak omdat hy God nie meer vertrou nie. Praat mekaar elke dag moed in terwyl God nog vir ons die kans gee om dit te doen. Help mekaar dat nie een van julle deur die lekker van die sonde so betower word dat julle God nie meer raaksien nie. Wat Christus s’n is, is ons s’n as ons enduit vasberade op God bly vertrou soos ons dit aan die begin gedoen het. Luister weer ’n keer wat gesê is: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer soos julle gemaak het toe julle teen Hom gedraai het nie.” Wie was hierdie mense met wie God gepraat en wat so teen God gedraai het? Was dit nie die einste mense vir wie Moses uit Egipte laat trek het nie? En met wie het God se geduld in die 40 jaar opgeraak? Was dit nie die mense wat nie wou doen wat God vra nie? Hulle is toe mos net daar in die woestyn dood. Vir wie het God gesê dat hulle vir seker nooit sal ervaar wat dit beteken om vir ewig saam met Hom te rus nie? Ja-nee, dit was niemand anders nie as die mense wat nie na Hom wou luister nie. Dit is geen geheim waarom hulle nie vir ewig saam met God sal rus nie: hulle het God nie vertrou nie.

HEBREËRS 3:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê: “Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard soos Israel gedoen het toe hulle gerebelleer het nie, toe hulle God se geduld in die woestyn getoets het. Dáár het julle voorvaders my geduld beproef ten spyte daarvan dat hulle vir 40 jaar my magtige dade aanskou het. Daarom het Ek vir daardie geslag kwaad geword en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd van My af weg. Hulle wou nie doen wat Ek van hulle verwag nie.’ Daarom het Ek in my toorn onder eed verklaar: ‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’” Wees dan versigtig, broers en susters. Maak seker dat daar nie by enigeen van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof posvat wat julle vervreem van die lewende God nie. Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor, ja, so lank as wat die “vandag” nog bestaan, om te keer dat een van julle deur die verleidelikheid van die sonde verhard word. Want as ons enduit stewig bly vashou aan die vertroue op God waarmee ons oorspronklik begin het, het ons deelgenote geword van alles wat aan Christus behoort. Daarom moet julle nooit die vermaning vergeet nie: “Vandag wanneer julle sy stem hoor, moet julle nie julle harte verhard soos Israel gedoen het toe hulle gerebelleer het nie.” Wie was daardie mense wat gerebelleer het alhoewel hulle God se stem gehoor het? Was hulle nie die mense vir wie Moses uit Egipte gelei het nie? En vir wie was God 40 jaar lank kwaad? Was dit nie die mense wat gesondig het en wat in die woestyn omgekom het nie? Oor wie het God met ’n eed verklaar dat hulle nie sy land van rus sal binnegaan nie? Was dit nie juis hulle wat aan Hom ongehoorsaam was nie? Ons sien dus dat dit juis as gevolg van hulle ongeloof was dat hulle nie in die land van rus kon ingaan nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid