Jakob het sy koers gegaan, en engele van God het hom teëgekom. Toe Jakob hulle sien, sê hy: “Dit is 'n leër van God,” en Jakob het die plek Maganajim genoem.
Daarna het Jakob boodskappers vooruitgestuur na sy broer Esau toe, na die Seïrstreek toe, die gebied van Edom.
Jakob het vir hulle gesê: “So moet julle vir my geagte broer, vir Esau sê: So sê Jakob wat aan u onderdanig wil wees: Ek het tot nou toe by Laban gebly. Ek besit beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek laat u dit weet om te verneem of ek by u welkom sal wees.”
Die boodskappers het na Jakob toe teruggekom en kom sê: “Ons het by u broer Esau aangekom, maar toe was hy al op pad na u toe met vier honderd man by hom.”
Jakob het baie bang geword, angs het hom oorval. Toe deel hy die mense by hom, en die kleinvee, die beeste en die kamele in twee groepe, want hy het gedink: as Esau by die eerste groep kom en dit uitwis, kan die ander groep dalk wegkom.
Daarna het Jakob gebid: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my, ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe. Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders. U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.”