Jakob het sy reis voortgesit. Engele van God het hom teëgekom. Jakob het, toe hy hulle sien, gesê: “Dit is die leër van God!” Hy het daardie plek toe Maganajim genoem.
Jakob het boodskappers voor hom uit gestuur na Esau, sy broer, na die land Seïr, in die gebied van Edom. Hy het hulle opdrag gegee: “So moet julle vir my heer, vir Esau, sê, ‘So sê u dienaar Jakob: “By Laban het ek as •vreemdeling gewoon, en ek het daar vertoef tot nou toe. Ek het beeste en donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek stuur graag die boodskappers om my heer in te lig, sodat ek guns kan vind in u oë.” ’ ”
Die boodskappers het na Jakob teruggekeer en gesê: “Ons het by u broer Esau aangekom. Wat meer is, hy is op pad om u te ontmoet, met vierhonderd man by hom!” Jakob het baie bang geword; dit het hom benoud gemaak. Hy het toe die mense wat by hom was, die kleinvee, die beeste en kamele in twee kampe verdeel. Hy het gedink: As Esau op die een kamp afkom en dit aanval, kan die kamp wat oorbly, ontvlug.
Jakob het gesê: “God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, HERE, U wat vir my gesê het, ‘Gaan terug na jou land en jou familie, en Ek sal aan jou goed doen’ – ek is te gering vir al die gunsbewyse en al die trou wat U aan u dienskneg bewys het, want ek het met net my wandelstok hierdie Jordaan oorgesteek, en nou het ek twee vol kampe geword. Red my asseblief uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom. Anders kom hy en verslaan my – die ma's saam met die kinders. U het self gesê, ‘Ek sal beslis aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see, wat vanweë die hoeveelheid nie getel kan word nie.’ ”