Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.
Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is.
Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie. Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.
Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.
Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.
Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie. Toe het die Here God 'n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe.
Toe sê die mens:
“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;
sy is uit die man geneem.”
Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.