GENESIS 2:1-25

GENESIS 2:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

So is die skepping van die hemel en die aarde en alles wat daarin is, voltooi. Op die sewende dag was God klaar met alles wat Hy gemaak het en Hy het op die sewende dag na al sy werk gerus. God het ook die sewende dag geseën. Hy het bepaal dat dit afgesonder moet word van die ander dae omdat Hy op daardie dag gerus het nadat Hy sy skeppingswerk gedoen het. Dit is dan die geskiedenis van die skepping van die hemel en die aarde. Toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike of groen gras op die aarde nie, want die HERE God het dit nog nie laat reën nie. Daar was nog nie ’n mens wat die grond kon bewerk nie. Maar water het uit die aarde opgeborrel en so is die grond natgemaak. Toe vorm die HERE God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword. Daarna het die HERE God ’n tuin in Eden in die ooste geplant. Hy het die mens wat Hy geskape het daarin laat woon. Die HERE God het ook verskillende soorte bome uit die grond laat opkom. Dit was mooi bome met heerlike vrugte. Die boom van die lewe het Hy in die middel van die tuin geplant en ook die boom van kennis van wat reg en verkeerd is. ’n Rivier wat in Eden ontspring het, het water na die tuin gebring en daar in vier strome verdeel. Die een, die Pison, loop om die hele land Gawila. Dis die plek wat ryk is aan goud. Die goud is van hoogstaande gehalte en daar is ook balsem en oniks. Die tweede, die Gihon, vloei om die hele land Kus. Die derde een, die Tigris, loop oos van Assirië verby. Die vierde is die Eufraat. Die HERE God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg. Maar die HERE God het hom gewaarsku: “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” Daarna sê die HERE God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, een soos hy.” Toe het die HERE God uit die grond al die verskillende soorte diere en voëls gevorm. Daarop neem Hy hulle na die mens toe om te sien wat hy hulle sou noem. En die mens het vir elkeen ’n naam gegee, vir al die mak diere, die voëls en wilde diere. Hy kon egter onder hulle nie een kry wat soos hy is en vir hom ’n metgesel kon wees nie. Toe het die HERE God die mens baie diep laat slaap. Terwyl hy slaap, vat Hy een van die mens se ribbebene en vul die plek weer op met vleis. Van die ribbebeen maak die HERE God toe ’n vrou en bring haar na die mens toe. “Uiteindelik is dit die regte metgesel!” sê die mens. “Sy is regtig deel van my. Sy sal ‘vrou’ genoem word, want sy is uit die man geneem.” Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word. Alhoewel die mens en sy vrou sonder klere was, was hulle nie skaam vir mekaar nie.

GENESIS 2:1-25 Bybel vir almal (ABA)

God het die hemel en alles daarin klaar gemaak en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was al die werk wat God gedoen het, klaar. Hy het op die sewende dag gerus, Hy het nie gewerk nie. God het die sewende dag geseën. Hy het dit 'n gewyde dag gemaak, want op daardie dag het Hy gerus nadat Hy al sy werk klaar gedoen het. Dit is hoe die hemel en die aarde begin het toe God dit gemaak het. Toe die Here God die hemel en die aarde gemaak het, was daar nog nie plante in die veld op die aarde nie. Daar het nog nie plante gegroei nie, want die Here God het nog nie reën op die aarde laat val nie. Daar was ook nog nie 'n mens wat in die grond kon werk nie. Daar het water uit die aarde opgekom en die water het die grond natgemaak. Toe het die Here God stof geneem uit die grond en Hy het van die stof 'n mens gemaak. Die Here God het asem in die mens se neus geblaas, en die mens het begin lewe. Die Here God het bome geplant in 'n tuin in Eden in die ooste. Hy het die mens wat Hy gemaak het, daar laat woon. Die Here God het verskillende soorte bome uit die grond laat groei. Dit was mooi bome wat lekker vrugte gedra het. In die middel van die tuin was die boom wat lewe gee, en ook die boom wat vir mense die kennis kan gee sodat hulle sal weet wat goed is en wat sleg is. Daar het 'n rivier uit Eden gekom om die tuin nat te maak. Die rivier het verdeel en dit het vier riviere geword. Die naam van die een rivier was Pison. Hierdie rivier het om die hele Gawila-land gevloei. Daar was goud en die goud was goed. Daar was ook balsem en oniks. Die naam van die tweede rivier was Gihon. Dit het om die hele land Kus gevloei. Die naam van die derde rivier was Tigris. Dit het oos van die land Assirië gevloei. Die naam van die vierde rivier was Eufraat. Die Here God het die mens in die Eden-tuin laat woon om daarin te werk en dit op te pas. Die Here God het vir die mens gesê: “Jy mag van al die vrugte in die tuin eet, maar een boom se vrugte mag jy nie eet nie. Dit is die boom wat jou kan help om te weet wat goed is en wat sleg is. As jy van daardie vrugte eet, dan sal jy sterf. Dit is seker.” Die Here God het gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n maat maak wat hom kan help.” Die Here God neem toe grond en Hy maak al die diere op die land en al die voëls. Toe bring Hy al die diere en die voëls na die mens toe. Die Here God wou weet watter name die mens vir die diere sou gee. So het die diere hulle name gekry. Die mens het name gegee vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself kon hy nie 'n maat kry om hom te help nie. Die Here God het toe die mens vas laat slaap. Hy het 'n rib uit die mens se bors gehaal, en Hy het die plek weer toegemaak waar Hy dit uitgehaal het. Daarna het die Here God 'n vrou gemaak van die man se rib en Hy het haar na die mens toe gebring. Die mens sê toe: “Nou het die Here iemand gebring wat 'n mens is soos ek. Haar liggaam kom uit my liggaam. Haar naam moet vrou wees, want sy kom uit die man.” Daarom gaan 'n man weg van sy pa en ma en hy gaan woon by sy vrou, sodat hulle een kan word. Die mens en sy vrou was kaal, maar hulle was nie skaam daaroor nie.

GENESIS 2:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

SO is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. DIT is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword. Ook het die HERE God 'n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, 'n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. En daar het 'n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas. En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie. Toe het die HERE God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

GENESIS 2:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie. Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het. Die Here God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis. Daar het 'n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat. Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.” Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie. Toe het die Here God 'n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

GENESIS 2:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi. God was op die sewende dag klaar met sy werk wat Hy gedoen het; en Hy het op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gedoen het. God het die sewende dag geseën; Hy het dit heilig verklaar, want op dié dag het Hy gerus van al sy werk – dit wat God geskep het deur dit te maak. Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het – geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak – het die HERE God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword. Die HERE God het 'n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die HERE God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – 'n genoeë om na te kyk en goed om van te eet. Die boom van die lewe was in die middel van die tuin, en ook die boom van die kennis van goed en kwaad. 'n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. Die naam van die eerste is Pison. Dit is die een wat vloei om die hele land Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie landstreek is goed. Daar is ook balsemhars en •oniksgesteentes. Die naam van die tweede rivier is Gihon. Dit is die een wat om die hele land Kus vloei. Die naam van die derde rivier is Hiddekel. Dit is die een wat aan die oostekant van Assirië vloei. Die vierde rivier is die Eufraat. Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die HERE God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” Die HERE God het ook gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n helper maak, as sy gelyke.” Toe vorm die HERE God uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel, en Hy bring hulle na die mens om te sien wat hy hulle sou noem; en wat ook al die mens 'n lewende wese genoem het, dit was sy naam. So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie 'n helper, as sy gelyke, gevind nie. Die HERE God het toe die mens in 'n diep slaap laat val, en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vleis toegemaak. Die HERE God het toe die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, omgebou tot 'n vrou, en haar na die mens gebring. Toe sê die mens: “Hierdie een is dié keer been uit my eie gebeente, vlees uit my eie vlees. Hierdie een sal vrou genoem word, want uit die man is sy geneem.” Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word. Hulle twee was naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.

GENESIS 2:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

So was die hemel en die aarde volbring, en hulle hele leër. Op die sewende dag het God Sy werk voltooi wat Hy gemaak het; en op die sewende dag het hy gerus van al Sy werk wat hy gemaak het. God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het na al die skeppingswerk wat hy gedoen het. Dit is dan die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is, asook van die mens in die tuin op die dag toe die HERE God hulle gemaak het. Asook al die plante van die veld voordat dit in die aarde was, en al die plante van die veld voordat dit gegroei het, want die HERE God het dit nie op die aarde laat reën nie, en daar was niemand om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het van die aarde af opgegaan en die hele oppervlakte van die aarde natgemaak. Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en die asem van die lewe in sy neus geblaas; en die mens het 'n lewende siel geword. Die HERE God het 'n tuin in Eden in die ooste geplant; en daar het hy die man wat hy gevorm het, neergesit. Die HERE God het verskillende bome uit die grond laat groei, pragtige bome met heerlike vrugte wat goed is om te eet. In die middel van die tuin het die boom van lewe gestaan, asook en die boom van kennis van goed en kwaad. 'n Rivier het uit Eden uitgegaan om die tuin nat te lei; en daarvandaan is dit geskei in vier koppe. Die naam van die eerste is Pison; dis wat die hele land Hawila omsingel, waar goud is; En die goud van daardie land is goed: daar is balsem en die onikssteen. Die naam van die tweede rivier is Gihon; wat die hele Kus land omtrek. Die naam van die derde rivier is Hiddekel; wat oos van Assirië loop. En die vierde rivier is Eufraat. Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden gesit om dit te bewerk en te bewaak. Die HERE God het die mens beveel en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vrylik eet. Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Die HERE God het gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom 'n hulp maak wat vir hom 'n gelyke sal wees. En die HERE God het uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel gevorm; en hulle na Adam gebring om te sien hoe hy hulle sou noem; en wat Adam ook al elke lewende wese genoem het, dit was die naam daarvan. Adam het name gegee aan al die vee, al die voëls van die hemel en aan al die diere van die veld; maar vir Adam is daar geen hulp gevind wat vir hom geskik was nie. En die HERE God het 'n diepe slaap op die mens laat val, en hy het geslaap; Uit die rib wat die HERE God van die mens geneem het, het Hy 'n vrou gemaak en haar na die man gebring. Toe sê Adam: Dit is nou been van my gebeente en vlees van my vlees: sy sal Vrou genoem word, omdat sy uit die mens geneem is. Daarom sal 'n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees word. Hulle was al twee naak, die man en sy vrou, en het hulle nie geskaam nie.

GENESIS 2:1-25 Die Boodskap (DB)

So het die hemel en die aarde en alles daarin ontstaan. Op die sewende dag was alles klaar. Al God se werk was afgehandel. Op die sewende dag het Hy toe gerus van al die werk wat Hy gedoen het. God het toe dié dag geseën en gesê dit moet afgesonder wees van die ander ses dae. Op die sewende dag het God nie gewerk nie, Hy het van die vorige dae se werk gerus. Dit is dan die verhaal van die hemel en die aarde en hoe dit ontstaan het. Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was alles op aarde kurkdroog. Daar was nie ’n enkele plant in die grond nie en ook geen bossies in die veld nie. Alles was droog, want die Here God het nog nie reën op die aarde gestuur nie en daar was ook nog geen mens om die aarde te bewerk nie. ’n Mistigheid het later vanuit die dieptes van die aarde opgekom en die grond natgemaak. Toe het die Here God van die aarde se bogrond gevat en ’n mens daarvan gemaak. Hy het ook sy asem in die mens se neusgate geblaas en die mens het begin leef. Die Here God het toe ’n tuin in Eden, in die ooste, geplant en die mens daar laat bly. Die Here God het verskillende bome uit die vrugbare tuin se grond laat opkom; pragtige bome met heerlike vrugte wat lekker is om te eet. In die middel van die tuin het die boom van die lewe gestaan asook die boom van kennis van goed en kwaad. ’n Groot rivier het binne-in Eden ontstaan en die hele tuin natgemaak. Daarvandaan het dit in vier takke verdeel. Die naam van die een tak was die Pison. Dit het deur die land van Hawila gekronkel. In Hawila was daar suiwer goud, balsem en oniks. Die tweede rivier is die Gihon genoem. Dit het deur die land Kus geloop. Die Tigris was die derde rivier. Dit is die een wat oos van Assur verbyloop. En die vierde rivier was die Eufraat. Die Here God het die mens in die tuin gesit sodat hy dit kon bewerk en oppas. Hy het ook vir die mens gesê: “Jy is welkom om van al die bome in die tuin te eet. Daar is egter een boom waarvan jy nooit mag eet nie. Dit is die boom wat kennis gee van goed en kwaad. Die oomblik dat jy daarvan eet, word jou bestemming die dood.” Die Here God het verder gesê: “Dit is nie reg dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan bystaan en hom kan help.” Die Here God het elke soort dier uit die grond gemaak asook al die voëls van die hemel. Hy het hulle na die mens toe gebring sodat hy vir hulle name kon gee. Watter naam hy ook al gegee het, so is daardie dier en voël genoem. Die man het toe name aan al die mak diere, al die voëls en al die wilde diere gegee. Nie een was egter goed genoeg om hom te help nie. Die Here God het die mens toe diep laat slaap. Terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbes gevat en die oop stuk met vleis toegemaak. Uit die rib van die mens het die Here God ’n vrou gevorm. Hy het haar na hom toe gebring. Die mens het oorstelp van vreugde gesê: “Uiteindelik het ek iemand gekry wat net soos ek is en soos ek lyk, iemand met ’n liggaam net soos myne. Ek gaan haar ‘vrou’ noem, want sy is deel van my.” Dit is waarom ’n man tot vandag toe sy ouerhuis verlaat om saam met die vrou van sy liefde te bly. Hulle liefde vir mekaar maak hulle een in liggaam en gees. Hulle twee, die man en die vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.

GENESIS 2:1-25

GENESIS 2:1-25 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid