Toe sê Abram vir Lot: “Daar behoort nie 'n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie. Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.” Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos 'n tuin van die Here, soos Egipte. Dit was naamlik nog voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het. Lot het die hele Jordaanstreek vir hom gekies en hy het ooswaarts versit. So het die twee van mekaar geskei: Abram het in Kanaän bly woon, en Lot het in die stede van die Jordaanstreek gewoon; tot by Sodom het hy gaan tent opslaan. Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here. Nadat Lot van Abram af weg is, het die Here vir Abram gesê: “Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste. Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word. Trek nou deur die land, deur sy lengte en sy breedte, want Ek gee dit vir jou.” Abram het sy tente versit en gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron. Daar het hy 'n altaar vir die Here gebou.
Lees GENESIS 13
Deel
Vergelyk alle weergawes: GENESIS 13:8-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's