Genesis 13:8-18

Genesis 13:8-18 AFR20

Abram sê toe vir Lot: “Laat daar tog nie stryd wees tussen my en jou, en tussen my veewagters en jou veewagters nie. Ons is immers broers. Lê die hele land nie oop voor jou nie? Trek liewer van my weg. As jy links gaan, sal ek regs gaan; en as jy regs gaan, sal ek links gaan.” Lot het rondgekyk en gesien dat daar in die hele Jordaanstreek volop water was. Voor die HERE Sodom en Gomorra verdelg het, was dit soos die tuin van die HERE, en soos Egipteland, in die rigting van Soar. Lot kies toe vir hom die hele Jordaanstreek. Lot het ooswaarts getrek, en so het hulle van mekaar geskei. Abram het in die land Kanaän gewoon, en Lot het by die dorpe van die Jordaanstreek gaan woon; hy het sy tente tot by Sodom opgeslaan. Die manne van Sodom was baie sleg en sondig voor die HERE. Die HERE het egter, nadat Lot van hom af weggetrek het, vir Abram gesê: “Kyk rond! Kyk van die plek waar jy is, na die noorde, die suide, die ooste en die weste; want die hele land wat jy sien – aan jou gee Ek dit, en aan jou nageslag vir altyd. Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat, as iemand die stof van die aarde kan tel, ook jou nageslag getel sal kan word. Maak gereed, deurkruis die land in sy lengte en breedte, want aan jou gee Ek dit.” Abram het sy tente versit. Hy het by die akkerbome van Mamre, wat by Hebron is, aangekom en daar gewoon. Daar het hy 'n altaar vir die HERE gebou.

Video vir Genesis 13:8-18