KOLOSSENSE 3:13-24

KOLOSSENSE 3:13-24 AFR83

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo. Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.

Video for KOLOSSENSE 3:13-24