KOLOSSENSE 3:13-24

KOLOSSENSE 3:13-24 NLV

Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam. Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewens die deurslag gee; want as lede van een liggaam is julle tot vrede geroep. En wees dankbaar. Laat die rykdom van alles wat Christus ons leer, julle leefstyl bepaal. Met alle wysheid moet julle mekaar onderrig en mekaar die regte pad wys. Sing met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God. Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – in die Naam van die Here Jesus. Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring. Vroue, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat met Christus één is. Mans, julle moet julle vroue liefhê en julle moenie griewe teenoor hulle opbou nie. Kinders, julle moet in elke opsig aan julle ouers gehoorsaam wees, want dan is die Here tevrede. Ouers, moenie aanhou foutvind met julle kinders sodat hulle moed verloor nie. Slawe, julle moet julle eienaars hier op aarde in elke opsig gehoorsaam. Julle moenie mense probeer tevrede stel deur net te werk as iemand kyk nie. Nee, werk met opregtheid van hart omdat julle eerbied vir die Here het. Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Weet dat die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk, is Christus!

Video for KOLOSSENSE 3:13-24