HANDELINGE 4:1-37

HANDELINGE 4:1-37 AFR83

Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding 'n werklikheid geword het. Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend. Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde, julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan – dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is “die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.” Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig. Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig. Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Josef 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.