HANDELINGE 4:1-37
HANDELINGE 4:1-37 Bybel vir almal (ABA)
Petrus en Johannes was besig om met die mense te praat. Toe kom die priesters en die offisier van die wagte wat by die tempel werk en die Sadduseërs daar aan. Hulle was baie kwaad en ontsteld omdat Petrus en Johannes vir die mense geleer en vertel het dat as jy in Jesus glo, dan sal jy weer lewe nadat jy gesterf het. Hulle het toe vir Petrus en Johannes gevang en hulle het hulle in die tronk gesit tot die volgende dag, want dit was al klaar donker. Maar baie van die mense wat gehoor het wat Petrus en Johannes sê, het begin glo. Hulle het net die mans getel, en daar was omtrent 5 000 mans. Die volgende dag het die Jode se leiers en familieleiers en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaargekom. Annas die hoëpriester, Kajafas, Johannes, Aleksander, en al die ander mans wat familie was van die hoëpriester, was ook daar. Hulle het vir Petrus en Johannes in die middel laat staan en het vir hulle gevra: “Wie se krag of wie se naam het julle gebruik toe julle die lam man gesond gemaak het?” Die Heilige Gees het toe in Petrus gekom, en Petrus het gesê: “Leiers van die volk en familieleiers, julle beskuldig ons vandag omdat ons iets goed gedoen het vir 'n siek man, omdat ons iets gedoen het wat hierdie man gesond gemaak het. Julle almal, en die hele volk Israel, moet weet dat Jesus Christus van Nasaret hierdie man gesond gemaak het, daarom staan die man nou hier voor julle. Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het Hom weer laat lewe. Hierdie Jesus is “ die klip, en julle is die bouers, julle het hierdie klip weggegooi, maar hierdie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. “Net Jesus kan ons red, niemand anders nie. God het nie 'n ander naam op die aarde vir die mense gegee wat ons kan red nie, Hy wil hê die Naam van Jesus moet ons red.” Die Joodse leiers was verbaas toe hulle sien dat Petrus en Johannes nie bang is om oor Jesus te praat nie. Want hulle het geweet dat Petrus en Johannes die Wette van Moses nie goed geken het nie en dat hulle nie geleer het om voor ander mense te praat nie. Hulle het ook geweet dat Petrus en Johannes dissipels van Jesus was. Maar hulle het gesien die lam man wat gesond geword het, staan by Petrus en Johannes, en daarom kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het vir Petrus en Johannes gesê om buite die Joodse Raad te gaan wag. Hulle het toe vergadering gehou en met mekaar gepraat. Hulle het gesê: “Wat sal ons doen met hierdie mense? Want God het hulle 'n teken laat doen, dit is seker. Al die mense van Jerusalem dink so, ons kan nie stry nie. Maar ons wil nie hê dat nog méér mense daarvan moet hoor nie. Daarom moet ons hulle waarsku om nie weer Jesus se Naam te noem nie, hulle moenie met iemand oor Hom praat nie.” Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gevra: “Moet ons luister na God of moet ons luister na julle? Waarvan sal God hou? Julle kan self besluit. Want ons kan nie stilbly oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse leiers het vir Petrus en Johannes nog meer gewaarsku en hulle het hulle toe laat gaan. Want die leiers het nie geweet hoekom hulle vir Petrus en Johannes moet straf nie. En die leiers was ook bang vir die mense, want almal het God geprys oor wat gebeur het. Hulle het ook vir Petrus en Johannes laat weggaan omdat die man wat gesond geword het, meer as 40 jaar oud was. Dit was 'n wonderteken dat die man gesond geword het. Petrus en Johannes kon toe huis toe gaan. Hulle het na die ander gelowiges toe gegaan en hulle het vir die gelowiges alles vertel wat die priesterleiers en die familieleiers vir hulle gesê het. Toe die gelowiges dit hoor, het hulle saam ernstig tot God gebid en gesê: “Here, U het die hele wêreld gemaak: die hemel, die aarde, die see, en ook alles in die wêreld. U het met die Heilige Gees gepraat, en die Heilige Gees het met u dienaar Dawid, ons voorvader, gepraat, en toe het Dawid geskryf: “ Hoekom het die heidene geraas? Hoekom het hulle planne gemaak wat niks sal help nie? Die konings van die aarde het opstandig geword, en die mense wat regeer, het bymekaargekom en planne gemaak teen die Here en teen sy gesalfde. “Want dit is wat regtig in hierdie stad gebeur het. Koning Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volk Israel bymekaargekom teen u heilige Dienaar Jesus. U het Hom gesalf. Hulle het gedoen wat U lank gelede besluit het. En wat U besluit het, sal gebeur. Here, hulle hou aan om te sê dat hulle ons sal straf. U moet nou vir ons, u dienaars, help sodat ons nie bang sal wees om u boodskap te bring nie. U moet ook aanhou om mense gesond te maak, en U moet tekens en wonderwerke laat gebeur wanneer die apostels die Naam noem van u heilige Dienaar Jesus.” Toe hulle klaar gebid het, het God die plek laat skud waar hulle bymekaar was. Die Heilige Gees het in almal gekom en hulle het toe die boodskap van God gebring, hulle was nie bang nie. Baie mense het begin glo en hulle het almal dieselfde gedink en gevoel. Niemand het gesê dat sy goed net sy eie goed is nie, nee, hulle het alles gedeel met mekaar. Die apostels het ernstig getuig dat die Here Jesus gesterf het, maar dat Hy weer lewe. En God was baie goed vir hulle almal. Want niemand van hulle het te min gehad nie. Die mense wat grond of huise gehad het, het dit verkoop, en dan het hulle die geld gebring en dit vir die apostels gegee. Die apostels het dit uitgedeel vir elkeen wat iets nodig gehad het. Daar was 'n man, sy naam was Josef. Die apostels het hom Barnabas genoem. Barnabas beteken “Iemand wat ander mense bemoedig.” Hy was 'n Leviet, hy het van die eiland Siprus gekom. Hy het 'n stuk grond gehad en hy het dit verkoop. Toe bring hy die geld en hy gee dit vir die apostels.
HANDELINGE 4:1-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom, baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig. En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand. En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword. Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar, ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was; en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen? Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor 'n weldaad aan 'n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat 'n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken. En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar 'n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie. Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie. En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie. Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud. En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind. En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. EN die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — 'n Leviet, van geboorte uit Ciprus, het 'n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
HANDELINGE 4:1-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding 'n werklikheid geword het. Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend. Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde, julle verhoor ons vandag oor 'n weldaad aan 'n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan – dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is “die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. “Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.” Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat 'n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.” Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig. Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig. Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Josef 'n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat – het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.
HANDELINGE 4:1-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Terwyl hulle nog besig was om die volk toe te spreek, het die priesters en die bevelvoerder van die tempelwag en die •Sadduseërs op hulle afgekom, hewig ontsteld omdat hulle die volk onderrig en in Jesus die opstanding uit die dood verkondig. Hulle het hulle toe gevange geneem en onder bewaking geplaas tot die volgende môre, omdat dit reeds aand was. Baie van die mense wat die toespraak gehoor het, het egter tot geloof gekom, sodat die getal manne tot ongeveer vyfduisend aangegroei het. Die volgende dag het hulle leiers en familiehoofde en skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom – ook Annas, die hoëpriester, en Kajafas en Johannes en Aleksander, en almal wat tot die hoëpriesterlike familie behoort het. Hulle het •Petrus en Johannes in die middel laat staan en vir hulle gevra: “Deur watter krag of deur watter naam het julle dit gedoen?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers van die volk en familiehoofde, as ons vandag verhoor word oor 'n goeie daad aan 'n siek man waardeur hy gesond geword het, moet julle almal en die hele volk van Israel weet dat hierdie man gesond voor julle staan deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret “wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het. “Hy is “ ‘die klip wat deur julle, die bouers, geminag is, en die hoeksteen geword het.’ “Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie. ” Toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien en besef dat hulle ongeleerd en leke is, was hulle verbaas en het hulle hulle herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat hulle die man wat gesond gemaak is, by hulle sien staan het, kon hulle niks daarteen sê nie. Hulle het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat, en met mekaar beraadslaag: “Wat gaan ons met hierdie mense doen? Dit is immers vir al die inwoners van Jerusalem duidelik dat 'n onmiskenbare teken deur hulle toedoen plaasgevind het. Ons kan dit nie ontken nie. Maar om te verhoed dat dit verder onder die volk versprei, laat ons hulle dreig, sodat hulle nie meer met enige mens in hierdie Naam praat nie.” Hulle het hulle toe teruggeroep en hulle beveel om hoegenaamd nie meer in die Naam van Jesus te praat of onderrig te gee nie. Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle Petrus en Johannes nog meer gedreig het, het hulle hulle vrygelaat omdat hulle as gevolg van die volk se houding nie 'n manier kon vind om hulle te straf nie; want almal het God verheerlik oor wat gebeur het. Die man oor wie hierdie teken van genesing gekom het, was immers ouer as veertig jaar. Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het: “ ‘Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde.’ “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius •Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente, en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, deur u hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees, en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig. Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en •siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit. Die •apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom. Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het. Josef, 'n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting – het 'n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
HANDELINGE 4:1-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En terwyl hulle met die volk gespreek het, het die priesters en die owerste van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom. Hulle was bedroef dat hulle die mense geleer het en deur Jesus die opstanding uit die dode verkondig het. En hulle het hulle die hande opgelê en hulle vasgehou tot die volgende dag, want dit was nou aand. Maar baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne was omtrent vyf duisend. En die volgende dag het hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes. En Annas, die hoëpriester, en Kajafas, en Johannes en Alexander, en almal uit die geslag van die hoëpriester, was in Jerusalem bymekaar. En toe hulle hulle in die midde gestel het, vra hulle: Met watter krag of met watter naam het julle dit gedoen? Toe sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle: Regeerders van die volk en oudstes van Israel! As ons vandag ondersoek word na die goeie daad wat aan die magtelose mens gedoen is, hoe word hy gesond; Laat dit aan julle almal en aan die hele volk van Israel bekend wees dat deur die Naam van Jesus Christus van Nasaret, wat julle gekruisig het, wat God uit die dode opgewek het, ja, deur Hom staan hierdie man heel voor julle. Dit is die steen wat deur julle bouers verwerp is, wat die hoof van die hoek geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie. En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en sien dat hulle ongeleerde en onkundige mense was, was hulle verwonderd; en hulle het van hulle geweet dat hulle by Jesus was. En toe hulle die man wat genees is, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie. Maar toe hulle hulle bevel gegee het om uit die Raad uit te gaan, het hulle onder mekaar beraadslaag: en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? want waarlik 'n merkwaardige wonderwerk deur hulle gedoen is, is geopenbaar aan almal wat in Jerusalem woon; en ons kan dit nie ontken nie. Maar dat dit nie verder onder die volk versprei het nie, laat ons hulle nougeset dreig, dat hulle voortaan met niemand in hierdie Naam spreek nie. En hulle het hulle geroep en hulle beveel om glad nie in die Naam van Jesus te praat of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het geantwoord en vir hulle gesê: Of dit reg is in die oë van God om meer na julle te luister as na God, beoordeel julle. Want ons kan nie anders as om die dinge te spreek wat ons gesien en gehoor het nie. En toe hulle hulle verder gedreig het, het hulle hulle laat gaan, sonder om te vind hoe hulle hulle kon straf ter wille van die volk, want almal het God verheerlik oor wat gedoen is. Want die man was ouer as veertig jaar op wie hierdie wonder van genesing geskied is. En toe hulle losgelaat is, het hulle na hul eie geselskap gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig hul stem tot God verhef en gesê: Here, U is God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Wie het deur die mond van u kneg Dawid gesê: Waarom het die heidene woedend gemaak en het die volk nietige dinge voorgestel? Die konings van die aarde het opgestaan, en die owerstes het bymekaargekom teen die Here en teen sy Christus. Want waarlik teen u heilige Kind Jesus, wat U gesalf het, het Herodes sowel as Pontius Pilatus, saam met die heidene en die volk Israel, vergader, Om alles te doen wat u hand en u raad vooraf bepaal het om te doen. En nou, Here, kyk na hulle dreigemente; en gee aan u dienaars, dat hulle met alle vrymoedigheid u woord kan spreek, Deur u hand uit te steek om te genees; en dat tekens en wonders gedoen mag word deur die Naam van u heilige Kind Jesus. En toe hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud; en hulle is almal vervul met die Heilige Gees, en hulle het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. En die menigte van die wat geglo het, was een van hart en een siel; maar hulle het alles gemeen. En die apostels het met groot krag getuig van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Daar was ook niemand onder hulle wat kortgekom het nie; want almal wat grond of huis besit, het dit verkoop en die prys van die goed gebring wat verkoop is, En hulle het hulle by die voete van die apostels neergelê, en aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het. En Joses, wat by die apostels Barnabas genoem is, (dit is, as dit vertaal word: Die seun van vertroosting), 'n Leviet, en van die land Ciprus, Toe hy grond gehad het, het hulle dit verkoop en die geld gebring en dit aan die apostels se voete neergelê.
HANDELINGE 4:1-37 Die Boodskap (DB)
Petrus en Johannes was nog besig om met die skare te praat toe die bevelvoerder van die tempelpolisie en ’n klomp van die Jode se godsdienstige leiers daar aankom. Hulle was woedend omdat die apostels vir die mense gesê het dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat elkeen wat dit glo, ook uit die dood sal opstaan. Daar op die plek het hulle toe vir Petrus en Johannes gevang en in die tronk gegooi. Die twee apostels moes in die tronk bly tot die volgende oggend. Intussen het baie mense in Christus begin glo. Die kerk in Jerusalem se ledetal het tot by die 5 000 aangegroei. Die volgende oggend het al die belangrikste godsdienstige leiers van Israel wat op die Joodse Raad sitting gehad het in Jerusalem vergader. Behalwe die skrifkenners en volksleiers was die hoëpriester Annas en lede van sy familie, soos Kajafas, Johannes en Aleksander, ook daar. Petrus en Johannes is tot in die middel van die vertrek gebring waar hulle bymekaar was.Toe vra hulle die apostels: “Sê vir ons, waar kry julle die krag vandaan om so ’n wonderwerk te doen? En wie het vir julle gesê om dit te doen?” Petrus was vol van die Heilige Gees se groot krag. Hy het dadelik geantwoord: “Geagte leiers van die volk en raadslede, ons staan vandag hier voor julle omdat ons ’n siek man gesond gemaak het. Hierdie man is in die Naam van Jesus Christus, die Man van Nasaret, genees. Julle weet van wie ek praat, want julle het Jesus ’n rukkie terug aan ’n kruis laat vasspyker. Maar God het Hom weer lewendig gemaak. “Julle het julle lelik misreken met Jesus. Julle het Hom doodgemaak en gedink julle is ontslae van Hom. So het julle die belangrikste klip in die gebou verwerp. Jesus is nou die belangrikste Persoon in die hemel. Daar is geen ander manier hoe julle in die regte verhouding met God kan kom as deur Hom nie. Niemand anders in die hemel of hier op aarde kan julle nou red nie.” Die lede van die Raad was verstom oor Petrus en Johannes se woorde, veral omdat hulle nie geleerde mense was nie. Tog was hulle nie bang om oor Hom te praat nie.Om alles te kroon het die man wat verlam was ook nou gesond langs hulle gestaan. Die Joodse Raad het Petrus en Johannes beveel om buite te wag terwyl hulle met mekaar beraadslaag. “Wat moet ons met hulle doen?” het hulle mekaar gevra. “Almal in Jerusalem weet teen hierdie tyd al wat gister in die tempel gebeur het. Ons kan dit nie wegpraat nie. Al wat ons nou kan doen, is om hulle te verbied om verder in die naam van daardie Jesus met die mense te praat. So sal ons ten minste keer dat hierdie storie verder versprei.” Die raadslede het Petrus en Johannes daarna laat inkom en vir hulle gesê: “Julle mag van nou af nooit weer met iemand oor Jesus praat of iets oor Hom aan ander leer nie.” Petrus en Johannes was nie bereid om dit te doen nie. “Julle moet maar self besluit of ons eerder na julle as na God moet luister. Maar ons weet wat ons gaan doen: ons kan nie stilbly oor alles wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Joodse Raad was woedend. Hulle het die apostels weer ernstig gewaarsku om niks verder oor Jesus te sê nie. Maar op die ou end moes hulle vir Petrus en Johannes laat gaan. Baie mense het van die wonderwerk gehoor en begin om God te loof. Die verlamde man was immers al oor die 40 jaar oud. Almal in Jerusalem het oor sy genesing gepraat. Nadat Petrus en Johannes vrygelaat is, het hulle na die ander gelowiges teruggegaan en vir hulle vertel dat die Joodse Raad hulle verbied het om met ander mense oor Jesus te praat. Toe het almal saamgebid: “O Here, U het alles gemaak: die hemel en die aarde en ook die see. Alles wat daarin is, is die werk van u hande. “U Heilige Gees het vroeër deur Dawid vir ons gesê: ‘Waarom maak al die nasies so ’n groot lawaai? Waarom beraam mense sulke nuttelose planne? Al die leiers van die wêreld maak hulle reg vir oorlog, al die heersers kom staan saam. Hulle teiken is die Here self, en sy Messias.’ “Ons sien nou hoe Dawid se woorde hier in ons eie stad waar word. Nou die dag het Herodes en Pontius Pilatus die heidene en die Israeliete laat saamspan teen u eie Seun. Maar hulle het U nie onkant betrap nie. U het u plan om ons te red juis op hierdie manier waar laat word. “Nou is hierdie spul mense al weer besig met hulle bose planne. Sien asseblief tog raak hoe hulle ons probeer bangpraat. Ons is u diensknegte. Help ons sodat ons nie vir hulle bang sal wees nie. Help ons om steeds te bly praat oor u wonderlike plan om sondaars te red. Raak ander mense ook aan sodat daar nog baie groot wonderwerke en genesings sal plaasvind oral waar ons oor U praat. Doen dit asseblief deur u Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waarin die gelowiges bymekaar was, begin skud. Dit is veroorsaak deur die Heilige Gees wat met sy groot krag opnuut van hulle lewens besit geneem het. Hy het hulle gehelp om vreesloos aan te hou om oor God te praat en sy woord bekend te maak. Die gelowiges was ’n hegte eenheid. Hulle het baie vir mekaar omgegee. Niemand van hulle het krampagtig aan hulle besittings vasgeklou nie. Die apostels het ook vir almal vertel dat God Jesus lewendig gemaak het. Hulle was glad nie bang om dit te doen nie. God se goedheid was groot oor al die gelowiges. Niemand van hulle was meer arm nie. Almal wat iewers ’n stukkie grond of ’n huis gehad het, het dit verkoop en die geld vir die apostels gaan gee. Op hulle beurt het die apostels dit uitgedeel aan diegene wat geld nodig gehad het. So het ’n man met die naam Josef, wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken: iemand wat ander mense bemoedig) en wat van Siprus af gekom het, ’n stuk grond van hom verkoop en al die geld vir die apostels gaan gee.
HANDELINGE 4:1-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesterhoofde, die bevelvoerder van die tempelwag en sommige van die Sadduseërs op hulle afstorm. Hulle was baie ontsteld omdat Petrus en Johannes die volk geleer het en die opstanding uit die dood in Jesus verkondig het. Die tempelwag het hulle gearresteer, en omdat dit al laat was, hulle oornag in die tronk gesit. Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000. Die volgende môre het die priesterhoofde, die leiers, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergadering gehou. Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester. Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk, word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n ver-lamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is? Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is: ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is; Hý het nou die sluitklip geword.’ “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.” Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie. Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal gestuur en die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie. Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.” Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie. Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom? “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak! Toe hulle vrygelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles gesê het. Toe het al die gelowiges saam tot God gebid: “Almagtige Here, Skepper van die hemel en die aarde, die see en alles daarin – U het lank gelede u dienaar, ons voorvader Dawid, deur die Heilige Gees laat sê: ‘Waarom het die nasies tekere gegaan? Waarom het die volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het hulle slaggereed gemaak; die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Messias.’ “Dit is wat hier in hierdie stad gebeur het! Herodes Antipas, Pontius Pilatus die goewerneur, die ander volke en die volk Israel het saamgespan teen Jesus, u heilige Dienaar, wat deur U toegerus is vir sy taak. Eintlik was alles wat hulle gedoen het, volgens u beskikking en besluit. En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons. Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig. Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ’n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het.