HANDELINGE 4:1-37

HANDELINGE 4:1-37 NLV

Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesterhoofde, die bevelvoerder van die tempelwag en sommige van die Sadduseërs op hulle afstorm. Hulle was baie ontsteld omdat Petrus en Johannes die volk geleer het en die opstanding uit die dood in Jesus verkondig het. Die tempelwag het hulle gearresteer, en omdat dit al laat was, hulle oornag in die tronk gesit. Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000. Die volgende môre het die priesterhoofde, die leiers, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergadering gehou. Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester. Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?” Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk, word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n ver-lamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is? Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is: ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is; Hý het nou die sluitklip geword.’ “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.” Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was. Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie. Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal gestuur en die saak met mekaar bespreek. “Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie. Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.” Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie. Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom? “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak! Toe hulle vrygelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles gesê het. Toe het al die gelowiges saam tot God gebid: “Almagtige Here, Skepper van die hemel en die aarde, die see en alles daarin – U het lank gelede u dienaar, ons voorvader Dawid, deur die Heilige Gees laat sê: ‘Waarom het die nasies tekere gegaan? Waarom het die volke sinlose planne beraam? Die konings van die aarde het hulle slaggereed gemaak; die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Messias.’ “Dit is wat hier in hierdie stad gebeur het! Herodes Antipas, Pontius Pilatus die goewerneur, die ander volke en die volk Israel het saamgespan teen Jesus, u heilige Dienaar, wat deur U toegerus is vir sy taak. Eintlik was alles wat hulle gedoen het, volgens u beskikking en besluit. En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons. Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig. Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het. Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee. Nie een van hulle het ’n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore. Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het.