HANDELINGE 22:1-29

HANDELINGE 22:1-29 AFR83

“Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê.” Toe hulle hoor dat hy Hebreeus praat, het hulle nog stiller geword. Hy gaan toe voort: “Ek is 'n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so 'n kampvegter vir God soos julle almal vandag is. Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop. Dit kan die hoëpriester en die hele Joodse Raad bevestig. Van hulle het ek selfs bekendstellingsbriewe aan die Joodse broers in Damaskus gekry om ook daar hierdie mense in hegtenis te gaan neem en Jerusalem toe te bring om gestraf te word. “Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik 'n sterk lig uit die hemel op my gestraal. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 'n Sekere Ananias, 'n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’ “Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het. En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.’ Toe het die Here vir my gesê: ‘Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.’ ” Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So 'n man behoort nie te bly lewe nie!” Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegesel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het. Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?” Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.” Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord Paulus. Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.” En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.” Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.