HANDELINGE 22:1-29
HANDELINGE 22:1-29 Bybel vir almal (ABA)
Paulus het gesê: “Vriende, julle moet luister na wat ek wil sê, ek wil vir julle verduidelik dat ek niks verkeerd gedoen het nie.” Toe die Jode hoor dat Paulus in Hebreeus met hulle praat, het hulle nog stiller geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek is 'n Jood en ek is gebore in die stad Tarsus in Silisië, maar ek het grootgeword hier in Jerusalem. Ek was 'n student van Gamaliël en ek het al die streng wette van ons voorouers geleer. Ek was baie gehoorsaam aan God, soos julle almal wat vandag hier is, ook gehoorsaam is aan Hom. Ek het slegte dinge gedoen aan ‘ Die Pad,’ ek het probeer om hulle dood te maak. Ek het mans en vroue laat vang en laat vasbind en ek het hulle in die tronk laat sit. Die hoëpriester en die hele Joodse Raad sal kan sê ek praat die waarheid. Hulle het ook vir my briewe gegee wat ek na die Jode in Damaskus geneem het. Ek het na Damaskus gegaan om die gelowiges te vang en hulle terug te bring na Jerusalem sodat die Joodse Raad hulle kan straf. “Ek was besig om na Damaskus te gaan en ek was naby Damaskus. Toe dit omtrent middag was, het daar skielik 'n groot lig uit die hemel op my geskyn. Ek het op die grond geval. Toe hoor ek Iemand vra vir my: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My?’ Ek het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus van Nasaret. Jy doen slegte dinge aan My.’ “Die mense wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die Persoon gehoor wat met my gepraat het nie. Ek het gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Jy moet opstaan en jy moet na Damaskus gaan. Daar sal iemand vir jou alles sê wat Ek wil hê jy moet doen.’ “Die lig was so skerp dat ek nie kon sien nie. Daarom het die mense wat saam met my gegaan het, my hand geneem en hulle het my gelei tot in Damaskus. “Ananias het in Damaskus gewoon. Hy was lief vir die Here, hy het die Here gedien soos die Here wil hê. Ananias het alles gedoen wat die wette sê, en al die Jode wat in Damaskus woon, het geweet dat hy 'n goeie man is. Ananias het na my toe gekom en hy het by my kom staan. Hy het vir my gesê: ‘Saul, vriend, jy moet weer sien!’ Dadelik kon ek weer sien en ek het na hom gekyk. Ananias het vir my gesê: ‘Die God van ons voorouers het jou gekies om te weet wat Hy wil doen. Hy het jou ook gekies om die Regverdige te sien en sy eie stem te hoor. Ja, God het jou gekies, want jy moet vir al die mense gaan vertel van die dinge wat jy gesien en gehoor het. Jy moenie langer wag nie. Jy moet nou opstaan. Jy moet jou laat doop en jy moet bid tot Christus. Dan sal Hy jou sondes wegneem.’ “Toe het ek teruggegaan na Jerusalem. Ek was besig om in die tempel te bid, toe het ek iets gesien, dit was soos in 'n droom. Ek het vir Christus gesien. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gou maak en jy moet vinnig weggaan uit Jerusalem, want die mense van Jerusalem sal nie glo wat jy vir hulle wil vertel van My nie.’ En ek het vir Hom gesê: ‘Here, hulle weet self dat ek na al die sinagoges gegaan het, hulle weet dat ek die mense gevang het en geslaan het, die mense wat in U geglo het. En Stefanus was u getuie. Toe die mense vir Stefanus doodgemaak het, het ek self daar gestaan en ek het gesê hulle doen reg. Ek het ook die klere opgepas van die mense wat hom doodgemaak het.’ “En Christus het vir my gesê: ‘Jy moet nou gaan, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene toe.’ ” Die Jode het tot hier geluister na wat Paulus sê. Toe het hulle hard begin skree en hulle het gesê: “Julle moet hom wegvat en doodmaak! Iemand soos hy mag nie lewe nie!” Hulle het niks gehou van wat Paulus gesê het nie, hulle het geskree en hulle het party van hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi. Die hoof-offisier het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus na die soldate-kamp neem en hulle moet hom met 'n sweep slaan totdat hy sê wat hy verkeerd gedoen het. Die hoof-offisier wou weet hoekom die Jode so geskree en geraas het teen Paulus. Die soldate het begin om Paulus met toue vas te maak. Die offisier het by hulle gestaan, en Paulus het vir hom gesê: “Ek is 'n Romeinse burger. Julle mag my nie met 'n sweep slaan nie, want 'n regter het my nog nie ge-oordeel nie.” Toe die offisier hoor wat Paulus sê, het hy vir die hoof-offisier gaan sê: “Wat gaan jy nou doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.” Die hoof-offisier het vir Paulus kom vra: “Is jy 'n Romeinse burger?” Paulus het geantwoord: “Ja.” Die hoof-offisier het vir Paulus gesê: “Ek moes baie geld betaal om 'n Romeinse burger te word.” Maar Paulus het gesê: “Ek is 'n Romeinse burger vandat ek gebore is.” Die soldate wat Paulus met 'n sweep wou slaan, het dadelik teruggestaan, en die hoof-offisier was ook bang, want die hoof-offisier het besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy vir Paulus laat vasbind het.
HANDELINGE 22:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
BROEDERS en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle! En toe hulle hoor dat hy hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê: Ek is 'n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee, soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik 'n groot lig uit die hemel my omstraal, en ek het op die grond geval en 'n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg. En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie. En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen. Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom. En 'n sekere Ananías, 'n vroom man volgens die wet, wat 'n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor; want jy sal vir Hom by al die mense 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep. En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in 'n verrukking van sinne gekom en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie. En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan; en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het. En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene. Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so 'n mens, want hy behoort nie te lewe nie! En terwyl hulle so skreeu en hulle klere afgooi en stof in die lug werp, het die owerste oor duisend bevel gegee dat hy in die kamp gebring moes word, en gesê dat hulle hom met géselslae moes ondersoek, sodat hy kon weet om watter rede hulle so teen hom uitroep. En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om 'n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel? Toe die hoofman oor honderd dit hoor, gaan hy dit aan die owerste oor duisend vertel en sê: Pas op wat u gaan doen, want hierdie man is 'n Romein. En die owerste oor duisend het gekom en hom gevra: Sê vir my of jy 'n Romein is? En hy antwoord: Ja. Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir 'n groot som verkry! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte. Daarop het die wat hom sou ondersoek, hom dadelik laat staan; en die owerste oor duisend het ook gevrees, omdat hy nou wis dat hy 'n Romein was en hy hom geboei het.
HANDELINGE 22:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Broers en vaders, luister na wat ek nou tot my verdediging vir julle wil sê.” Toe hulle hoor dat hy Hebreeus praat, het hulle nog stiller geword. Hy gaan toe voort: “Ek is 'n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, maar ek het hier in Jerusalem grootgeword. As leerling van Gamaliël is ek volgens die streng opvatting van die wet van die voorvaders opgevoed, en ek was net so 'n kampvegter vir God soos julle almal vandag is. Ek wou die mense wat die leer van Christus volg, totaal uitroei. Mans sowel as vrouens het ek gevange geneem en in tronke laat stop. Dit kan die hoëpriester en die hele Joodse Raad bevestig. Van hulle het ek selfs bekendstellingsbriewe aan die Joodse broers in Damaskus gekry om ook daar hierdie mense in hegtenis te gaan neem en Jerusalem toe te bring om gestraf te word. “Terwyl ek op reis was en naby Damaskus gekom het, het daar teen die middag skielik 'n sterk lig uit die hemel op my gestraal. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Here?’ het ek gevra. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir My wat jy vervolg.’ “Die mense wat saam met my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem verstaan van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan na Damaskus toe. Dáár sal alles vir jou gesê word wat God bepaal het dat jy moet doen.’ “Die skerp lig het my blind gemaak, en my reisgenote moes my aan die hand lei. So het ek in Damaskus aangekom. 'n Sekere Ananias, 'n man wat getrou volgens die wet van Moses gelewe het en by al die Jode in die stad hoog aangeskrewe was, het na my toe gekom. Hy het by my kom staan en gesê: ‘Saul, broer, jy kan weer sien!’ En dadelik kon ek hom sien. Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, die Regverdige te sien en sy stem te hoor, want jy sal vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.’ “Ek het na Jerusalem toe teruggegaan, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek in geesvervoering geraak en die Here gesien wat vir my gesê het: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ Toe het ek gesê: ‘Ja, Here, hulle weet dat ek die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, laat vang en laat slaan het. En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.’ Toe het die Here vir my gesê: ‘Jy moet hiervandaan weggaan, want Ek wil jou ver weg stuur, na die heidene toe.’ ” Meer as dit wou die skare nie hoor nie, en hulle het begin skreeu: “Weg met hom! So 'n man behoort nie te bly lewe nie!” Die skare het geskreeu, hulle klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. Die kommandant het toe beveel dat Paulus in die kaserne ingebring moet word en dat hy gegesel moet word om vas te stel hoekom die skare hom so uitgejou het. Hulle het hom alreeds vir die geseling vasgebind gehad toe Paulus vir die kaptein wat daarby staan, vra: “Mag julle 'n Romeinse burger gesel, en boonop nog sonder verhoor?” Toe die kaptein dit hoor, gaan hy na die kommandant toe en sê: “Wat gaan u doen? Hierdie man is 'n Romeinse burger.” Die kommandant gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord Paulus. Toe sê die kommandant: “Ek het 'n groot som geld betaal om die burgerreg te verkry.” En Paulus sê: “Maar ek het dit deur geboorte gekry.” Die soldate wat vir Paulus moes gesel, het hom dadelik losgemaak, en selfs die kommandant het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is en dat hy hom laat boei het.
HANDELINGE 22:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle.” Toe hulle hoor dat hy in die Hebreeuse taal met hulle praat, het hulle nog stiller geraak. Hy sê toe: “Ek is 'n Joodse man, gebore in Tarsus in Silisië, maar het grootgeword in hierdie stad. Ek is opgevoed aan die voete van Gamaliël – streng volgens die wet van die voorvaders. Ek is net so 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg deur mans sowel as vroue te boei en in die tronk te gooi, soos die hoëpriester en die hele Raad van Familiehoofde oor my kan getuig. Van hulle het ek selfs briewe aan die broers gekry, en na Damaskus gegaan om die mense daar as gevangenes na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word. “ Terwyl ek egter nog op pad was en Damaskus genader het, het daar teen die middaguur skielik 'n helder lig uit die hemel rondom my geskyn. Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ En ek het gevra, ‘Wie is U, Here?’ Hy het my geantwoord, ‘Ek is Jesus van Nasaret wat jy vervolg.’ Die mense wat by my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my gepraat het nie. Toe vra ek, ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê, ‘Staan op en gaan na Damaskus. Daar sal alles vir jou gesê word wat jou opgedra is om te doen.’ Omdat ek vanweë die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle aan die hand gelei, en so het ek in Damaskus aangekom. “'n Sekere Ananias, 'n vroom man volgens die wet, en een oor wie al die Joodse inwoners goeie getuienis gelewer het, het na my gekom, en voor my kom staan en gesê, ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik kon ek hom sien. Toe het hy gesê, ‘Die God van ons vaders het jou uitverkies om sy wil te ken, om die Regverdige te sien en om die stem uit sy mond te hoor, want jy sal voor alle mense vir Hom 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom aarsel jy nog? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy sy Naam aanroep.’ “Toe ek ná my terugkeer na Jerusalem besig was om in die tempelterrein te bid, het ek in geestesvervoering geraak. Ek het Hom gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’ Toe het ek gesê, ‘Here, hulle weet dat dit ek is wat diegene wat in U glo, in die tronk laat gooi en in die •sinagoges laat slaan het. En toe die bloed vergiet is van Stefanus, u getuie, het ek self goedkeurend bygestaan en die boklere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’ En Hy het vir my gesê, ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene.’ ” Tot op hierdie punt het hulle na sy woorde geluister, maar toe hulle stemme verhef en uitgeroep: “Vat 'n man soos hierdie weg van die aarde af, want hy behoort nie te bly leef nie!” Terwyl hulle so skreeu, en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi, het die chiliarg beveel dat Paulus in die kwartiere ingebring word. Hy gee toe opdrag dat hy onder geseling ondervra word, sodat hy kon vasstel om watter rede hulle so teen hom skreeu. Maar toe hulle hom al uitgestrek het met die rieme, sê Paulus vir die centurio wat daar staan: “Is dit julle geoorloof om 'n Romeinse burger te gesel, en dit sonder 'n verhoor?” Toe die centurio dit hoor, gaan hy na die chiliarg, meld dit aan en sê: “Wat is u van plan om te doen? Want hierdie man is 'n Romein!” Die chiliarg gaan toe na Paulus en vra hom: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord hy. Toe sê die chiliarg: “Ek het hierdie burgerskap teen 'n groot som geld bekom.” Daarop antwoord Paulus: “En ek deur geboorte.” Diegene wat gereed gestaan het om hom te ondervra, het hom daarom dadelik met rus gelaat, en ook die chiliarg het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is, en dat hy hom laat boei het.
HANDELINGE 22:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Manne, broers en vaders, luister na my verdediging wat ek nou aan julle stel. (En toe hulle hoor dat Hy in Hebreeuse taal met hulle spreek, het hulle des te meer stilgebly; en Hy sê:) Ek is waarlik 'n man wat 'n Jood is, gebore in Tarsus, 'n stad in Silicië, maar tog grootgeword in hierdie stad aan die voete van Gamaliël, en geleer volgens die volmaakte wyse van die wet van die vaders, en was ywerig vir God, soos julle almal vandag is. En ek het op hierdie manier vervolg tot die dood toe, deur mans sowel as vroue te bind en in gevangenisse oor te lewer. Soos ook die hoëpriester vir my getuig en die hele eiendom van die ouderlinge; van wie ek ook briewe aan die broeders ontvang het en na Damaskus gegaan het om die wat daar geboeid was, na Jerusalem te bring om gestraf te word. En dit het gebeur dat, terwyl ek my reis gemaak het en teen die middag naby Damaskus gekom het, skielik het daar uit die hemel 'n groot lig rondom my geskyn. En ek het op die grond geval en 'n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En ek antwoord: Wie is U, Here? En hy sê vir my: Ek is Jesus, die Nasaret, wat jy vervolg. En die wat saam met my was, het waarlik die lig gesien en bevrees geword; maar hulle het nie die stem gehoor van Hom wat met my gespreek het nie. En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus; en daar sal jou vertel word van alles wat jou bestem is om te doen. En toe ek vanweë die heerlikheid van daardie lig nie kon sien nie, toe ek gelei is deur die hand van die wat by my was, het ek in Damaskus gekom. En ene Ananías, 'n vroom man volgens die wet, met 'n goeie verslag van al die Jode wat daar gewoon het, Het na my gekom en gaan staan en vir my gesê: Broer Saul, sien jou aan. En in dieselfde uur het ek na hom opgekyk. En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou uitverkies, dat jy sy wil sou ken en die Regverdige sou sien en die stem van sy mond sou hoor. Want jy sal sy getuie wees vir al die mense van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom vertoef jy? staan op en laat jou doop en was jou sondes af, terwyl jy die Naam van die Here aanroep. En dit het gebeur dat, toe ek weer in Jerusalem aangekom het, terwyl ek in die tempel gebid het, ek in beswyming was; En hy het vir my sien sê: Maak gou en gaan gou uit Jerusalem uit, want hulle sal u getuienis aangaande my nie aanneem nie. En ek het gesê: Here, hulle weet dat ek die wat in U geglo het, in elke sinagoge opgesluit en geslaan het. En toe die bloed van u martelaar Stefanus vergiet is, het ek ook bygestaan en ingestem met sy dood en die klere bewaar van die wat hom gedood het. En hy het vir my gesê: Gaan weg, want Ek sal jou ver hiervandaan na die heidene toe stuur. En hulle het hom gehoor gegee aan hierdie woord, en toe hul stem verhef en gesê: Weg met so 'n man van die aarde af, want dit is nie gepas dat hy sou lewe nie. En terwyl hulle uitroep en hulle klere uitgooi en stof in die lug gooi, Die owerste owerste het bevel gegee dat hy in die kasteel ingebring moes word, en beveel dat hy deur géseling ondersoek moes word; sodat hy sou weet waarom hulle so teen hom geroep het. En terwyl hulle hom met rieme gebind het, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit jou geoorloof om 'n man wat 'n Romein en onveroordeeld is, te gésel? Toe die hoofman oor honderd dit hoor, het hy gegaan en dit aan die owerste owerste vertel en gesê: Pas op wat jy doen, want hierdie man is 'n Romein. Toe kom die owerste oor duisend en sê vir hom: Sê vir my, is jy 'n Romein? Hy het gesê: Ja. En die owerste owerste het geantwoord: Met 'n groot bedrag het ek hierdie vryheid verkry. En Paulus sê: Maar ek is vrygebore. Hulle het toe dadelik weggegaan van hom wat hom moes ondersoek; en die owerste oor duisend was ook bevrees, nadat hy geweet het dat hy 'n Romein was en omdat hy hom gebind het.
HANDELINGE 22:1-29 Die Boodskap (DB)
“Vriende, luister asseblief mooi na wat ek nou vir julle wil sê. Ek wil graag ook my kant van die saak stel.” Die mense was verbaas toe hulle agterkom dat Paulus Hebreeus praat. ’n Mens kon ’n speld hoor val. Almal het doodstil na hom geluister. “Ek is ook ’n Jood. Ek is in Tarsus in Silisië gebore. Ek het my opleiding in die wet van Moses hier in Jerusalem ontvang. My leermeester was rabbi Gamaliël. Ek is streng volgens al die tradisies en gebruike van ons voorouers grootgemaak. Van jongs af wou ek net doen wat God van my vra. Julle verstaan mos wat ek sê. Julle wil mos ook net doen wat God van julle vra? “Toe ek op ’n dag te hore kom van hierdie nuwe spul mense wat in Jesus glo, was ek so kwaad dat ek hulle wreed begin vervolg het. Ek het die mans en vroue wat al hierdie dinge oor Hom geglo het, laat vang en in die tronk gestop. Vra maar vir die hoëpriester en al die leiers van ons volk as julle my nie glo nie. Hulle weet baie goed dat ek die waarheid praat. Immers, dit is hulle wat my skriftelike toestemming gegee het om Damaskus toe te gaan om die Christene daar te vang. My plan was om hulle dan hierheen terug te bring sodat hulle hier in Jerusalem verhoor kon word.” “Toe ek naby Damaskus kom, het ’n helder lig uit die hemel in die middel van die dag skielik op my begin skyn. Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval het. Ek hoor toe Iemand vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?’ “‘Wie is U, Here?’ het ek dadelik gevra. ‘Dit is Ek, Jesus van Nasaret! Jy is besig om My te vervolg.’ “Die mense wat saam met my op pad na Damaskus was, het ook die lig uit die hemel gesien. Hulle het baie bang geword. Hulle kon egter nie Jesus se stem hoor nie. “Ek vra toe benoud vir Jesus: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Hy sê toe: ‘Staan dadelik op en gaan Damaskus toe. Binnekort sal iemand daar vir jou kom sê wat jy moet doen.’ “Die skerp lig het gemaak dat ek glad nie kon sien toe ek opstaan nie. Die ander mense moes my die stad inlei. “Daar in Damaskus het ’n godsdienstige man gebly wat alles gedoen het wat in die wet van die Here geskryf staan. Sy naam is Ananias. Al die Jode in die stad het net goeie dinge oor hom gesê. Hy het na my toe gekom, sy arm om my geslaan en gesê: ‘Saulus, my broer, jy sal van nou af weer kan sien.’ Op daardie oomblik het my oë oopgegaan. Ek kon Ananias duidelik voor my sien staan. “Ananias het goeie nuus vir my gehad. ‘Weet jy,’ het hy gesê, ‘die God vir wie ons voorouers ook al gedien het, het ’n spesiale taak vir jou. Hy het jou persoonlik uitgekies sodat jy sy reddingsplan vir die wêreld kan ken. Daarom was jy so gelukkig om Jesus te sien en om te hoor hoe Hy met jou praat, want Hy is die Een vir wie God na ons toe gestuur het om ons te red. “‘Noudat jy Hom persoonlik ontmoet het, moet jy vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het.Moenie langer tyd verspil nie. Staan gou op sodat jy gedoop kan word. Al jou sondes sal dan afgewas word omdat jy in die Here glo en sy Naam aanroep.’” “Daarna het ek na Jerusalem teruggekeer. Terwyl ek daar in die tempel besig was om te bid het die Here skielik op ’n bonatuurlike manier aan my verskyn. Ek het Hom met my eie twee oë gesien. Hy het vir my gesê: ‘Gee baie vinnig pad uit Jerusalem! In hierdie stad sal niemand luister na wat jy oor My sê nie.’ “Ek het die Here geantwoord: ‘Maar, Here, hierdie mense ken my. Hulle weet hoe ek vroeër almal wat in U glo in die tronk gegooi en in die sinagoges laat slaan het. Ja, selfs toe Stefanus, u getuie, hier in Jerusalem vermoor is, het ek gestaan en toekyk. Ek was baie bly oor sy dood. Ek het dan selfs die klere opgepas van daardie spul wat hom onder die klippe gesteek het.’ “Terwyl ek nog besig was om vir die Here te vertel hoekom ek eintlik in Jerusalem moes aanbly, het Hy vir my gesê: ‘Genoeg! Gee nou dadelik pad! Ek stuur jou ver weg uit Jerusalem uit. Jy moet nou na mense toe gaan wat nie aan die Joodse volk behoort nie.’” Tot hiertoe het die skare geduldig na Paulus geluister. Toe hulle egter hoor hoe hy sê dat die Here hom uit Jerusalem weggestuur het, het hulle hulle bloedig vererg. “Weg met hom. Hy verdien nie om te leef nie!” het hulle begin skree. Sommige van hulle het sommer hulle klere begin uittrek omdat hulle hom onder die klippe wou steek. Ander mense het uit verontwaardiging stof in die lug opgegooi, want hulle het gedink Paulus het lasterlike dinge teen God gesê. Die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen het gesien dat dinge handuit begin ruk. Daarom het hy sy soldate beveel om Paulus na die Romeinse kaserne toe terug te vat. Hy het ook vir hulle gesê om Paulus ’n ordentlike drag slae te gee. Die bevelvoerder wou hom op dié manier aan die praat kry sodat hy kon agterkom hoekom die skare hom uitgejou het. Toe die soldate Paulus met toue begin vasmaak sodat hulle hom kon slaan, het hy vir ’n Romeinse kaptein wat daar gestaan het, gevra: “Is dit wat u nou doen wettig? Mag u ’n Romeinse burger lyfstraf gee sonder ’n verhoor?” Die kaptein het dadelik na die bevelvoerder gegaan en vir hom gesê: “U moet mooi dink wat u met hierdie man doen. Weet u, hy is ’n Romeinse burger.” Die bevelvoerder het na Paulus toe gestap en vir hom gevra: “Sê my, is jy regtig ’n Romeinse burger?” “Ja!” het Paulus geantwoord. “Wel, ek is ook ’n Romeinse burger,” het die bevelvoerder gesê. “Ek het dit vir ’n groot bedrag geld gekoop.” “Ek het myne nie gekoop nie. Ek is as ’n Romeinse burger gebore,” het Paulus geantwoord. Daarna het hulle Paulus losgemaak. Die Romeinse bevelvoerder het groot geskrik omdat hy ’n Romeinse burger sonder verhoor aangehou en hom amper lyfstraf gegee het.
HANDELINGE 22:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Geagte broers en vaders, luister na my verdediging teenoor julle oor hierdie saak.” Toe hulle hoor dat hy hulle in Aramees toespreek, het hulle nog stiller geword. Hy gaan toe voort: “Ek is ’n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, en hier in Jerusalem het ek grootgeword en my opvoeding by Gamaliël gekry. Aan sy voete het ek geleer om ons Joodse wet streng na te kom. Ek het ’n kampvegter vir God geword, net soos julle almal vandag is. Ek het jag gemaak op ‘Die Pad’ tot die dood toe. Mans én vroue het ek gearresteer en in tronke laat stop. “Só kan selfs die hoofpriester vir my getuig, en die hele Joodse Raad. Van hulle het ek selfs briewe aan ons volksgenote in Damaskus gekry om ook dáár hierdie mense te gaan arresteer en vir strafoplegging Jerusalem toe te bring. “Juis toe ek op pad was, sommer naby Damaskus, het daar teen die middag skielik ’n sterk lig uit die hemel om my gestraal. Ek het op die grond neergeval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ ‘Wie is U, Meneer?’ het ek gereageer. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir Mý wat jy vervolg.’ Die mense saam met my het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my praat nie. “Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan Damaskus binne, en dáár sal alles wat God bepaal het dat jy moet doen, aan jou meegedeel word.’ “Ek is deur my reisgenote Damaskus aan die hand binnegelei, want die helder lig het gemaak dat ek niks kon sien nie. ’n Man met die naam Ananias het daar gebly. Hy het nougeset volgens die Joodse wet gelewe, en by al die Jode dáár ’n goeie naam gehad. Hy het na my toe gekom, by my kom staan en vir my gesê: ‘Saul, broer, sién weer!’ En oombliklik is my sig herstel en het ek hom gesien! “Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, en om die Regverdige te sien en Hom te hoor praat. Jy sal inderdaad vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. En nou, waarom nog wag? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas. Jy het mos sy Naam aangeroep.’ “Ek is terug Jerusalem toe, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek ’n buitengewone geestelike ervaring gehad. Ek het die Here gesien en Hy het vir my gesê: ‘Maak gou! Gee dadelik pad uit Jerusalem. Hierdie mense sal verseker nie jou getuienis oor My aanvaar nie.’ “Toe het ék teëgestribbel: ‘Maar, Here, hulle weet dat ék die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, gearresteer en laat slaan het. En toe u getuie Stefanus vermoor is, het ek self hulle ondersteun. Ek het sy moordenaars se klere opgepas!’ Toe sê die Here vir my: ‘Gáán! Ék wil jou ver weg stuur, na die nie-Joodse nasies toe.’” Die skare het na hom geluister tot op hierdie punt, en toe het hulle uit een mond begin skreeu: “Weg van die aarde af met so ’n vent! Só iemand behoort verseker nie te bly lewe nie!” Hulle het aanhou skreeu, hulle bo-klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi. Die offisier oor duisend man het Paulus toe die kaserne laat inbring en bevel gegee dat hy gegésel moes word om hom sy misdaad te laat bely. Die offisier wou agterkom hoekom die skare Paulus so uitgejou het. Hulle het hom klaar met rieme vasgebind gehad vir die géseling toe Paulus vir die offisier oor honderd man wat daar naby staan, vra: “Is dit wettig dat julle ’n Romeinse burger gésel, en boonop nog sonder verhoor?” Die offisier oor honderd man gaan toe na die offisier oor duisend man en vra: “Wat is u van plan om te doen? U moet besef hierdie man is ’n Romeinse burger!” Die offisier oor duisend man gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, ís jy ’n Romeinse burger?” “Ja,” het Paulus geantwoord. “Ek is ook een,” het die offisier oor duisend man gereageer, “en hierdie burgerreg het my ’n klomp geld gekos!” “Maar ék is as ’n burger gebore!” het Paulus gesê. Die soldate wat hom moes gésel om hom te laat praat, het hom dadelik laat staan, en selfs die offisier oor duisend man het bang geword toe hy besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy hom vir die géseling laat vasbind het.