“Vriende, luister asseblief mooi na wat ek nou vir julle wil sê. Ek wil graag ook my kant van die saak stel.” Die mense was verbaas toe hulle agterkom dat Paulus Hebreeus praat. ’n Mens kon ’n speld hoor val. Almal het doodstil na hom geluister.
“Ek is ook ’n Jood. Ek is in Tarsus in Silisië gebore. Ek het my opleiding in die wet van Moses hier in Jerusalem ontvang. My leermeester was rabbi Gamaliël. Ek is streng volgens al die tradisies en gebruike van ons voorouers grootgemaak. Van jongs af wou ek net doen wat God van my vra. Julle verstaan mos wat ek sê. Julle wil mos ook net doen wat God van julle vra?
“Toe ek op ’n dag te hore kom van hierdie nuwe spul mense wat in Jesus glo, was ek so kwaad dat ek hulle wreed begin vervolg het. Ek het die mans en vroue wat al hierdie dinge oor Hom geglo het, laat vang en in die tronk gestop. Vra maar vir die hoëpriester en al die leiers van ons volk as julle my nie glo nie. Hulle weet baie goed dat ek die waarheid praat. Immers, dit is hulle wat my skriftelike toestemming gegee het om Damaskus toe te gaan om die Christene daar te vang. My plan was om hulle dan hierheen terug te bring sodat hulle hier in Jerusalem verhoor kon word.”
“Toe ek naby Damaskus kom, het ’n helder lig uit die hemel in die middel van die dag skielik op my begin skyn. Ek het so groot geskrik dat ek op die grond neergeval het. Ek hoor toe Iemand vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?’
“‘Wie is U, Here?’ het ek dadelik gevra. ‘Dit is Ek, Jesus van Nasaret! Jy is besig om My te vervolg.’
“Die mense wat saam met my op pad na Damaskus was, het ook die lig uit die hemel gesien. Hulle het baie bang geword. Hulle kon egter nie Jesus se stem hoor nie.
“Ek vra toe benoud vir Jesus: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Hy sê toe: ‘Staan dadelik op en gaan Damaskus toe. Binnekort sal iemand daar vir jou kom sê wat jy moet doen.’
“Die skerp lig het gemaak dat ek glad nie kon sien toe ek opstaan nie. Die ander mense moes my die stad inlei.
“Daar in Damaskus het ’n godsdienstige man gebly wat alles gedoen het wat in die wet van die Here geskryf staan. Sy naam is Ananias. Al die Jode in die stad het net goeie dinge oor hom gesê. Hy het na my toe gekom, sy arm om my geslaan en gesê: ‘Saulus, my broer, jy sal van nou af weer kan sien.’ Op daardie oomblik het my oë oopgegaan. Ek kon Ananias duidelik voor my sien staan.
“Ananias het goeie nuus vir my gehad. ‘Weet jy,’ het hy gesê, ‘die God vir wie ons voorouers ook al gedien het, het ’n spesiale taak vir jou. Hy het jou persoonlik uitgekies sodat jy sy reddingsplan vir die wêreld kan ken. Daarom was jy so gelukkig om Jesus te sien en om te hoor hoe Hy met jou praat, want Hy is die Een vir wie God na ons toe gestuur het om ons te red.
“‘Noudat jy Hom persoonlik ontmoet het, moet jy vir almal gaan vertel wat met jou gebeur het.Moenie langer tyd verspil nie. Staan gou op sodat jy gedoop kan word. Al jou sondes sal dan afgewas word omdat jy in die Here glo en sy Naam aanroep.’”
“Daarna het ek na Jerusalem teruggekeer. Terwyl ek daar in die tempel besig was om te bid het die Here skielik op ’n bonatuurlike manier aan my verskyn. Ek het Hom met my eie twee oë gesien. Hy het vir my gesê: ‘Gee baie vinnig pad uit Jerusalem! In hierdie stad sal niemand luister na wat jy oor My sê nie.’
“Ek het die Here geantwoord: ‘Maar, Here, hierdie mense ken my. Hulle weet hoe ek vroeër almal wat in U glo in die tronk gegooi en in die sinagoges laat slaan het. Ja, selfs toe Stefanus, u getuie, hier in Jerusalem vermoor is, het ek gestaan en toekyk. Ek was baie bly oor sy dood. Ek het dan selfs die klere opgepas van daardie spul wat hom onder die klippe gesteek het.’
“Terwyl ek nog besig was om vir die Here te vertel hoekom ek eintlik in Jerusalem moes aanbly, het Hy vir my gesê: ‘Genoeg! Gee nou dadelik pad! Ek stuur jou ver weg uit Jerusalem uit. Jy moet nou na mense toe gaan wat nie aan die Joodse volk behoort nie.’”
Tot hiertoe het die skare geduldig na Paulus geluister. Toe hulle egter hoor hoe hy sê dat die Here hom uit Jerusalem weggestuur het, het hulle hulle bloedig vererg. “Weg met hom. Hy verdien nie om te leef nie!” het hulle begin skree. Sommige van hulle het sommer hulle klere begin uittrek omdat hulle hom onder die klippe wou steek. Ander mense het uit verontwaardiging stof in die lug opgegooi, want hulle het gedink Paulus het lasterlike dinge teen God gesê. Die bevelvoerder van die Romeinse garnisoen het gesien dat dinge handuit begin ruk. Daarom het hy sy soldate beveel om Paulus na die Romeinse kaserne toe terug te vat. Hy het ook vir hulle gesê om Paulus ’n ordentlike drag slae te gee. Die bevelvoerder wou hom op dié manier aan die praat kry sodat hy kon agterkom hoekom die skare hom uitgejou het.
Toe die soldate Paulus met toue begin vasmaak sodat hulle hom kon slaan, het hy vir ’n Romeinse kaptein wat daar gestaan het, gevra: “Is dit wat u nou doen wettig? Mag u ’n Romeinse burger lyfstraf gee sonder ’n verhoor?”
Die kaptein het dadelik na die bevelvoerder gegaan en vir hom gesê: “U moet mooi dink wat u met hierdie man doen. Weet u, hy is ’n Romeinse burger.”
Die bevelvoerder het na Paulus toe gestap en vir hom gevra: “Sê my, is jy regtig ’n Romeinse burger?”
“Ja!” het Paulus geantwoord.
“Wel, ek is ook ’n Romeinse burger,” het die bevelvoerder gesê. “Ek het dit vir ’n groot bedrag geld gekoop.”
“Ek het myne nie gekoop nie. Ek is as ’n Romeinse burger gebore,” het Paulus geantwoord.
Daarna het hulle Paulus losgemaak. Die Romeinse bevelvoerder het groot geskrik omdat hy ’n Romeinse burger sonder verhoor aangehou en hom amper lyfstraf gegee het.