In Sesarea was daar 'n man met die naam Kornelius, 'n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.
Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!”
Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?”
Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.”
Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.”
Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.”
Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”
Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.
Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”
Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”
Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, 'n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het 'n openbaring deur 'n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.”
Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting.
Die volgende dag het hy en 'n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan