In Sesarea het daar ’n man gebly met die naam Kornelius. Hy was die bevelvoerder van die Italiaanse regiment wat daar gestasioneer was. Hy was ’n goeie mens. Kornelius en almal in sy huis het groot respek vir God gehad. Sy hand was altyd oop vir ander mense wat swaargekry het. Hy het ook baie tyd aan gebed afgestaan. Een middag teen drie-uur, terwyl Kornelius besig was om te bid, het hy ’n visioen gesien. ’n Engel van die Here het na hom toe gekom en gesê: “Kornelius!” Kornelius het groot geskrik. Hy het die engel aangestaar en gesê: “Wat is dit, Meneer?” “God het jou gebede gehoor,” het die engel geantwoord. “Al die goeie dinge wat jy vir die armes doen, het Hy ook raakgesien. Daarom wil Hy hê dat jy ’n paar manne Joppe toe moet stuur. Daar bly ’n man met die naam Simon. Hy word ook Petrus genoem. Jy moet hom laat haal. Hy bly daar by Simon wat leergoedere verkoop in ’n huis teen die see.” Nadat die engel vertrek het, het Kornelius twee van sy huiswerkers en ’n soldaat wat ook godsdienstig was, laat haal. Hy het vir hulle vertel wat gebeur het en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.Toe het hy skielik ’n visioen gesien. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!” “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.” Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.” Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in. Terwyl Petrus nog sit en kopkrap oor wat die visioen kon beteken, het die geselskap van Kornelius af by die voordeur kom aanklop. Hulle het gevra of Petrus daar bly. Petrus het hulle nie gehoor nie. Hy het steeds gewonder wat sy visioen beteken. Daarom het die Heilige Gees vir hom gesê:“Daar by die voordeur staan drie mans wat op soek is na jou. Gaan dadelik af ondertoe. Gaan saam met hulle na hulle huis toe. Moenie huiwer nie, want Ek het hulle gestuur om jou te kom haal.” Petrus het die mans vriendelik gaan groet en vir hulle gesê: “Julle is op soek na my. Hoekom?” Een van hulle het geantwoord: “Kornelius, ons bevelvoerder, ’n goeie man wat groot respek vir God het - u kan maar vir enige Jood vra - het by ’n engel ’n boodskap gekry om u te laat haal. U moet asseblief met hom kom praat.” Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee.
Lees Handelinge 10
Deel
Vergelyk alle weergawes: Handelinge 10:1-23
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's