2 TIMOTEUS 1:4-10

2 TIMOTEUS 1:4-10 AFR83

Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my 'n groot vreugde wees. Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.