2 TIMOTEUS 1:4-10

2 TIMOTEUS 1:4-10 Die Boodskap (DB)

Ek onthou nog hoe jy gehuil het toe ek laas daar weg is. Ek verlang baie na jou en dit sal vir my baie lekker wees om jou weer te sien. Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die Here vertrou soos hulle. Jy onthou mos dat God jou ’n baie spesiale gawe gegee het toe ek my hande op jou gelê het. Maak seker dat daardie gawe net al hoe sterker word. Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie. Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit. God sal vir jou die krag gee wat jy nodig het om die swaarkry wat Christenskap mag bring, saam met my te kan verdra. God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed is of so ’n goeie lewe lei nie, maar Hy het self besluit om dit te doen omdat Hy so goed vir ons wil wees, al verdien ons dit nie regtig nie. God het nog voor die wêreld begin het al besluit om so goed te wees vir almal wat aan Christus Jesus se kant staan. Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het.

2 TIMOTEUS 1:4-10 Bybel vir almal (ABA)

Ek onthou hoe hartseer jy was en ek wil jou graag weer sien, want dan sal ek baie bly wees. Ek onthou dat jy waarlik in Christus glo. Jou ouma Loïs en jou ma Eunice het ook in Christus geglo. Ek is baie seker dat jy nou ook in Christus glo, soos hulle. Daarom sê ek jy moet onthou dat God 'n genadegawe vir jou gegee het. Hy het dit vir jou gegee toe ek my hande op jou gesit het. Jy moet onthou om daardie genadegawe altyd weer lewendig te laat word, soos 'n vuur wat weer lewendig word wanneer jy dit blaas. God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen. Jy moenie skaam wees om vir mense te vertel van ons Here nie. En ook, jy moenie skaam wees oor my wat in die tronk is omdat ek aan die Here behoort nie. Nee, jy moet saam met my swaarkry wanneer jy die goeie boodskap vir mense bring, want God sal vir jou die krag gee om dit te doen. Toe God ons gered en gekies het, het Hy ons gewy om aan Hom te behoort. Hy het dit gedoen, maar nie omdat óns iets gedoen het nie. Nee, Hy het ons gered omdat Hy self besluit het om genadig te wees vir ons. Voordat die tyd begin het, het God besluit dat ons aan Christus Jesus moet behoort. En nou het God dit vir ons gewys sodat ons dit self kon sien. Christus Jesus het gekom, Hy is die Een wat ons red. Hy het die dood heeltemal oorwin toe Hy die goeie boodskap gebring het, die goeie boodskap wat duidelik vir ons wys wat die lewe is wat nooit sal ophou nie.