2 KRONIEKE 5:1-6

2 KRONIEKE 5:1-6 AFR83

Nadat al die werk wat Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel is, het hy die besondere wydingsgeskenke van Dawid, sy pa, ingebring. Die silwer en goud en al die toebehore het hy in die voorraadkamers van die tempel van God gesit. Daarna het Salomo die leiers van Israel, die stamhoofde en die Israelitiese familiehoofde in Jerusalem bymekaargeroep om die verbondsark van die Here uit Sion, die Dawidstad, te laat uitbring. Al die manne van Israel het by die koning bymekaargekom op die feesdag in die sewende maand. Nadat al die leiers van Israel gekom het, het die Leviete die ark opgetel en die ark, die tent van ontmoeting en al die toebehore van die heiligdom wat in die tent was, gedra. Die Levitiese priesters het dit gedra. Koning Salomo en die hele gemeente van Israel wat saam met hom voor die ark was, het soveel kleinvee en beeste geoffer dat dit nie getel of bereken kon word nie.