2 Kronieke 5:1-6

2 Kronieke 5:1-6 AFR20

Toe al die werk wat koning Salomo aan die huis van die HERE gedoen het, afgehandel was, het Salomo die •heilige gawes van sy vader Dawid, die silwer en goud en al die ander voorwerpe, na binne geneem en dit in die skatkamers van die huis van God geplaas. Daarna het Salomo die oudstes van Israel, al die stamhoofde, die leiers van die families van die Israeliete, in Jerusalem laat byeenkom om die •verbondsark van die HERE vanuit die •Stad van Dawid, dit is Sion, op te dra. Al die manne van Israel het toe by die koning byeengekom in die feestyd, dit is die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel aangekom het, het die priesters die ark opgetel. Hulle het die ark, die Tent van Ontmoeting en al die heilige voorwerpe wat in die tent was, na bo gedra – die Levitiese priesters het dit gedra. Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel, dié wat by hom saamgetrek het en saam met hom voor die ark was, het kleinvee en beeste geoffer wat vanweë hulle hoeveelheid nie getel of bereken kon word nie.