2 KRONIEKE 36:15-21

2 KRONIEKE 36:15-21 AFR83

Die Here die God van hulle voorvaders het voortdurend aan hulle sy wil bekend gemaak deur middel van sy boodskappers, want Hy was begaan oor sy volk en sy woning, maar hulle het die boodskappers van God uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik. Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek, en dié het die jongmanne van Juda doodgemaak binne in die heiligdom en nie jongman of meisie, grysaard of invalide ontsien nie. Die Here het almal in die mag van die koning van Babel gegee. Alles wat in die tempel was, of dit groot was of klein, die skatte van die huis van die Here, van die koning en sy amptenare, alles het hy na Babel toe gevat. Daarna het hulle die tempel afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles wat van waarde was, verwoes. Almal wat nie doodgemaak is nie, is na Babel toe weggevoer, waar hulle die koning van Babel en sy seuns se onderdane was totdat die Perse die bewind oorgeneem het. So is die woord van die Here vervul wat deur middel van Jeremia gekom het. Die ballingskap het aangehou totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is. Die hele tyd dat die land woes gelê het, het dit 'n sabbatsrus geniet, 'n volle sewentig jaar.