Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen. Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar. Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand 'n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense. Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is. Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou. Broers, bid ook vir ons. Groet al die medegelowiges met 'n soen van Christelike broederskap. In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word. Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.
Lees 1 TESSALONISENSE 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 TESSALONISENSE 5:11-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's