1 Thessalonisense 5:11-28

1 Thessalonisense 5:11-28 AFR20

Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen. Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in •Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid. En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus •Christus kom. Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen. Broers, bid ook vir ons. Groet al die broers met 'n heilige soen. Ek versoek julle plegtig voor die Here dat hierdie brief aan al die broers voorgelees word. Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle!