1 Thessalonisense 5

5
Koms van die Here
1 Oor die tye en geleenthede, broers, is dit nie nodig dat ons aan julle skryf nie, 2want julle weet self baie goed dat die dag van die Here soos 'n dief in die nag kom. 3Wanneer hulle sê, “Daar is vrede en veiligheid,” kom daar skielik vernietiging oor hulle, soos geboortepyne 'n swanger vrou oorval, en hulle sal beslis nie ontkom nie. 4Maar julle, broers, is nie in die duisternis nie, sodat dié dag julle nie soos 'n dief sal oorval nie. 5 Julle is immers almal kinders van die lig en kinders van die dag. Ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar waaksaam en nugter wees! 7Want hulle wat slaap, slaap snags, en diegene wat hulle dronk drink, doen dit snags. 8Laat ons wat van die dag is, egter nugter wees, noudat ons die borsplaat van geloof en liefde, en die helm van hoop op verlossing, aangetrek het. 9 Want God het ons nie tot veroordeling bestem nie, maar om deur ons Here Jesus •Christus verlossing te verkry, 10 Hy wat ter wille van ons gesterf het, sodat ons, of ons wakker is of slaap, saam met Hom kan leef. 11Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen.
Laaste vermanings
12 Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, 13en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. 14En ons moedig julle aan, broers, om die leeglêers aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. 15 Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense.
16 Wees altyd bly;
17 bid sonder ophou;
18wees in alle omstandighede dankbaar;
want dit is God se wil vir julle in •Christus Jesus.
19 Moenie die Gees blus nie;
20 moenie profesieë geringskat nie,
21maar ondersoek alle dinge;
behou die goeie;
22 vermy elke vorm van boosheid.
Afskeidsbede en groete
23En mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak; en mag julle volledig na gees, siel en liggaam, vlekkeloos bewaar word, tot ons Here Jesus •Christus kom. 24Hy wat julle roep, is getrou en sal dit doen.
25 Broers, bid ook vir ons.
26 Groet al die broers met 'n heilige soen. 27Ek versoek julle plegtig voor die Here dat hierdie brief aan al die broers voorgelees word.
Seëngroet
28Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid