1 SAMUEL 9:15-21

1 SAMUEL 9:15-21 AFR83

'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.” Saul het vir Samuel in die poort teëgekom en vir hom gesê: “Sê my asseblief waar is die huis van die siener.” Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Gaan saam met my na die hoogte toe. Julle moet vandag saam met my gaan eet. Môreoggend sal ek jou laat gaan. Oor alles wat jou kwel, sal ek jou inlig. Jou donkies is vandag al drie dae weg. Jy moet jou egter nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gekry. Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?” En Saul antwoord: “Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?”