1 Samuel 9:15-21

1 Samuel 9:15-21 AFR20

Die HERE het dit 'n dag voor die koms van Saul aan Samuel bekend gemaak en gesê: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die landstreek van Benjamin na jou stuur. Jy moet hom salf as 'n leier oor my volk Israel, sodat hy my volk kan verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk raakgesien, ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom verseker: “Hier is die man van wie Ek vir jou gesê het, ‘Dit is hy wat oor my volk beheer sal uitoefen.’ ” Saul het Samuel in die dorpspoort genader en gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis?” Daarop antwoord Samuel toe vir Saul en sê: “Ek is die siener. Gaan voor my op na die offerhoogte en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend wegsien en oor alles wat op jou hart druk, vir jou duidelikheid gee. Wat die donkiemerries betref waarna jy vandag drie dae lank al op soek is: Moet jou nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al die kosbaarhede van Israel? Is dit nie aan jou en jou familie nie?” Saul het egter daarop gereageer en gesê: “Is ek nie maar net 'n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel, en is my familiegroep nie die kleinste van al die familiegroepe van die stam van Benjamin nie? Waarom sê u so iets vir my?”