Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom. Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?”
Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien. Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.”
Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.
Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.”
Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie.
Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.”
Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”
Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.”
Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!”
Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.
Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”
Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.
Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan.
Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.
Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe.
Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout.
Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.”
Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen.
Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak.
Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.
Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”
Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.
Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”
Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.”
Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak.
Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.”
Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.”
Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.”
Dit het sewe keer gebeur. Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.”
Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.”
Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery.
Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.