1 KONINGS 18:16-46
1 KONINGS 18:16-46 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom. Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?” Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien. Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.” Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom. Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het hom nie 'n woord geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.” Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies 'n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.” Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!” Daar was nie 'n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het. Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak. Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en 'n behoorlike sloot daar rondom gegrawe. Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout. Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.” Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog 'n keer gedoen. Toe sê hy: “Doen dit 'n derde keer,” en hulle het weer so gemaak. Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek. Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.” Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak. Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.” Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.” Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.” Dit het sewe keer gebeur. Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.” Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.” Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery. Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.
1 KONINGS 18:16-46 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Obadja het Agab tegemoetgegaan en hom ingelig. Daarop het Agab gegaan om Elia te ontmoet. Toe Agab vir Elia sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, die een wat Israel in die ongeluk stort? ” Maar hy antwoord: “Ek het Israel nie in die ongeluk gestort nie, maar dit is jy en jou familie, deurdat julle die gebooie van die HERE verontagsaam het, en deurdat jy agter die Baäls aangeloop het. Daarom, stuur boodskappers uit, bring die hele Israel by my byeen op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjera wat aan die tafel van Isebel eet.” Agab het boodskappers uitgestuur na al die Israeliete, en die profete byeengebring by die berg Karmel. Elia het nader gegaan na die hele volk en gesê: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die HERE God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom. ” Maar die volk het hom nie met 'n enkele woord geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as die profeet van die HERE, maar die profete van Baäl is vierhonderd-en-vyftig man. Hulle moet vir ons twee bulle gee. Hulle moet vir hulle 'n bul kies, dit opsny en op die hout neersit, maar kole vuur mag hulle nie gebruik nie. Ek sal die ander bul voorberei en op die hout plaas, maar kole vuur sal ek nie gebruik nie. Dan moet julle die naam van julle god aanroep, en ek sal die Naam van die HERE aanroep. Die god wat met vuur antwoord, Hy is God. ” Die hele volk het daarop gereageer en gesê: “Dit is goed so.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle 'n bul en berei eerste voor, want julle is die meeste. Roep dan die naam van julle god aan, maar kole vuur mag julle nie gebruik nie.” Hulle neem toe die bul wat vir hulle gegee is, berei dit voor en roep van die oggend tot die middag die naam van Baäl aan, met die woorde: “Baäl, antwoord ons!” Maar daar was geen stem nie en niemand wat antwoord nie. Hulle het hink-hink gedans by die altaar wat voorberei is. Teen die middag het Elia hulle gespot en gesê: “Roep harder, want hy is mos 'n god! Hy is dalk ingedagte, of hy sonder hom af, of is op pad. Dalk is hy aan die slaap en moet wakker word.” Hulle het toe harder geroep en, soos hulle gewoonte was, hulleself met swaarde en steekspiese stukkend gekerf totdat die bloed oor hulle geloop het. Ná die middag het hulle waansinnig te kere gegaan, totdat dit tyd was vir die bring van die •graanoffer. Daar was egter geen stem nie, nie een wat antwoord nie, en geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom nader na my toe!” Die hele volk het nader gestaan na hom toe. Hy herstel toe die altaar van die HERE wat afgebreek was. Elia het twaalf klippe geneem, in ooreenstemming met die getal van die stamme van die seuns van Jakob, vir wie die HERE gesê het: “Israel sal jou naam wees.” Hy het met die klippe in die Naam van die HERE 'n altaar gebou en 'n watervoor wat ongeveer twee sea saad kon hou, rondom die altaar gegrawe. Hy het die hout gerangskik, die bul opgesny en op die hout neergesit. Toe sê hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit oor die •brandoffer en die hout.” Hy sê toe: “Doen dit weer!” Hulle het dit weer gedoen. Daarna sê hy: “Doen dit 'n derde keer!” Hulle het dit 'n derde keer gedoen. Die water het rondom die altaar geloop. Die water het selfs die voor volgemaak. Toe dit tyd was vir die bring van die graanoffer, het Elia, die profeet, na vore getree en gesê: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God is in Israel en dat ek u dienskneg is, en dat dit op gesag van u woord is dat ek al hierdie dinge gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan weet dat U, HERE, die God is, en dat dit U is wat hulle harte weer laat terugkeer.” Toe slaan die vuur van die HERE neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek. Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die HERE, Hy is God! Die HERE, Hy is God!” Elia sê toe vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Niemand van hulle moet wegkom nie!” Hulle het hulle gegryp, en Elia het hulle afgeneem na die spruit Kison en hulle daar omgebring. Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan! Eet en drink, want ek hoor die geruis van reën.” Agab het gegaan om te eet en drink, maar Elia het na die kruin van Karmel opgegaan en geboë op die grond gaan sit met sy kop tussen sy knieë. Hy het vir sy dienaar gesê: “Gaan asseblief boontoe en kyk uit in die rigting van die see.” Hy gaan toe boontoe en kyk uit, maar sê: “Daar is niks nie.” Elia sê toe: “Gaan weer! Doen dit sewe keer!” Die sewende keer sê hy toe: “Daar kom 'n wolkie so klein soos die palm van 'n man se hand uit die see op!” Toe sê Elia: “Gaan! Sê vir Agab, ‘Span in en gaan af, sodat die reën jou nie terughou nie.’ ” In 'n oogwink het die hemelruim donker geword van wolke en wind, en 'n geweldige reënbui het uitgesak. Agab het op sy strydwa geklim en na Jisreël gegaan. Die hand van die HERE het van Elia besit geneem. Hy het sy kleed opgebind en voor Agab uit gehardloop tot by Jisreël.
1 KONINGS 18:16-46 Die Boodskap (DB)
Obadja is daar weg en het vir Agab gaan sê waar Elia is. Agab is onmiddellik na Elia toe. Toe Agab hom sien, het hy vir Elia gesê: “Ja, jou onrusstoker. Al wat jy in Israel doen, is om moeilikheid te maak.” “Dit is nie ek wat al die ellende in Israel veroorsaak het nie, U Majesteit, maar u en u pa,” het Elia gesê. “Dit is u wat die Here verlaat en Baäl aanbid het. Gebruik nou u gesag en laat die hele Israel saam met my op die berg Karmel bymekaarkom. Bring ook die 450 profete van Baäl saam, asook die 400 profete van Asjera vir wie Isebel kos en klere gee.” Agab het toe die hele Israel en al die Baälprofete beveel om saam op Karmel bymekaar te kom. Toe almal daar bymekaar was, het Elia vir hulle gesê: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” Die volk het doodstil gesit en nie ’n woord gesê nie. “Ek is die enigste profeet van die Here wat vandag hier is terwyl hier 450 Baälprofete teenwoordig is,” het Elia gesê. “Bring nou vir ons twee bulle. Laat die Baälprofete vir hulle ’n bul uitsoek, dit in stukke sny en op die hout sit. Moet net nie dat hulle die vuur aansteek nie. Ek sal die ander bul vat, dit slag en op die hout sit. Ek sal dit ook nie self aansteek nie. Laat die Baälprofete dan vir Baäl vra om die vuur aan te steek en ek sal die Here vra. Wie die vuur aansteek, is die enigste ware God.” Die volk het hierdie voorstel van Elia aanvaar. Elia het toe vir die Baälprofete gesê: “Julle is die meeste; daarom moet julle eerste begin. Kies vir julle ’n bul, slag dit en sit dit op die hout. Moet dit nie self aansteek nie, maar vra julle god om dit te doen.” Die Baälprofete het ’n bul gekies, dit geslag en op die hout neergesit. Toe het hulle tot Baäl begin bid. Hulle het van die oggend tot die middag gebid. Hulle het aanmekaar gesê: “Baäl, antwoord ons,” maar net mooi niks het gebeur nie. Uit radeloosheid het die Baälprofete om die altaar begin dans wat hulle gemaak het. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.” Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.” Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog. Toe die mense dit sien, het hulle op die grond neergeval en hard uitgeroep: “Die Here is die enigste ware God! Die Here is die enigste ware God!” Toe sê Elia vir die mense: “Gryp die Baälprofete. Moenie dat een wegkom nie.” Elia het hulle toe na die Kisonrivier geneem en gesorg dat hulle almal doodgemaak word. Elia het toe vir Agab gesê: “Meneer, u kan maar huis toe gaan en solank begin feesvier, want ek hoor al die plofgeluid van ’n stortreën.” Terwyl Agab feesvier, het Elia na die bopunt van die berg Karmel toe gestap. Daar het hy neergebuig en sy kop tussen sy knieë gesit. Elia het vir sy helper gesê: “Klim nog hoër en kyk na die see se kant toe.” Die helper het teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia het sewe keer vir hom gesê om te gaan kyk. Toe hy die sewende keer weer gaan kyk, het hy iets gesien. “Meneer,” het hy gesê, “ek sien ’n wolkie so groot soos ’n man se hand. Dit kom van die see se kant af.” Elia het vir hom gesê: “Gaan sê gou vir die koning hy moet vinnig huis toe ry anders gaan hy natreën.” Skielik was die hemel vol swart wolke en ’n groot donderstorm het losgebars. Agab is net betyds in sy wa terug Jisreël toe. Die Here het Elia wonderlike krag gegee sodat hy sy lang kleed om sy heupe vasgebind het en tot by die afdraaipad na Jisreël toe voor Agab se wa uit gehardloop het.
1 KONINGS 18:16-46 Bybel vir almal (ABA)
Obadja het dit vir Agab gaan vertel, en Agab het gekom om vir Elia te ontmoet. Toe hy vir Elia sien, sê hy: “Is dit jy, jy wat die dood in die land Israel bring?” Elia het vir Agab gesê: “Dit is nie ék wat die dood in die land Israel bring nie. Jý en jóú familie het dit gedoen toe julle opgehou het om gehoorsaam te wees aan die wette van die Here en toe julle die Baäls begin dien het. Maar nou, stuur boodskappers en sê al die leiers van Israel moet bymekaarkom op Karmel-berg, en ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat kos kry by Isebel.” Agab het boodskappers gestuur na al die Israeliete toe en hy het die profete laat bymekaarkom op Karmel-berg. Elia het naby al die mense van Israel kom staan en gevra: “Hoe lank wil julle wag voordat julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here God is, dan moet julle Hóm dien. Of, as Baäl God is, dan moet julle hóm dien.” Die mense het hom nie geantwoord nie, hulle het stilgebly. Toe sê Elia vir die mense: “Ek het alleen oorgebly van al die profete van die Here, maar daar is 450 profete van Baäl. Gee vir ons twee bulle. Die profete van Baäl moet vir hulle een bul kies. Hulle moet dit in stukke sny en op die hout op die altaar neersit, maar hulle moenie dan vuur op die altaar begin maak nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal dit op die hout sit en ek sal nie vuur op die altaar maak nie. Dan moet die profete van Baäl tot hulle god bid, en ek sal tot die Here bid. Die god wat met vuur antwoord en wat die hout op die altaar laat brand, Hý is God.” Al die mense het geantwoord: “Dit is goed.” Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.” Die profete van Baäl het die bul geneem wat Elia vir hulle gegee het. Hulle het dit gereedgemaak en hulle het tot Baäl gebid. Hulle het van die oggend tot die middag aangehou bid en gesê: “Baäl, help ons.” Maar niks het gebeur nie, niemand het geantwoord nie. Die profete van Baäl het nie geweet wat om te doen by die altaar wat hulle gemaak het nie. Toe dit middag word, het Elia hulle gespot en gesê: “Julle moet harder skree, want Baäl is 'n god. Miskien is hy besig om te dink, of miskien is hy in die toilet, of miskien het hy gaan stap. Miskien slaap hy en iemand moet hom gaan wakker maak.” Die profete het hard geskree en hulle het gedoen wat hulle altyd gedoen het wanneer hulle ge-offer het: Hulle het hulleself stukkend gesny met swaarde en spiese totdat hulle rooi van die bloed was. Die middag het verbygegaan. Hulle het aangehou bid tot laat die middag. Dit was die tyd wanneer die priesters altyd die koring-offer gebring het. Maar daar het niks gebeur nie, niemand het geantwoord nie, Baäl het nie gehoor nie. Toe het Elia vir al die mense gesê: “Kom nader na my toe.” Hulle het nader gekom. Elia het die altaar van die Here wat stukkend was, weer reggemaak. Hy het twaalf klippe geneem, een vir elke stam, die nageslag van die seuns van Jakob. Jakob was die man vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Elia het die klippe in die altaar van die Here ingebou. Rondom die altaar het Elia 'n sloot gegrawe. Die sloot was so diep dat dit twee sea saad kon hou. Daarna het hy die hout reggesit en die bul in stukke gesny en bo-op die hout gesit. Toe sê Elia: “Julle moet vier kruike vol water maak en dit oor die brand-offer en die hout uitgooi.” Elia het gesê hulle moet dit weer doen, en toe ook 'n derde maal. Die water het oor die altaar geloop en dit het ook die sloot volgemaak. Laat die middag, toe dit tyd was om die koring-offer te bring, het die profeet Elia by die altaar gaan staan en hy het gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat almal vandag sien dat U die God in die land Israel is. Laat almal ook sien dat ek u dienaar is, en dat dit U is wat vir my gesê het ek moet al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie mense kan weet dat U, die Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte verander.” Daar het toe vuur van die Here afgekom. Dit het die brand-offer en die hout en die klippe en die grond alles verbrand. Daar was nie meer water in die sloot nie, die sloot het droog geword. Toe die mense dit sien, het hulle almal gebuig, hulle gesigte was teen die grond. Hulle het gesê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!” Elia het vir hulle gesê: “Vang die profete van Baäl, julle moenie dat een van hulle wegkom nie!” Hulle het die profete gevang, en Elia het die profete laat bring na die Kison-rivier. Daar het hy hulle doodgemaak. Toe het Elia vir Agab gesê: “Jy moet gaan eet, want ek hoor al klaar hoe val die reën.” Agab het gaan eet, en Elia het tot bo-op Karmel-berg geklim. Daar het hy gebuig tot teen die grond en hy het sy kop tussen sy knieë gesit. Hy het vir die jongman by hom gesê: “Gaan asseblief op en gaan kyk na die see.” Die jongman het hoër opgegaan en gekyk en gesê: “Daar is niks.” Elia het gesê die jongman moet weer gaan kyk, sewe maal. En toe die jongman dit die sewende maal gedoen het, het hy kom sê: “Daar kom 'n klein wolkie op uit die see, die wolkie is so groot soos 'n man se hand.” Toe sê Elia: “Gaan sê vir Agab hy moet sy perde inspan en afgaan. As hy dit nie doen nie, dan sal die reën hom keer en hy sal nie kan wegkom nie.” Terwyl Elia gepraat het, het die lug swart geword van die wolke en daar was wind en baie reën. Agab het op sy wa geklim en hy het na die stad Jisreël gegaan. Maar die Here het vir Elia sterk gemaak. Elia het sy klere vasgebind en hy het voor Agab gehardloop tot by Jisreël.
1 KONINGS 18:16-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elía tegemoetgegaan. En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het. Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet. En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie. Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed. Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie. En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: O Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie. Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders — tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees — en hy bou met die klippe 'n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy 'n sloot gemaak rondom die altaar, 'n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God! Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag. Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer — sewe maal. En die sewende maal roep hy: Daar gaan 'n wolkie soos 'n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. En in 'n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en 'n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël; maar die hand van die HERE was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.
1 KONINGS 18:16-46 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Obádja Agab tegemoet gegaan en hom meegedeel, en Agab het Elia tegemoetgegaan. En toe Agab Elía sien, sê Agab vir hom: Is jy die een wat Israel verskrik? En hy antwoord: Ek het Israel nie verskrik nie; maar jy en jou vader se huis, deurdat julle die gebooie van die HERE verlaat het en die Baäls gevolg het. Stuur dan nou en versamel vir my die hele Israel op die berg Karmel, en die profete van Baäl vier honderd en vyftig en die profete van die heilige boomstamme vier honderd wat aan Isebel se tafel eet. Agab het toe na al die kinders van Israel gestuur en die profete bymekaar laat kom op die berg Karmel. En Elía het na die hele volk gekom en gesê: Hoe lank staan julle tussen twee gedagtes? as die HERE God is, volg Hom na; maar as Baäl is, volg Hom dan. En die skare het hom geen woord geantwoord nie. Toe sê Elía vir die volk: Ek alleen bly 'n profeet van die HERE; maar die profete van Baäl is vier honderd en vyftig man. Laat hulle dan vir ons twee bulle gee; en laat hulle vir hulle een bul uitkies en hom in stukke sny en hom op hout sit en geen vuur onder sit nie; en Ek sal die ander bul bewerk en hom op hout sit en geen vuur onder sit nie. En roep die Naam van julle gode aan, en ek sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, laat hy God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Dit is goed gespreek. En Elía het aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak hom eers gereed; want julle is baie; en roep die naam van julle gode aan, maar sit geen vuur onder nie. En hulle het die bul wat aan hulle gegee is, geneem en dit bewerk en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: O Baäl, luister na ons! Maar daar was geen stem nie, ook nie iemand wat geantwoord het nie. En hulle het opgespring op die altaar wat gemaak is. En op die middag het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard, want hy is 'n god; óf hy praat, óf hy jaag na, óf hy is op reis, of miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hardop geroep en hulleself volgens hulle manier met messe en lansette gesny totdat die bloed op hulle uitgestroom het. En toe die middag verby was, en hulle geprofeteer het tot op die tyd van die offer van die aandoffer, was daar geen stem of iemand om te antwoord of iemand wat ag geslaan het nie. Toe sê Elía aan die hele volk: Kom nader na my toe. En die hele volk het nader gekom na hom. En hy het die altaar van die HERE wat afgebreek was, herstel. En Elía het twaalf klippe geneem volgens die getal van die stamme van die seuns van Jakob tot wie die woord van die HERE gekom het en gesê het: Israel sal jou naam wees. En hy het met die klippe 'n altaar gebou in die Naam van die HERE; en hy het 'n sloot rondom die altaar gemaak, so groot dat dit twee mate saad kon bevat. En hy het die hout in orde gebring en die bul in stukke gesny en hom op die hout neergelê en gesê: Maak vier vate vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede keer. En hulle het dit die tweede keer gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde keer. En hulle het dit die derde keer gedoen. En die water het om die altaar geloop; en hy het ook die sloot met water gevul. En in die tyd van die offer van die aandoffer het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is! en dat ek u dienaar is, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Luister na my, HERE, luister na my, sodat hierdie volk kan weet dat U die HERE God is, en dat U hulle hart teruggekeer het. Toe het die vuur van die HERE geval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer en die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is die God! die HERE, Hy is die God. Toe sê Elía vir hulle: Neem die profete van Baäl; laat nie een van hulle ontsnap nie. En hulle het hulle geneem, en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar gedood. Toe sê Elía vir Agab: Staan op, eet en drink; want daar is 'n geluid van oorvloed van reën. Agab het toe opgegaan om te eet en te drink. En Elía het opgegaan na die top van Karmel; en hy het hom op die aarde neergewerp en sy gesig tussen sy knieë gesit, En hy sê vir sy dienaar: Gaan nou op, kyk na die see. En hy het opgegaan en gekyk en gesê: Daar is niks nie. En hy sê: Gaan weer sewe maal. En op die sewende keer het hy gesê: Kyk, daar kom 'n wolkie uit die see op soos 'n man se hand. En hy sê: Trek op en sê vir Agab: Maak jou strydwa gereed en klim af, dat die reën jou nie keer nie. En dit het intussen gebeur dat die hemel swart was van wolke en wind, en daar was 'n groot reën. En Agab het gery en na Jisreël gegaan. En die hand van die HERE was op Elía; en hy het sy lendene omgord en voor Agab gehardloop tot by die ingang van Jísreël.
1 KONINGS 18:16-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Obadja het toe gegaan en vir Agab vertel dat Elia gekom het. Agab het toe vir Elia gaan ontmoet. “Is dit jy, jou moeilikheidmaker in Israel?” vra Agab toe hy hom sien. “Ek het geen moeilikheid vir Israel gemaak nie,” antwoord Elia. “Jy en jou familie is die moeilikheidmakers, want julle het nie die gebooie van die HERE gehoorsaam nie en eerder die Baäls aanbid. Maar laat die volk van Israel op Karmelberg bymekaarkom. Ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat Isebel onderhou, moet daar wees.” Agab het toe die hele volk en die profete op Karmelberg bymekaar laat kom. Elia het voor hulle gaan staan en gesê: “Hoe lank gaan julle nog weier om kant te kies? As die HERE God is, volg Hom! Maar as dit Baäl is, volg hóm!” Die volk het egter niks geantwoord nie. Toe sê Elia vir die volk: “Ek is die enigste profeet van die HERE wat nog oor is, terwyl daar 450 profete van Baäl is. Bring nou twee bulle. Die profete van Baäl kan een kies, hom in stukke opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Hulle moet dit egter nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander bul opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Ek sal dit ook nie aan die brand steek nie. Dan moet julle julle god aanroep en ek sal die HERE aanroep. Die een wat met vuur antwoord, is die ware God!” Die hele volk het met hierdie reëling saamgestem. Elia sê toe vir die profete van Baäl: “Kies julle nou ’n bul en kry dit gereed, want daar is baie van julle. Roep dan julle god aan, maar moenie die vuur aan die brand steek nie.” Hulle het een van die bulle gekies en gereed gekry. Toe roep hulle Baäl aan. Hulle het die hele oggend geroep: “O Baäl, antwoord ons!” Daar was egter geen reaksie nie en niemand het geantwoord nie. Hulle het selfs al om die altaar wat hulle gemaak het, gedans. Teen die middag het Elia hulle begin spot. “Julle moet nog harder roep,” spot hy. “Hy is mos ’n god! Dalk is hy ingedagte, of dalk het hy ’n draaitjie gaan loop. Miskien is hy weg op reis, of slaap hy en moet wakker gemaak word!” Hulle het toe al harder geroep en – soos hulle gebruik was – hulleself met messe en swaarde stukkend gesny totdat die bloed geloop het. Hulle het die hele namiddag so aangehou totdat die tyd vir die aandoffer aangebreek het. Maar steeds was daar geen geluid nie, geen antwoord nie, niemand wat gereageer het nie. Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die HERE wat afgebreek was, herstel het. Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die HERE gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die HERE reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou. Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê. Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het. Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak. Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “HERE, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het. HERE, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.” Onmiddellik het daar vuur van die HERE gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog! Toe die volk dit sien, val hulle op die grond en roep uit: “Die HERE is God! Die HERE is God!” Elia beveel hulle toe: “Gryp die profete van Baäl. Moenie dat ’n enkele een van hulle wegkom nie!” Die volk het hulle gegryp en Elia het hulle na die Kisonspruit laat afneem. Hy het hulle daar doodgemaak. Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!” Agab het toe gaan eet en drink, maar Elia het tot op die top van Karmelberg geklim. Daar het hy met sy kop tussen sy knieë op die grond neergebuig. Hy sê toe vir sy dienaar: “Gaan kyk uit oor die see.” Die dienaar het gekyk, na Elia toe teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia sê vir hom: “Gaan kyk weer!” Sewe keer het Elia hom gestuur. Die sewende keer kom sê die dienaar: “Ek sien ’n klein wolkie so groot soos ’n man se hand wat uit die see opkom.” Toe sê Elia: “Maak gou! Gaan sê vir Agab: ‘Span jou wa in en gaan af na jou huis toe anders sal die reën jou vaskeer!’” Spoedig was die lug donker van onweerswolke. ’n Sterk wind het ’n groot reënstorm gebring. Agab het dadelik na Jisreël toe vertrek. Die HERE het Elia krag gegee. Hy het sy gordel vasgemaak en toe voor Agab se wa uit gehardloop tot by Jisreël.