1 KONINGS 12:20-33

1 KONINGS 12:20-33 AFR83

Toe die Israeliete verneem dat Jerobeam teruggekom het uit Egipte, het hulle hom na 'n volksvergadering toe laat kom en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand behalwe die Judastam het die koningshuis van Dawid aangehang nie. Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: “Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk: So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!” Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het. Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en daar gaan woon. Later het hy daar weggetrek en Pniël herbou. Jerobeam het by homself gedink: netnou gaan die koningskap terug na die huis van Dawid; as hierdie volk na Jerusalem toe gaan om daar by die tempel van die Here te gaan offer, sal hulle weer hulle koning Rehabeam, koning van Juda, aanhang; hulle sal my doodmaak en weer agter koning Rehabeam aangaan. Koning Jerobeam het toe met sy raadgewers oorleg gepleeg en twee goue kalwerbeelde laat maak. Toe sê hy: “Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.” Jerobeam het die een beeld in Bet-El opgestel en die ander in Dan. Dit het die volk tot sonde verlei: hulle het selfs die een beeld na Dan toe begelei. Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou en hy het mense uit die volk wat nie Leviete was nie, as priesters aangestel. Verder het hy op die vyftiende dag van die agste maand 'n fees gehou net soos die fees in Juda. Hy het in Bet-El vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het, offers gebring op die altaar, en hy het daar priesters aangestel vir die hoogtes wat hy ingerig het. Op die vyftiende van die agste maand het Jerobeam 'n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El opgerig het. Hy het sommer self besluit oor die maand waarin die Israeliete die fees moes vier. Net toe hy daar op die altaar die offer aan die brand steek