1 KONINGS 12:20-33
1 KONINGS 12:20-33 Bybel vir almal (ABA)
Toe al die mense van Israel hoor dat Jerobeam teruggekom het, het hulle hom laat roep na die vergadering van die leiers en hulle het hom koning gemaak van al die mense van Israel. Niemand het by die koningshuis van Dawid gebly nie, net die mense van die Juda-stam het by Rehabeam gebly. Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam seun van Salomo wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land terug te kry. Maar God het vir Semaja, 'n man van God, gesê: “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met die hele Juda-stam en die Benjamin-stam en die ander mense. Jy moet vir hulle sê: Die Here sê: Julle moenie gaan oorlog maak teen julle broers, die mense van Israel, nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.” Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan soos Hy gesê het. Jerobeam het die stad Sigem in die Efraim-berge weer gebou en hy het daar gaan woon. Hy het later daar weggegaan en hy het die stad Pniël gaan bou. Hy het gedink: Miskien sal die mense van my land teruggaan na die koningshuis van Dawid. As hulle aanhou om offers te gaan bring in die tempel in Jerusalem, dan sal hulle weer aan hulle koning wil behoort, aan Rehabeam koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en na Rehabeam toe teruggaan. Koning Jerobeam het toe vir sy raadgewers gevra wat hy moet doen, en hy het twee goue kalfbeelde laat maak. Hy het vir sy mense gesê: “Mense van Israel, julle het lank na Jerusalem gegaan, maar hier is nou julle gode wat vir julle uit die land Egipte gebring het.” Hy het die een kalfbeeld in die stad Bet-El gesit en die ander kalfbeeld in die stad Dan. Hierdie ding het die volk sonde laat doen. Hulle het saam met die kalfbeeld gegaan tot by Dan. Jerobeam het tempels by die offer-plekke laat bou en hy het priesters gekies en aangestel, die priesters was nie van die Levi-stam nie. Hy het 'n fees op die 15de dag van die agste maand laat vier, soos die fees in Juda. Hy het na die altaar in Bet-El gegaan en hy het offers gebring vir die kalfbeelde wat hy laat maak het. Hy het priesters gekies en aangestel vir die offer-plekke wat hy laat bou het. Op die 15de dag van die agste maand het Jerobeam 'n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El laat bou het. Hy het self besluit dat die mense van Israel daardie dag moet feesvier.
1 KONINGS 12:20-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Sodra die hele Israel gehoor het dat Jeróbeam terug was, het hulle hom na die vergadering laat roep en hom oor die hele Israel koning gemaak; niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen. En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin, honderd-en-tagtigduisend strydbare jong manskappe, vergader om oorlog te voer teen die huis van Israel, om die koningskap vir Rehábeam, die seun van Salomo, terug te win. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en die orige deel van die volk en sê: So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers, die kinders van Israel, oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis; want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woord van die HERE en weer teruggetrek volgens die woord van die HERE. En Jeróbeam het Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gewoon, en daarvandaan uitgetrek en Pnuel gebou. EN Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koningskap na die huis van Dawid terugkeer: as hierdie volk opgaan om offers te bring in die huis van die HERE in Jerusalem, dan sal die hart van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehábeam, die koning van Juda, en hulle sal my om die lewe bring en teruggaan na Rehábeam, die koning van Juda. Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem — hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het! En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel. En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan aanbid tot by Dan. Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie. En Jeróbeam het 'n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Juda was, en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het. En hy het geklim op die altaar wat hy in Bet-el gemaak het, op die vyftiende dag in die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir die kinders van Israel 'n fees ingestel en op die altaar geklim om offerrook te laat opgaan.
1 KONINGS 12:20-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die Israeliete verneem dat Jerobeam teruggekom het uit Egipte, het hulle hom na 'n volksvergadering toe laat kom en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand behalwe die Judastam het die koningshuis van Dawid aangehang nie. Dadelik nadat Rehabeam in Jerusalem terug was, het hy honderd en tagtig duisend uitgesoekte manne uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel te veg en die koningskap vir hom terug te wen. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom en gesê: “Sê vir koning Rehabeam van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin, en vir die res van die volk: So sê die Here: Moenie optrek en teen die Israeliete, julle broers, veg nie. Gaan terug elkeen na sy huis toe, want wat gebeur het, kom van My af!” Hulle het geluister na die woorde van die Here en teruggegaan huis toe soos Hy beveel het. Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en daar gaan woon. Later het hy daar weggetrek en Pniël herbou. Jerobeam het by homself gedink: netnou gaan die koningskap terug na die huis van Dawid; as hierdie volk na Jerusalem toe gaan om daar by die tempel van die Here te gaan offer, sal hulle weer hulle koning Rehabeam, koning van Juda, aanhang; hulle sal my doodmaak en weer agter koning Rehabeam aangaan. Koning Jerobeam het toe met sy raadgewers oorleg gepleeg en twee goue kalwerbeelde laat maak. Toe sê hy: “Julle het lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel; hier is nou die beelde van julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.” Jerobeam het die een beeld in Bet-El opgestel en die ander in Dan. Dit het die volk tot sonde verlei: hulle het selfs die een beeld na Dan toe begelei. Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou en hy het mense uit die volk wat nie Leviete was nie, as priesters aangestel. Verder het hy op die vyftiende dag van die agste maand 'n fees gehou net soos die fees in Juda. Hy het in Bet-El vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het, offers gebring op die altaar, en hy het daar priesters aangestel vir die hoogtes wat hy ingerig het. Op die vyftiende van die agste maand het Jerobeam 'n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El opgerig het. Hy het sommer self besluit oor die maand waarin die Israeliete die fees moes vier. Net toe hy daar op die altaar die offer aan die brand steek
1 KONINGS 12:20-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die hele Israel hoor dat Jerobeam teruggekeer het, het hulle hom na die volksvergadering ontbied en hom koning gemaak oor die hele Israel. Niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen. Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, roep hy die hele huis van Juda en die stam van Benjamin byeen – honderd-en-tagtigduisend uitgesoektes wat kan oorlog maak – om teen die huis van Israel te veg en die koningskap vir Rehabeam, seun van Salomo, terug te kry. Maar die woord van God het tot Semaja, die man van God, gekom: “Sê vir Rehabeam, seun van Salomo, die koning van Juda, en vir die hele huis van Juda en Benjamin, asook die res van die volk, ‘So sê die HERE: “Julle mag nie optrek nie, en julle mag nie teen julle broers, die Israeliete, veg nie. Keer terug, elkeen na sy huis, want wat gebeur het, is deur my toedoen. ” ’ ” Hulle het die woord van die HERE gehoorsaam en teruggegaan volgens die woord van die HERE. Jerobeam het Sigem in die heuwelland van Efraim versterk en daarin gaan woon. Toe het hy daarvandaan uitgetrek en Pniël versterk. Jerobeam het in sy hart gesê: Nou gaan die koningskap terugkeer na die huis van Dawid. As hierdie volk optrek om offers te bring in die huis van die HERE in Jerusalem, sal die harte van hierdie volk terugkeer na hulle heer, na Rehabeam, die koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda. Nadat die koning raad gevra het, het hy twee goue kalwers laat maak en vir die mense gesê: “Lank genoeg het julle nou na Jerusalem opgetrek! Hier is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het! ” Hy het die een in Bet-El geplaas; die ander een het hy in Dan geplaas. Hierdie saak het tot sonde gelei; die volk het selfs tot in Dan gegaan om voor die een daar te aanbid. Verder het Jerobeam tempels op die offerhoogtes opgerig en priesters aangestel uit alle dele van die volk. Hulle was nie uit die nageslag van Levi nie. Jerobeam het 'n fees ingestel in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soortgelyk aan die fees wat in Juda gehou is. Hy het self op die altaar geklim. So het hy in Bet-El gemaak – om te offer aan die kalwers wat hy gemaak het. Hy het in Bet-El die priesters van die offerhoogtes wat hy opgerig het, laat diens doen. Hy het op die altaar geklim wat hy in Bet-El opgerig het op die vyftiende dag van die agtste maand, in die maand wat hy in sy eie hart versin het. Ja, hy het 'n fees ingestel vir die Israeliete en op die altaar geklim om 'n offer te verbrand.
1 KONINGS 12:20-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die hele Israel hoor dat Jeróbeam teruggekom het, het hulle gestuur en hom na die vergadering geroep en hom koning oor die hele Israel gemaak; daar was niemand wat die huis van Dawid gevolg het nie, behalwe die stam van Juda alleen. En toe Rehábeam in Jerusalem aangekom het, het hy die hele huis van Juda, met die stam van Benjamin, honderd en tagtig duisend uitverkore manne, wat krygsmanne was, bymekaar laat kom om te veg teen die huis van Israel, om die koningskap terug te bring na Rehábeam, die seun van Salomo. Maar die woord van God het tot Semája, die man van God, gekom en gesê: Spreek met Rehabeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele huis van Juda en Benjamin en met die oorblyfsel van die volk, en sê: So sê die HERE: Julle mag nie optrek en nie teen julle broers, die kinders van Israel, veg nie; keer terug, elkeen na sy huis; want hierdie ding is van my. Hulle het dan na die woord van die HERE geluister en teruggegaan om weg te gaan, volgens die woord van die HERE. Toe het Jeróbeam Sigem op die gebergte van Efraim gebou en daarin gaan woon; en daarvandaan uitgegaan en Pnuel gebou. En Jeróbeam het in sy hart gesê: Nou sal die koninkryk terugkeer na die huis van Dawid. As hierdie volk optrek om in die huis van die HERE in Jerusalem te offer, dan sal die hart van hierdie volk weer tot hulle heer, na Rehábeam, die koning van Juda, terugkeer, en hulle sal my doodmaak en weer na Rehábeam, die koning van Juda, gaan. Juda. Daarop het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en vir hulle gesê: Dit is te veel vir julle om na Jerusalem op te gaan; kyk, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het. En hy het die een in Bet-el gesit, en die ander een in Dan. En hierdie ding het sonde geword, want die volk het gegaan om voor die een te aanbid, tot by Dan. En hy het 'n huis van hoogtes gemaak en priesters aangestel van die laagstes van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie. En Jeróbeam het in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, 'n fees gehou, soos die fees wat in Juda is, en hy het op die altaar geoffer. So het hy ook in Bet-el gedoen deur aan die kalwers wat hy gemaak het, te offer; en hy het in Bet-el die priesters van die hoogtes wat hy gemaak het, aangestel. En hy het op die altaar geoffer wat hy in Bet-el gemaak het, op die vyftiende dag van die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart uitgedink het; en vir die kinders van Israel 'n fees gereël, en op die altaar gebring en reukwerk laat opgaan.
1 KONINGS 12:20-33 Die Boodskap (DB)
Nadat Jerobeam se terugkeer uit Egipte oral bekend geword het, het die mense hom na ’n groot volksbyeenkoms uitgenooi. Daar het hulle hom toe voor almal koning gemaak. So het Jerobeam die nuwe koning van Israel geword. In die suide het net die stam van Juda nog aan die huis van Dawid behoort. Rehabeam was woedend. Hy wou sy verlore koninkryk met alle geweld herwin. Terug in Jerusalem het hy 180 000 jong soldate uit die stamme Juda en Benjamin opgeroep. Maar die Here het vir die profeet Semaja gesê: “Gaan na Rehabeam, die seun van Salomo en die koning van Juda, en na die twee stamme Juda en Benjamin toe en sê vir hulle: ‘Moenie teen julle broers in die noorde gaan veg nie. Gaan liewer terug, want alles het volgens my wil gebeur.’” Al die manskappe het net daar omgedraai en teruggegaan huis toe. Jerobeam het Sigem op die Efraimsberg herbou en daar gaan bly. Na ’n ruk is hy daar weg en het in Penuël gaan bly. Jerobeam het oor alles nagedink en toe vir homself gesê: “Die kans is groot dat ek my koninkryk kan verloor. As hierdie volk elke keer Jerusalem toe moet gaan om daar in die tempel te gaan offer, sal hulle weer vir Rehabeam van Juda wil dien. Dit sal my einde beteken. Hulle sal my doodmaak en na Juda terugkeer.” Nadat Jerobeam ’n lang ruk daaroor gedink het, het hy besluit om twee goue kalwers te maak. Toe het hy vir sy mense gesê: “Julle het nou lank genoeg in Jerusalem gaan offer. Kyk, hier is die gode wat julle uit Egipte gelei het.” Hy het een van die goue kalwers in Bet-El en die ander een in Dan gesit. Wat Jerobeam gedoen het, was verkeerd. Die volk het gesondig deur in Bet-El en Dan te gaan offer. Jerobeam het nog verder gegaan en offerplekke op hoë plekke in die berge gebou. Hy het ook priesters aangestel wat nie eens Leviete was nie. Jerobeam het ook ’n spesiale feesdag ingestel, nes die feesdag in Juda. Dit is op die vyftiende dag van die agtste maand gevier en almal moes dit bywoon. Baie offers is op hierdie feesdag gebring vir die beelde wat hy laat maak het. En hy het ook die priesters wat hy self aangestel het daar laat optree. Jerobeam het hierdie feesdag ingestel om te keer dat sy mense Jerusalem toe gaan. Op die vyftiende dag het hy Bet-El toe gegaan en by die altaar gaan staan. Net toe hy die offervuur wou aansteek, het die profeet daar aangekom.
1 KONINGS 12:20-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Na die volk van Israel gehoor het dat Jerobeam terug was uit Egipte, het hulle hom na ’n vergadering laat kom en hom koning oor die hele Israel gemaak. Net die stam van Juda het getrou gebly aan die afstammelinge van Dawid. Toe Rehabeam in Jerusalem terugkom, het hy die leër van Juda en Benjamin opgeroep. Daar was 180 000 uitgesoekte soldate wat teen die leër van Israel kon optrek om die koningskap vir hom terug te wen. Maar God het vir Semaja, die man van God, beveel: “Gaan sê vir Rehabeam, die koning van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin en die res van die volk: ‘Dis wat die HERE sê: Moenie teen jou bloedverwante, die Israeliete, gaan veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die HERE gehoorsaam en terug huis toe gegaan soos die HERE beveel het. Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en dit sy hoofstad gemaak. Hy het later verhuis en Pniël herbou. Jerobeam het by homself gedink: “Die koningskap kan maklik weer teruggaan na die koningshuis van Dawid. As hierdie volk aanhou om Jerusalem toe te gaan om daar by die tempel van die HERE te offer, sal hulle weer vertroue kry in koning Rehabeam van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda.” Op advies van sy raadgewers het die koning toe twee goue beelde van kalwers gemaak. Hy sê toe: “Julle het nou lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel. Hier is die gode wat julle uit Egipte gebring het!” Hy het een kalwerbeeld in Bet-El opgerig en die ander een in Dan. Dit het die volk tot sonde verlei. Die volk het selfs saam in die optog na Dan toe gegaan. Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou, en het mense uit die volk wat nie uit die stam van Levi was nie, as priesters aangestel. Jerobeam het ’n fees in die middelherfs in Bet-El gehou net soos die een in Juda. In Bet-El het hy op die altaar offers gebring vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het. Hy het ook priesters aangestel vir die hoogtes in Bet-El. Op die bepaalde dag in middelherfs het Jerobeam offers gebring op die altaar in Bet-El. Hy het self besluit oor die datum van die fees wat hy vir die Israeliete ingestel het.